Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

10.7.12

'n Liggewig-boksskrywer by ’n swaargewig-geveg


JAPIE BOSCH skryf: Jannie Makoeng was, sover ek weet, die eerste en enigste Swart verslaggewer wat Die Vaderland gehad het.

Vaagweg herroep ek ook dat daar ’n menigsverskil in die hoofredaksie oor sy aanstelling was. Hoofredakteur Dirk Richard het volgehou dat hy aangestel moet word, omdat hy makliker toegang tot Swart politici sou
kry, maar ander was nie seker of hy by koerant sou inpas nie.

Jannie was ‘n korterige, maer outjie. Hy was so tussen 25 en 30 jaar oud. Sy Afrikaanse woordeskat en uitspraak was uitstekend, maar sy spelling en begrip van die taal het dikwels aandag benodig. Om die een of ander rede is hy aan my toevertrou om hom "met die koerant vertroud te maak". Dit het meegebring dat sy stories dikwels oorgeskryf is, nadat ons dit eers saam van vooraf uitgepluis het.

Muhammad Ali troon oor George Foreman
In 1974 was Jannie namens Perskor op ‘n „trip” waarvoor menige sportskrywer sy voortande sou gee. Hy is afgevaardig om oor die historiese "Rumble in the Jungle" op 30 Oktober 1974, in die Mai 20-stadion in Kinshasa, Zaïre (nou die Demokratiese Republiek van die Kongo) verslag te doen. Daartydens het George Foreman, die wêreld-swaargewigkampioen teen Muhammad Ali, die voormalige wêreldkampioen en uitdager, geboks. Ali het Foreman in die agtste ronde uitgeslaan.

Die regering van Zaïre wou niks daarvan weet dat ’n Blanke joernalis, allermins een van ’n Afrikaanse koerant, die geveg bywoon nie. Ná ‘n gesukkel is ’n visum aan Jannie toegestaan sodat hý die geveg kon bywoon. Van boks het hy niks geweet nie. Dit het nie veel saak gemaak nie, want die nuusagentskappe het volledig daaroor berig. Dit het klaarblyklik gegaan oor die "prestige" dat Perskor ’n man by die geveg gehad het.

'n Soortgelyke vuis
Hoe geslaagd Jannie se tog was, kan ek nie onthou nie, maar ek glo nie hy het ‘n onderskeiding gekry nie.

Wat ek wel onthou, is dat Jannie vir my ’n geskenk saamgebring het. Dit was ’n klein, houtgekerfde, swart, gebalde Afrika-vuis. „Dis omdat jy my altyd help,” het hy gesê toe hy dit vir my gegee het. Toe het hy bygevoeg: "Dis baie spesiaal, want Ali het dit vasgehou". Hoe en waar dit in Ali se hande beland het, het hy vertel, maar daardie storie het ek vergeet. Ek onthou wel dat ek met hom daaroor geskerts het. Dit het Jannie omgekrap.

Hoe ookal, ek het nog die vuisie iewers in ’n boks. 

Kort ná die groot geveg het Jannie Die Vaderland se diens verlaat.

Gerhard Burger, destyds sportredakteur van Die Vaderland, het laat weet dat hy Jannie onthou, maar dat die sportredaksie nie veel met hom te doen gehad nie. „Ek onthou wel dat hy ’n heel joviale kêrel was en dat ons heelwat agting vir sy Afrikaans gehad het.ˮ

„Ek kan werklik nie onthou dat ons sy kopie van die groot geveg gebruik het nie. Miskien was daar nie perstelegramme en telekskantore in Zaïre nie. En dalk het Perskor hom nie ’n draagbare Olivetti gegee nie.ˮ

Die brokkie oor Jannie Makoeng in 'n tydskrif in Trinidad.
Google ’n mens Jannie se naam, duik dit een keer op. Dit nogal in ’n tydskrif met die naam Tapia wat in Tunapuna, Trinidad gepubliseer word. Dié tydskrif is deel van die George Smathers-biblioteek se „digitale versameling” aan die Universiteit van Florida.

In die uitgawe van 22 September 1974 verskyn ’n artikel: The Struggle in Africa: The Press. Daarin word geskryf: “Last year Die Vaderland became the first Afrikaans daily to employ a Black reporter, Jannie Makoeng. Hoewever, he does not receive the same pay as white reporters „as a matter of policy”, nor is he allowed to sit at the same news desk or eat in the canteen.”

Van die salaris weet ek nie, maar die res is onwaar. Hy het gewis sy eie lessenaar gehad en hy hét toegang tot die kantien gehad. Ek het self saam met hom daar gesit en eet en/of koffie drink.

Gerhard en ander by wie ek navraag oor Jannie gedoen het, het gewonder of hy nie, nadat hy Die Vaderland verlaat het, SAUK toe is en radiopraatjies gelewer het nie. Ek vermoed hulle het Justus Tsungu in gedagte. Daar was nogal ooreenkomste in gelaat en bou tussen dié twee.