Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

Geskiedenis

Perskor en sy voorgangers

BY die noem dat K’rant, die kletsblad, Perskorhaan, en die jaarlike reünie vir oud-werknemers van Perskor en sy voorgangers is, word dikwels gevra wie (of wat) hierdie voorgangers was.

Piet Ebersöhn probeer die vraag hieronder beantwoord, maar maak geen aanspraak op volledigheid nie en aanvullings of regstellings sal waardeer word.

Die latere Perskorporasie van Suid-Afrika (Perskor) het sy oorsprong in twee bloedlyne, al word dit meesal enkelvoudig na die verskyning op 23 Februarie 1912 in Pretoria van Harm Oost se Die Week terug gespoor.

Daar was ook De Transvaler wat T.C. Visser in 1914 in Johannesburg gestig het, en wat die eerste was om die Afrikaanse koerantmark in die Goudstad te ontgin.

Oost het sy koerant gestig om genl. J.B.M Hertzog se “Suid-Afrika Eerste”-standpunt teenoor die bevordering van die Britse Ryksgedagte te stel.

Visser s’n het gevolg op die stigting van die Nasionale Party en had ten doel die bevordering van dié party onder die Afrikaner op die Witwatersrand.

Albei se eerste prioriteit was die bevordering van die Nasionale Party-saak, nuus het tweede viool gespeel. Dit het die grondslag gelê vir baie jare se politieke “pligpleging” soos onvergenoegde redaksielede daarna verwys het.

1913
 Oost verloor beheer oor sy koerant toe ‘n redaksielid op mede-eienaarskap aanspraak maak en die hof dié gelyk gee. Sonder om ‘n uitgawe oor te slaan, gee Oost van 19 September af sy koerant as Het Volk uit. Die blad word deur Het Volk Drukkers en Uitgewers Maatskappy uitgegee.

Die Week se steun gaan oor na die Suid-Afrikaanse Party en dit hou nie lank stand nie.
1914
Die regering sluit Het Volk tydens Rebellie, en Oost sluit by die rebellemag onder genl. Christiaan de Wet aan.
1915

Ons Vaderland: eerste uitgawe
Die Noordelike Drukpers-maatskappy (NDP) word op 8 September 1915 in Pretoria gestig en op 10 September verkyn die eerste uitgawe van Ons Vaderland , waarby De Transvaler nou ingelyf is.
Omdat Oost nog in die tronk was vanweë sy deelname aan die Rebellie, het ‘n Potchefstroomse professor, Jan Kamp, as redakteur opgetree.
1916
Harm Oost is teen die middel van die jaar uit die tronk vrygelaat en het die redakteurskap van Ons Vaderland oorgeneem.
 1925
Gustav Preller neem die redakteurskap van Ons Vaderland by Oost oor, nadat laasgenoemde die vorige jaar as lid vir Pretoria-distrik (Noord) tot die Volksraad verkies is.
 1929
Ons Vaderland word ‘n ruk lank ‘n dagblad, maar keer terug tot 'n halfweeklikse publikasie.
Tegniese redakteur Jurie van As doen baanbrekerswerk toe Ons Vaderland die eerste koerant word om nuus pleks van advertensies op sy voorblad te plaas.
 1932
 Ons Vaderland word op 19 Maart 1932 Die Vaderland en die NDP word Afrikaanse Pers Beperk (APB). Beheer van die blad is vir die duur van sy leeftyd aan genl. J.B.M. Hertzog toevertrou. Dit steun dus Hertzog se koalisie-regering.
 1934
Met die samesmelting van die Nasionale Party onder Hertzog en die Suid-Afrikaanse Party onder genl. Jan Smuts om die Verenigde Nasionale Suid-Afrikaanse Party te stig, dra Die Vaderland sy lojaliteit na die nuwe party oor.
1936
Op 2 Julie 1936 verskuif Die Vaderland na Johannesburg en word ’n dagblad. Preller tree uit as redakteur en Willem (Wollie) van Heerden volg hom op. ‘n Eie sirkulasieafdeling word gevestig met Jan Jordaan as eerste sirkulasiebestuurder. Die A.P.B. stig Die Moderne Vrou.
1937
Die Transvaler: eeste uitgawe
Van 1 Februarie 1937 af verskyn Die Brandwag as byvoegsel tot Die Vaderland. Dit is so gewild dat dit reeds in September dieselfde jaar as selfstandige tydskrif verskyn. Otto Schwellnus was die eerste redakteur. Hy is deur die jare agtereenvolgens deur A.M. van Schoor (1938-46), Rud. P. Visser, Dirk Richard, I.D van der Walt, At de Beer, Jan Breytenbach en weer I.D. van der Walt opgevolg.

