
Daar in die jare tagtig was Le Roux in 'n stadium The Citizen se sportsub.
Ek was sportredakteur en ons het toe nog ons kopie op sulke groen velletjies papier getik wat ons met spelde aan mekaar gesteek het.

Ek het om die hoek van hom gesit en ewe skielik ruik ek iets brand. Toe ek en Billy Cooper, destydse sokkerskrywer, kyk, het Le Roux die velletjies papier op die hout-lessenaar op 'n hopie gemaak – en aan die brand gesteek! Hoekom weet ek tot vandag toe nie. Dalk het die feit dat hy voor hy kom werk het in Vegkop was, iets daarmee te doen gehad.
Ek en Billy het gestorm en vlamme doodgeslaan vir 'n vale. Ons kon darem so twee en 'n halwe berigte red. Toe moes ons vinnig Sapa sub net om die blad vir die eerste uitgawe vol en betyds af te kry.
In die geharwar het Johnny Johnson, destydse hardekwas-redakteur van die Citizen, van die petalje te hore gekom. Hy het Le Roux summier deur die sekuriteitswagte laat uitgooi, waarna laasgenoemde skuiling in Vegkop (mos net oor die straat) gaan soek het.
Die volgende aand het ek Le Roux, uit die aard van die saak, weer in Vegkop raakgeloop.
Terwyl 'n paar van ons en hy rustig kuier, praat hy toe van 'n "hit list" wat hy opgestel het om mense wat hom in sy lewe te na gekom het, te "laat uitvat". Dit was natuurlik net Vegkop-praatjies!

Ek vra hom toe, baie nuuskierig, wie is tweede op die lys – diep onder die indruk dat ek en hy goeie pelle is – en ek derhalwe "veilig" en nie een van die ongelukkige siele is wat "uitgevat" gaan word nie.
Hy kyk my stip aan en sê: "Jy!!!"