Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.7.12

Só sal ek Marius Jooste onthou

THYS HUMAN skryf: Ons weet almal dat Marius Jooste een van die merkwaardigste mense in die Afrikaanse koerantwese was, maar ook ʼn omstrede figuur, want daar was diegene wat groot bewondering vir hom gehad het en andere wat baie min ooghare vir hom gehad het.

Persoonlik sal ek egter onthou dat hy binne enkele jare minstens vier keer agter my gestaan en vir my kant gekies het in berigte of meningsartikels
wat opslae gemaak het.
Daar is mense wat dink dat Marius nie baie lief was vir koerantmense nie, en dit kan dalk waar gewees het, maar my ervaring was dat hy by sy mense gestaan het wanneer nodig. Een van die staaltjies hieronder het ek reeds vertel op Johannes Froneman se Mediamense-webblad, maar ek dink dit is goed dat dit in K’rant herhaal word. Op ’n goeie dag vertel ek van die ander kere.

Marius en die Speaker
 
Marius Jooste
Die jaar 1970 was ʼn verkiesingsjaar. Ná die botsing tussen John Vorster aan die een kant en Albert Hertzog en Jaap Marais aan die anderkant in die Parlement in 1969 (waaroor ek uit die persgalery vir Die Vaderland verslag gedoen het), het Vorster ʼn verkiesing uitgeroep om die nuwe HNP by die stembus te probeer vernietig.

Koos Liebenberg wat Dagbreek se politieke korrespondent was, is bevorder tot Dirk se assistent-redakteur en ek is in sy plek as Dagbreek se Polkor (politieke korrespondent) aangestel. (Ben Gertenbach het by my oorgeneem as DV se parlementêre berwiggewer en Johan Liebenberg (politiek) is as Vaderland se Polkor aangestel in die plek van Piet Myburgh wat by die HNP se Afrikaner aangesluit het saam met Beaumont Schoeman (wat tot dan Andries Treurnicht se assistant-redakteur was by Hoofstad.)

Dit was daardie tyd gebruiklik dat die Parlement in ʼn verkiesingsjaar nie ses maande lank van Januarie tot Junie/Julie sit nie, maar vir sowat ses weke in Januarie/Februarie en dan weer ná die verkiesing vir ʼn paar maande van Augustus af.

Een Vrydagmiddag tydens die tweede sessie in laat September of vroeg Oktober stap ek kort na middagete by die joernaliste se sitkamer in die persgalery in en gaan sit by die luidspreker wat die debat in die Volksraad regstreeks herlei. Dit klink vir my of die een wat in die raad praat nie mooi nugter is nie – só erg dat ek nie eens sy stem kan herken nie.

De Villiers Graaff
Wie's dit? vra ek vir van die ander manne. Dis sir Div, die leier van die opposisie! Ek hol die gang af en gaan sit in die galery, en jou wragtag, sir De Villiers Graaff is beslis nie heeltemal sinvol nie. Die hele raad is in oproer en P.W. Botha, toe Minister van Verdediging, skreeu oor die vloer van die raad vir sir Div om swart koffie te gaan drink.

Wat die ding veral merkwaardig gemaak het, is dat Div se Verenigde Party (VP) in die verkiesing ʼn hele paar setels van die NP afgeneem het (nege as ek reg onthou) en Sir Div alle rede gehad het om te jubel en dit te vier, maar dat hy daardie middag, soos sy gewoonte was, in die Civil Service Club geëet het.

Later die middag praat ek met redakteur Dirk Richard om hom in te lig oor die stories waaraan ek werk vir Sondag se uitgawe en ewe onskuldig en humoristies vertel ek hom van die affêre.

"Skryf die storie!" beveel Dirk.

"Hemel, meneer, ek kan nie. Hulle sal my uit die Parlement skop!" keer ek.

Dirk Richard
"Skryf! Dis nuus as die Leier van die Opposisie nie heeltemal nugter is as hy in die land se hoogste raadsaal praat nie. Skryf, of ...", beveel Dirk.

Dirk was natuurlik reg, maar ek sit met die probleem van hoe. Ek skryf toe maar ʼn berig met die strekking: „Wat is fout met sir Div, is hy siek, is hy moeg, of...?ˮ En ek vertel hoe hy gesukkel het om soms woorde te uiter, sy tong soms gesleep het en wat P.W. oor die vloer vir hom geskreeu het. Die woord drank of so iets staan nêrens in die berig nie, maar enigeen wat kan lees, weet presies wat bedoel word. Die berig is die hoofstorie op bladsy 4 – die politieke blad in Dagbreek – met ʼn yslike opskrif wat die woorde van die inleiparagraaf herhaal.

Maandagoggend is die hel los! Sondagkoerantmense wat Saterdagaande tot laat werk, het Maandae vry, maar ek is kort na tien daardie oggend gebel en ingelig dat die Speaker van die Volksraad, Henning Klopper, my onmiddellik in sy kantoor wil sien.