Voortrekkerpers (Bpk) word gestig en op 1 Oktober 1937 verskyn die eerste uitgawe van Die Transvaler as spreekbuis van die Gesuiwerde Nasionale Party in die Noorde, met Hendrik Verwoerd as redakteur. Dit moes as teenvoeter dien vir Die Vaderland se Sap-boodskap. Weer eens is politiek die dryfveer vir die stig van die koerant, nie nuus nie.

Die A.P.B. staak die uitgee van sy tydskrif Die Moderne Vrou, wat onder die redakteurskap van Martie van den Heever (C.M. se vrou) ‘n ruimer en dieper kulturele dis aan die Afrikaanse vrou wou opdien.
1938
Die Vaderland se Voortrekkerstrandfonds word gestig. L.J. (Lappies) Labuschagne het op 1 Januarie 1941 die fonds se eerste heeltydse sekretaris geword. Die doel was om arm Afrikaner-kinders die geleentheid te gee om tyd by die see deur te bring.

1939
Sedert Mei 1939 druk APB Kort en Goed, met ‘n letterkundige inslag, geskoei op die resep van die Reader’s Digest en met Hjalmar Reitz as redakteur (tot sy dood in 1946). Dit hou tien jaar lank.
1942
Hendrikus Potgieter (beter bekend as die skrywer Mark Preston) laat die eerste uitgawe van die vrouetydskrif Rooi Rose die lig sien.
1944
Die A.P.B. koop die Kroonstad Gazette (in 1903 gestig) met sy drukkery, met die oog daarop om munt uit die opkomende Vrystaatse goudnywerheid te slaan. Die O.V.S. Afrikaanse Pers Beperk kom tot stand. Die koerant se naam word na Die Noordelike Stem – The Northern Times verander en dit word ‘n tweetalige weekblad. Die latere redakteurs het Boet Hyman, Chris de Lange en Tienie Serfontein ingesluit.

Potgieter verkoop Rooi Rose aan Marius Jooste en A.M. van Schoor, destyds werknemers van die A.P.B. Die maatskappy stem in dat die twee die tydskrif in hul private hoedanigheid mag bedryf terwyl hulle in diens bly, op voorwaarde dat die tydskrif by die A.P.B.-drukkery op Kroonstad gedruk word. Van Schoor word die redakteur. Die Vaderland word in ’n poniekoerant omskep.
1945
M.J. van den Berg, L.V, en ander stig Die Werksman se Weekblad om die politieke beleid van die destydse Arbeidersparty uit te dra. Die blad het bra gesukkel om die mas op te kom.
1946
Rooi Rose vaar so goed dat A.P.B.se direksie sy toegewing aan Jooste en Van Schoor terugtrek, en aanbied om die blad by hulle te koop. Hulle stem teensinnig in. Rud. P. Visser is die nuwe redakteur en hy word later deur I.D. van der Walt opgevolg.

Ernstige meningsverskil met die direksie lei daartoe dat Willem van Heerden, Marius Jooste, A.M. van Schoor, Otto Schwellnus en Mick van Rensburg (sakebestuurder) A.P.B verlaat.

