Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.7.12

Vir Pretorianers was Die Transvaler sinoniem met Gus Cluver

ANDRIES BOTHA skryf: Vir Die Transvaler was Oom Gus Cluver Meneer Pretoria”. Vir Pretorianers was hy “Mnr Transvaler”.

En om te sê Oom Gus was ‘n “ware heer” is om die status te verhoog van mense wat al so bestempel is. Hy was inderdaad die oorspronklike heer. Die ander bloot
nabootsers.

Oom Gus was nie ’n telefoon-joernalis nie – hy het na staatskantore toe gestap of gery as dit te ver was om sy stories te gaan haal.

Kyk, hy hét mense geken. En húlle wou hom bitter graag ken. Daar was nie ’n politikus of stadsraadslid of senior staatsamptenaar wat nie graag daarmee wou spog dat hy dié nederige, hoflike, kort en altyd welgeklede mannetjie geken het nie.

Só het Oom Gus een aand ’n telefoonoproep van die destydse premier, John Vorster, ontvang en die gesprek het min of meer soos volg gelui:

“Naand, Gus, hoe gaan dit daar in Pretoria?”

“G-g-goed, d-d-dankie, John. Lyk my julle is baie b-b-besig daar in die K-k-kaap.”

“Gus, ek wil jou graag net inlig oor die kabinetskommeling.”

Hierop het Vorster aan hom die name genoem van ministers wat uitgelaat is, van die plaasvervangers en van verskuiwings in die kabinet.

Vorster: “Wat dink jy daarvan, Gus?"

Die nuwe kabinet is eers die volgende dag aangekondig met ’n spertyd om die oggendkoerante te pas.

Gus Cluver.  Altyd goedgeklee.
Dit was die vlak waarop Gus Cluver gemaklik beweeg het. Wat baie mense nie weet nie, is dat Oom Gus die Maties se rasieleier was in dieselfde jaar dat John Vorster voorsitter van die studenteraad van dié universiteit was.

Dit was ’n ervaring om saam met hom in die Constantiaklub, wat destyds in dieselfde gebou as Die Transvaler se Pretoria-kantoor in Andriesstraat was, te gaan eet. Nou kyk, dáár het die bloubloed van Pretoria behoorlik saamgedrom.

By al sy goeie hoedanighede het Oom Gus een fisieke tekortkoming gehad. Hy het gehakkel.

Eendag – dit was werklik ‘n reëndag – het ons eers ’n ander afspraak moes nakom en is toe sommer direk daarvandaan na die klub. Daar aangekom, het Oom Gus eers na die kleedkamer gestap, sy hoed afgehaal, sy reënjas uitgetrek en alles teen die muur opgehang. Daarop het gevolg hare reg stryk, hande was en toe’s ons die klub in.

Die meeste manne het nog in die sitkamer gesit en Oom Gus het my voorgestel as die koerant se “p-p-politieke k-k-korrespondent”. Eers was dit die “d-d-direkteur van o-o-onderwys” en toe “d-d-doktor u-u-u n-n – “

Val die man hom toe in die rede: “Van Rensburg, adjunk-direkteur van onderwys.”

Oom Gus: “Ja, n-n-natuurlik.”

Toe ons aanstap etenstafel toe sê Oom Gus toe ewe skalks: “Dis nou waar my h-h-hakkel h-h-handig te pas kom.”

Oom Gus was so bekend dat dit vir enigiemand in die klub ’n openbare klap in die gesig sou wees as Gus Cluver hom nie geken het nie.

Anders as die meeste beskeie mense, het Oom Gus nie rede gehad om beskeie te wees nie. Tog was hy die epitoom van daardie eienskap.