CHRISTA DE VRIES skryf; As oud-Oggendbladder wou ek lankal ingeteken het op K'rant, maar uitstel het meegebring dat my bydrae nou 'n seer een is.
Ek sukkel vanaand om die woord "dood" hier te skryf, want doen ek dit, sal dit bly leef. Tog dwing dit my om vertel dat Jac de Vries, my man, op 17 Oktober 2021 oorlede is hier in Engeland ná‘n groot hartaanval die aand van die 15de. Hy sou vandeesmaand 79 gewees het.
Jac was adjunk-redakteur van Oggendblad toe ek (Christa Coetzer) in 1982 as joernalis daar begin werk het. Ek het soveel van die joernalistiek by hom geleer. Diegene van die redaksie wat ons onthou, sal verstaan dat dit amper logies was dat ons uiteindelik getroud is, sienende dat liefde sy eie paadjie volg.