W.H. Wilcocks volg Van Heerden as redakteur op.

Jooste en Van Schoor stig die tydskrif Fleur. Dit was glo die Afrikaanse leserspubliek te ver vooruit en het nie die inslag gevind wat gehoop is nie. Van Schoor was van 1946-48 redakteur van die blad.

Die Ossewa-Brandwag se Persbeleggingkorporasie (Perskor) (met Piet Meyer wat ‘n deurslaggewende rol speel) en Jooste stig die Onafhanklike Pers van Suid-Afrika Beperk [sien Meyer se Nog nie ver genoeg nie, pp 44-45] Dié Perskor het Pro Ecclesia-Drukkery op Stellenbosch besit, wat die tydskrif Die Landman uitgegee het, asook L en S Boek- en Kunssentrum in Johannesburg, Trans-Oranje-Drukpers op Bethlehem, en ‘n drukkery op Pietersburg wat Die Noordelike Stem daar uitgegee het.
Die Onafhanklike Pers besluit om met die Strahmore-myngroep se Scotia Press saam te werk wat Die Werksman se Weekblad oorgeneem het. Die naam word verkort tot die Weekblad. Terselfdertyd is ‘n ou en sukkelende drukkery in Doornfontein, T.W. Hayne Ltd., deur Scotia Press oorgeneem, wat nou deur Mick van Rensburg bestuur is.
1947
Die Onafhanklike Pers en Scotia Press span saam om ‘n nuwe maatskappy, Dagbreekpers Bpk. tot stand te bring met die oog daarop om ‘n Sondagkoerant uit te gee. Elk van die groepe het vyf direkteure benoem, maar Wicus du Plessis was die voorsitter, Marius Jooste die besturende direkteur en Mick van Rensburg die hoofbestuurder.

Op 29 Junie 1947 verskyn die eerste uitgawe van Dagbreekpers se Sondagkoerant, Dagbreek met Wollie van Heerden as redakteur. Van Schoor verkoop sy deel van Fleur aan die nuwe maatskappy en dit word mettertyd Dagbreek se tydskrifbylaag.

‘n Week later, 6 Julie 1947, volg A.P.B. met Sondagnuus

A.P.B kan die stryd nie volhou nie en in Desember 1947 koop Dagbreekpers dit. Dagbreek word tot Dagbreek & Sondagnuus verdoop. Die tydskrif Die Ruiter verskyn.
1948
Op 3 Junie 1948 verskyn die eerste uitgawe van Die Vaderland Bulletin, ‘n Engelse publikasie om die N.P.-boodskap uit te dra. Dit bestaan egter nie lank nie.

Dagbreekpers se drukkery, T.W. Hayne Ltd., word deur ‘n brand vernietig. Met die versekeringsgeld word ‘n moderne nuwe drukkery op ‘n nuwe perseel noord van die treinspoor in Doornfontein opgerig. Die handelsdrukkery wat sedert 1893 as Hayne & Gibson sake gedoen het, het van krag tot krag gegaan.
1950
 Die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywerskring, wat sedert 1936 onder die redaksie van C. M. van den Heever uitgegee is, word ‘n kwartaalblad: Tydskrif vir Letterkunde. Na Van den Heever se dood word Abel Coetzee die redakteur tot 1966 toe Connie Rudolph by hom oorneem.

‘n Poging van die O.V.S.A.P.B. om Goudveld-nuus – Goldfields Express op Kroonstad te druk en op Odendaalsrus te versprei, misluk.
1951
Op 10 November 1951 begin Die Vaderland met ‘n naweekbylae Ekstra. Dit misluk en word in April 1957 laat vaar.
1952
Die A.P.B. gee ook sedert 1952 die Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal uit, wat sedert 1944 deur Abel Coetzee uitgegee is. Coetzee gaan voort as redakteur.

