'n Mens wonder dikwels wat het van die manne en vroue geword wat jou lewenspad gekruis het en die koerantwese staan seker by baie van ons uit as
’n mens só terugdink.
Ek lees dat Willie Buys navraag doen oor die Roodt-broers. Dis nou oor my, Frans, en my boer Piet. Albei lewe nog, die een woon in die Wes-Kaap en die ander in Vereeniging. Die lewe het wye draaie met ons albei geloop, maar ons hou kop bo water. My broer Piet kan sy eie verhaal vertel.
Nadat ek in 1977 Die Vaderland verlaat het, was ek ’n rukkie lank in diens van die Republikein, in Namibië. Ek het my in 1984 tot die konstruksiebedryf gewend en toe tien jaar lank by die Kemptonparkse munisipaliteit gewerk.
Ek is 1985 getroud en in 1990 het ek en my gesin besluit om in die Wes-Kaap anker te gooi, spesifiek te Riebeek Kasteel. Ek het so vyf jaar lank by die Swartlandse munisipaliteit gewerk, alvorens ek besluit het om my eie onderneming as loodgieter te begin.
Ek moet darem noem dat, hoewel ek op ’n laat stadium van my lewe daar uitgekom het, ek al 27 jaar getroud is en my kindergoed uit ’n dogter en twee seuns bestaan. Die “pensioenvretertjie” is tans in matriek. Daar is darem lig in die tonnel!!
Dis goed om van al die mense te lees en wat hulle vandag doen.
Daar is so baie wat deur ’n mens se gedagtes gaan as jy die horlosie probeer terugdraai. Piet Ebersöhn se skrywe oor Harry (Gouws) laat ’n mens nogal hartseer voel en jaag talle ou spoke op.
Ek het ’n artikel gelees van Gert Swiegers en dat hy op Murraysburg woon. Dan dink ek aan ons nagtelike besoeke aan Fontana en die polisie-inmengery oor ’n naamlose kollega nie wil “betaal” vir die kos wat hy in die winkel geëet het nie. Dit laat my nou nog lag. Gert moes menige maal sy kontakte gebruik om die kollega uit die pekel te kry.
Ek het ook kontak gemaak met Vernon Marais op “Sudderland” en sy eerste opmerking was om ons twee te vergelyk met die sewe maer- en vetjare. Die laasgenoemde natuurlik aan my toegedig. Ongeag die eerste verwysing na ’n man se konstitusie, het ek en hy nogal lekker gesels en sterre gekyk.
Willie, onthou jy in 1976 in die onluste-tydperk, was ons eendag met jou motor op pad iewers heen? Daardie dag het die kinders jou motor met klippe bestook en die windskerm aan flarde gegooi. Toe ons uiteindelik stop, het jy nog glasstukke uitgespoeg!