Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.1.15

Operasie Krokodil – September 1970

PAUL KRUGER (destyds by Die Vaderland) skryf: Hierdie is die storie van die dag toe ek en fotograaf Gerrie Fourie oornag veldwagters van die destydse Natalse Parkeraad geword het.

Dit het alles begin met ‘n kort beriggie oor die teisterende droogte in die noorde van Zoeloeland. Verskeie riviere wat in die St Luciameer uitmond, het heeltemal opgedroog met net hier en daar ‘n seekoeigat en ‘n verdwaalde kuil wat nog ‘n bietjie water gehou het.

Daardie jare het ek ‘n noue verbintenis met toestande in Zoeloeland gehad, want dit was waar skoonpa Theuns van Rooijen noord van Hluhluwe met beeste geboer het. Hiervan het nuusredakteur Frans du Toit natuurlik geweet en opdrag gegee dat ek ‘n opvolgstorie oor die droogte daar moet doen, veral met betrekking tot die natuur- en wildlewe.

Die rooi dui 
St Luciameer aan
Met my navrae kom ek op ‘n storie af van die Natalse Parkeraad wat beplan om die krokodille te vang waar die Mkuze-rivier in die noorde van die meer uitmond en hulle na veiliger waters te verplaas, by wyse van spreke. Laasgenoemde beteken varser water waarin die visse nog leef en voedsel aan die krokodille kan voorsien. Indien hulle nie verplaas sou word nie, was doodgaan inderdaad hulle voorland.

Die soutgehalte van die water in die noorde van die meer was drie keer hoër as dié van die see. Dit was grootliks te wyte aan die feit dat die Mkuze-rivier se varswatervloei tot stilstand gekom het. Aan die suidekant mond die meer in die see uit en vloei die soutwater met ‘n omgekeerde aksie die meer in. Hoe verder weg van die monding, hoe varser die water en gee dit lewe aan die varswatergediertes.


Die vraag sou gevra kon word waarom met die werking van die natuur inmeng, maar soos Ian Player dit mooi gestel het, dis die mens wat met die negatiewe inmengery begin het, soos onder meer boerdery-aktiwiteite, nywerhede, ens wat die water in die bo-lope opgebruik en laer af die vloei tot stilstand gebring het.

Gerrie Fourie
Operasie Krokodil was gemik om balans in hierdie inmengery te bring. Die werklike vang van die krokodille was egter nie enige man se maat nie. Hoewel die diere in ‘n verswakte toestand was en hulle bewegings traag en moeisaam, was hulle nog so sterk soos ‘n bees en veral die swaai van die sterte was steeds baie gevaarlik. Die manne moes hulle vasvat ken en ek en Gerrie het by tye meegedoen en aan die vangtou geklou.

Dit dan wat die krokodilvangstorie betref, maar dan is daar die stories agter die storie.

Frans word volledig ingelig oor wat die Natalse Parkeraad beplan om te doen en hy is opgewonde, soos net hy oor ‘n storie opgewerk kon raak. Stadig bring ek hom weer terug aarde toe, en vra die vraag. Wat van die politiek? Soos wat die Krugerwildtuin en ander nasionale parke nie-amptelik in die wandelgange as Nat-instellings (Nasionale Party) bekend gestaan het, so was die natuurbewaringsgebiede van Natal as Sap-instellings (Verenigde Party) bekend.

Frans du Toit
Stories uit eersgenoemde kontrei is min of meer altyd deur die Arikaanse pers gedra, en in Natal het die Durbanse en Pietermaritzburgse Engelstalige koerante feitlik honderd persent alle stories vanuit die Natalse Parkeraad gedoen. Vir Frans het daar ‘n opdraande stryd gewag.

Enersyds moes hy die man met die dik brille in die hoekkantoor op die vierde verdieping oortuig om ‘n positiewe storie uit die Sap-kontrei te doen, en andersyds moes hy die Natalse Sap-vesting binnedring om te vra of Die Vaderland (die grootste Afrikaanse dagblad in die land) aan die Operasie Krokodil kon meedoen en daaroor berig.