Henning Klopper
Ek trek maar aan en sit af Parlement toe. "Bybelprentjie" Klopper (’n bynaam wat hy in die 1938- herdenking van die Groot Trek gekry het, omdat hy altyd dienste ingelei het met wat hy ’n „Bybelprentjieˮ genoem het) is siedend. Die Verenigde Party eis dat ek en Dagbreek om verskoning vra en Klopper dreig dat as dit nie gedoen word nie, skop hy my uit die persgalery. Hy kon my selfs in die Speaker se spesiale sel onder in die kelder toegesluit het, as hy wou! (Hy het ʼn jaar of twee tevore ook gedreig om Koos Liebenberg en Piet Myburgh daar op te sluit oor iets wat glo nie toelaatbaar was nie.)

Klopper kon nie die gebeure in die Raad ontken of beweer dat ek feite verdraai het nie, maar die VP beweer Div is op medikasie en dring aan op ʼn verskoning. Ek kan maar net antwoord dat ek my redakteur onmiddellik sal inlig, maar dat ek seker is dat Dagbreek enige verklaring van die VP waarin hulle hul kant van die saak stel, volledig sal publiseer. Dit is dan ook presies Dirk se houding toe ek Dinsdag met hom praat. Maar die VP en „Bybelprentjieˮ wil niks weet nie – ʼn ondubbelsinnige verskoning of ...

Dirk laat weet dat Marius Jooste op pad is Kaap toe en self met Klopper oor die saak sal gesels (Klopper was een van die stigterslede van die Afrikaner-Broederbond en uiteraard het hy en Marius, wat in 'n stadium voorsitter van die AB was, mekaar goed geken). ʼn Dag of twee later kom hy daar aan en ek is saam met hom in Klopper se kantoor. Klopper dreig en raas en ek verduidelik vir Marius presies wat gebeur het en waar die saak staan. Marius belowe met sy hand omtrent op sy hart dat hy die saak indringend met Dirk sal bespreek en dat hy binnekort na Klopper sal terugkom met ʼn antwoord. En toe kom die ware Jooste na vore:

"Henning, dit is ʼn pragtige foto van Verwoerd wat daar agter jou hang. Jy weet, ek soek al jare lank na so ʼn foto. Dit is werklik die man soos ons hom geken het." Die foto is ʼn taamlik grote, sierlik geraam, maar een wat lank by die Departement van Inligting vrylik uitgedeel is – eintlik niks besonders nie. Henning straal! Hy klim op sy stoel, haal die foto af en gee dit net daar, raam en al, vir Marius! En ons is daar weg.

Ek het nooit vasgestel wat van die foto geword het nie, maar ek het Jooste kort daarna daarvan verdink dat hy toe reeds geweet het van die gesprekke wat tussen Perskor en Naspers gehou was oor samesmelting van hulle Sondagkoerante (om Rapport te vorm), dat hy dalk juis in die Kaap was oor die saak en dat hy dus geweet het dat Dagbreek binnekort van die toneel sou verdwyn en dat ʼn verskoning en/of korreksie nooit die geur van drukkersink sou kry nie.

Dit was dan ook so. Die Parlement verdaag ʼn week of drie later, in November word die samesmelting in Rapport aangekondig en Januarie sit ek weer in die galery as Polkor vir Vaderland met Dirk as my redakteur, maar die VP en Henning kan niks doen nie, want Dagbreek is toe!

Vorster en die "oorname" van die sakemanne

Jan S Marais
Juis die feit dat die NP onder sy leiding nege setels in die 1970-verkiesing verloor het en daar nie veel in die politiek gebeur het nie omdat die NP maar lugtig was om besliste en beduidende besluite te neem weens die kwaai teenstand van die kant van die HNP, het meegebring dat daar ’n aansienlike mate van ongelukkigheid oor John Vorster se leierskap was – selfs binne die party.

Dit was so teen die begin van '72 (as ek reg onthou) dat die nuwe Rapport kom met 'n berig dat ’n groep sakemanne in die eksklusiewe Here XVII-klub in Kaapstad byeengekom het en met ’n sterk gesamentlike verklaring gekom het waarin hulle „eisˮ dat Vorster sakemanne in sy kabinet opneem om nuwe inisiatiewe aan te voor en die NP op nuwe weë te lei. Net die naam van Jan S. Marais, grootbaas van die destydse Trustbank, is genoem as die uitreiker van die verklaring. Kenners van daardie tyd se politiek het onmiddellik die hand van die Kaapse "establishment" en natuurlik Naspers daarin gesien.

Andries Wassenaar
Toe ek, as DV se Polkor, die berig die Sondag lees, was my eerste vraag: nou wie is wie en wie was almal daar? Maandagoggend bel en gesels ek met 'n paar mense en gou word die een naam na die ander aan my genoem: benewens Jan S., was Lang Dawid de Villiers, grootbaas van Naspers, Jan Pickard (oud Springbokrugbyspeler), Andries Wassenaar van Sanlam en een of twee redelik onbekendes van die KWV en ook Rembrandt en nog enkele ander daar. Dinsdag publiseer DV my berig met die name en weer eens is die hel los!

John Vorster ontbied my na sy kantoor en sy enigste vraag is: "Wie is jou bron?" Op my hoflikste en nederigste (wat volgens sommige van my beste vriende ook maar gewoonlik bleddie arrogant was) beduie ek mooi dat ek nie my bronne kan bekend maak nie. Hy herhaal sy vraag en ek kon sien die man is besig om hom te vererg.

Jan Visse
Toe probeer ek hom maar paai met ’n brokkie inligting wat ek sedert die vorige dag bekom het nl. dat Rapport se berig die Sondag nie deur Hennie Pretorius, die polkor geskryf is soos die "by-line" beweer het nie, maar wel deur Schalk Pienaar, adjunk-redakteur van Die Burger. Dit is nogal onthullende en baie betekenisvolle inligting, want dit toon die diepe en selfs agterbakse betrokkenheid van Naspers by die hele sameswering teen Vorster. Maar hy stel nie belang nie en toe ek weer weier om te sê wie my bronne is, beduie hy op sy tipiese manier: "Dan kan jy maar lôp!" Toe "lôp" ek maar, want hoe kon ek openbaar dat sy senior kabinetslid, Connie Mulder, en ook sy baie goeie vriend, die Adjunk-Speaker Jan Visse, onder my bronne is. (En nou onthou ek weer hoe kostelik Frans du Toit John Vorster se "lôp" en manier van praat kon namaak.)

Maar seker die ongemaklikste van die ding is dat Wassenaar van Sanlam ontken dat hy by die vergadering was. Deur Dirk vra Marius Jooste of ek seker is van my inligting en ek gaan, soos dit ’n goeie verslaggewer betaam, terug na my bron – en hy bevestig dit weer. Ek kan nie anders as om hom te glo nie, want dit begin toe duidelik word dat Lang Hendrik se Buro lankal van die dinge weet en wie betrokke is – en dat selfs Vorster en top-kabinetslede weet.

Wassenaar, wat na ek verstaan het, persoonlike vriende met Jooste was, eis ’n verskoning, maar ek hou voet by stuk en Jooste staan by my en weier om my (en Dirk) te dwing om verskoning te vra. Dit kon nie vir hom maklik gewees het nie.

Die storie is lank, maar dit het ’n nadraai of twee. ’n Goeie drie jaar later in middel '75 neem ek waar as redakteur by Hoofstad nadat At de Beer Washington toe is as Perskor se verteenwoordiger daar. Ek staan in vir Sam Lake wat eers by Tempo in Durban moet oorhandig voordat ek self my goedjies pak om Londen toe te gaan. Toe hy oorvat, gesels ek en hy so terloops oor ’n ding of twee, onder meer die berig oor die sakemanne se vergadering en hoe heftig Wassenaar ontken het. "Maar hy was by daardie vergadering," vertel Sam. Nou hoe weet hy dit so seker? Want hy wat Sam is, was in daardie tyd ’n baie senior man in Dagbreek (en die ou Landstem) se Kaapse kantoor en hy was ook eintlik na die vergadering "genooi", en hy het Wassenaar daar gesien! Al wat ek kon doen, was om hom te vra om dit tog vir Jooste te vertel en my – en natuurlik my bron – se geloofwaardigheid in ere te herstel. Ek vermoed Sam het dit gedoen, want so vier jaar of wat later, stel Jooste my tog as redakteur van Oggendblad aan.

Die ander kinkel is dat Vorster eintlik verniet so lelik was met my, want toe die stof gaan lê oor die vergadering en die onthullings, waai die hele ding oor, die sakemanne kruip ewe gedweë terug in hul doppe en van die oorvat-planne kom daar niks.

Maar het ek erkenning en dank gekry omdat ek hul name – en hul planne – so onthul en eintlik vernietig het? Moenie glo nie. Vorster was vir jare nog alles behalwe vriendelik met my – tot kort voor sy dood, maar dit is weer 'n heel ander storie. Dalk vir ’n ander dag.

Gerrit en die Broederbond

'n Laaste kort storie oor Jooste se manier van dinge doen:

Gerrit Viljoen
Op ʼn goeie dag in die 1970's sukkel ons om kontak te maak met Gerrit Viljoen. Viljoen was toe rektor van die RAU en ook voorsitter van die Broederbond en daar was die een of ander bewering oor die AB – dit kon van daardie tyd se Sunday Times-stories gewees het.

Dirk Richard stuur my na Marius Jooste om vir hom te gaan vra om te help. Hy luister na my storie, tel sy foon op en sê vir sy sekretaresse: „Kry vir my Gerrit Viljoenˮ. Oomblikke later lui die foon. "Dag, Gerrit. Dirk Richard se mense sê hulle sukkel om jou in die hande te kry. Praat met hulle. Thys Human sal jou bel." En kaplaks! sit hy die foon neer.

Gerrit Viljoen het onmiddellik met my gepraat toe ek hom ʼn paar minute later bel!
 
Soó sal ek Marius Jooste onthou.

Foto-erkenning:  
  • Wasserman en Marais uit "’n Volk staan op", 
  • Jooste uit "’n Volk staan op uit sy as" (laasgenoemde twee is verskillende publikasies), 
  • Klopper uit "Die Nasionale Boek"
  • Viljoen uit "Van Van Riebeeck tot PW Botha".