Ian Player
Bo verwagting slaag hy daarin om albei kante se samewerking en toestemming te kry. Maar dis nie al nie, hy oortuig vir mnr Ian Player, (toe was hy nog nie doktor nie) hoofnatuurbewaarder van die Natalse Parkeraad in Zoeloeland, om die storie eksklusief vir Die Vaderland te gee met die belofte van sy kant dat dit groot gedra sal word.

Feit is dat wanneer die manne rondom die groot tafel gaan sit, hierdie storie in Afrikaans sommer baie gewig kon dra wanneer natuurbewaring, veral in Natal, op die agenda was.

Met hierdie gewigtige opdrag vertrek ek en Gerrie Zoeloeland toe. Daar het ons die dag voor die Operasie Krokodil in die Mkuze-wildtuin bymekaar gekom. Daar was ook onder meer die Lugmagpersoneel wat die reuse-Super Frelon-helikopter beman het.

Ian Player by een van sy krokodille
Om die operasie grondlangs uit te voer, was ‘n onmoontlikheid vanweë die onherbergsame gebied met min begaanbare paaie. Almal van ons, insluitende die personeel/veldwagters van die parkeraad sou voordag die volgende oggend met die Frelon na die terrein, die stilstaande monding van die Mkuze-rivier, vervoer word. Daar sou die helikopter ook die gevangde krokodille oor ‘n redelike groot afstand na die Nkazana-rivier by Eastern Shores vervoer.

Die krokodille is in ‘n groot, stewige net geplaas en deur die Frelon opgehys waar dit aan sy pens gehang het. Hierdie standhoudende riviertjie het met genoeg vars water in die meer uitgemond om die krokodille te red.

Die aand voor die operasie is daar verskeie kampvure aan die gang en staan Gerrie toe daar by die lugmagmanne en kuier. Op ‘n kol kom hy uitasem by my aan met die berig dat die “kaptein” (weet nie regtig of dit die bevelvoerder van die Frelon se rang was nie, maar Gerrie het hom ge-kaptein) dit baie duidelik gestel het dat hy nie civvies (burgerlikes) met die helikopter mag vervoer nie. Daar moet vorms ingevul word en dan gaan die klomp papierwerk sy gang deur die gange. Wat hy dus sê, is dat hierdie aksie nie in hierdie laatnaguur in die Zoeloelandse bosveld gaan gebeur nie. HK lê ver in Pretoria.

Paul Kruger (rooi kol) verleen hulp met Operasie Krokodil.
Daar staan ek en Gerrie in sak en as, wat nou? Daar is net een manier, rapporteer aan Ian Player. Hy staan toe by ‘n ander vuur besig om die volgende dag se logistiek met van sy senior manne te bespreek. Ek beweeg stadig in die ligkring in en vra een van die manne of hy nie vir die grootbaas sal vra of ek hom baie dringend kan spreek nie.

Ek vertel vir mnr Player van die kaptein se standpunt. Hy vou rustig sy arms met sy ken in sy linkerhand en hy staar in die vuur. Dan praat hy met ‘n doodsekerstem: “Come, let’s go”, en met dié stap hy reguit na die kaptein toe en groet hom vriendelik en hoor of alles wel daar by hulle vuur is.

Sonder om ons saak te bespreek of praatjies te maak, sê hy baie beleefd, kort en saaklik: “These two men (dis nou Gerrie en die uwe) have just been appointed as rangers of the Natal Parks Board and it is important that they fly with the rest of us tomorrow morning.” (Onse bekke neuk toe om oop te val, maar gelukkig hou ons onse ‘pose’.)

Die kaptein knik inskiklik dat daar nie probleme is nie en vlieg kan ons saamvlieg. Daardie aand het ons ‘n les in blitsige besluitneming geleer en met die wegstap het hy net kortweg gesê, “this is off the record”. En daar het dit gebly, tot nou toe.

Frans het die storie toe baie groot aangebied en daarmee is baie vriende gemaak en brûe gebou. Dit is net so jammer dat ek nie hierdie storie voor Ian Player se afsterwe geskryf het nie. Hy was ‘n man uit een stuk. Daar was baie wenners uit hierdie storie, nie die minste nie, die krokodille van St Luciameer.