Dagbreek neem L & S Boek- en Kunsentrum in Johannesburg oor. Dagbreek-Boekhandel, met Potgieter (Preston) aan die stuur het hieruit ontstaan. Die bedrywighede het aanvanklik rondom die uitbou van die boekskema Dagbreek-Boekkring gewentel.
 
1953
J.G. Strydom, Transvaalse leier van die Nasionale Party, speel ‘n sterk rol in die suksesvolle oorname van die Scottgroep se aandele in Dagbreekpers met geld wat onder Nasionaliste ingesamel is. Hy word voorsitter van Dagbreekpers en die N.P. se invloed op die koerant word versterk.
1956
Die swart tydskrif Bona verskyn in Maart 1956 as maandblad met C.J. Oosthuizen as redakteur, en in drie tale: Xhosa, Zulu en Sotho. Latere redakteurs sluit Peter Becker, Neels Haupt, Frans Wessels en Earl Martin in.
1959
Wilcocks kruis swaarde met die direksie en bedank op 31 Maart 1959. H.P. Marnitz neem die leisels by hom oor.

Ulrich Stark word redakteur van Rooi Rose.
1960
In Maart 1960 stig die A.P.B, saam met ’n plaaslike onderneming, Thandapers in King William’s Town, met die oogmerk om swartes te leer om hul eie skoolboeke te druk. Hy bekom ook ’n aandeel in die Xhosa-koerant Imvo Zabantsundu, wat in 1884 deur John Tengo Jabavu gestig is en wat van die 1961 af deur Thanda gedruk is.
1961
In Oktober1961 waag die A.P.B. hom weer op die naweekterrein met die verskyning van Sondagblad onder die redaksie van Dirk Richard. Daar was egter steeds nie ruimte vir twee Afrikaanse Sondagblaaie nie, en dit lei tot onderhandelings oor samesmelting tussen die A.P.B. en Dagbreekpers.
Susan de Winter word Rooi Rose se eerste vroulike redakteur, maar sterf ná ’n kort dienstydperk, en word deur Martie Snyman opgevolg.
1962
Op 1 Julie 1962 word die A.P.B. en Dagbreekpers saamgevoeg in die Afrikaanse Pers (1962) Beperk.
Sondagblad verdwyn van die toneel.

Wollie van Heerden word hoofredakteur van al die Pers se nuusblaaie, en Dirk Richard neem Dagbreek en Sondagnuus se redakteurskap by hom oor. A.M. van Schoor vervang Marnitz as redakteur van Die Vaderland.

Dagbreek-boekhandel word in die Afrikaanse Pers-boekhandel opgeneem. Willem Schoombee was die eerste hoofbestuurder hiervan.

Die nuwe onderneming neem volledig beheer van Thandapers en Imvo Zabantsundu oor. Leon Greyling word die eerste bestuurder.
1963
Die A.P.B. dra sy kleinhandel-boekwinkel aan die Sentrale Nuusagentskap (C.N.A.) oor om hom op die groothandel toe te spits.
1964
Die handelsdrukkery Elatapers is op Umtata deur A.P.B. (1962) opgerig, met die oog om dit te ontwikkel in ‘n staatsdrukkery vir ‘n onafhanklike Transkei.

Op 6 September 1964 verskyn die eerste uitgawe van The South African Financial Gazette in die stal van A.P.B. (1962). Die Brit Robert Haynes is as die eerste redakteur aangestel.
1965
Die Brandwag word by Fleur, die tydskrifbylae tot Dagbreek en Landstem, ingelyf.

Die Olaf Bouwer-boekklub word naas die Dagbreek-boekkring opgerig.

Louw Geldenhuys van der Merwe word deur die A.P.B (1962) na Londen gestuur om ’n kantoor vir nuusinsameling en advertensiewerwing op te rig.
1967
Op 17 Desember 1967 verskyn die eerste uitgawe van Dagbreek en Landstem nadat Dagbreekpers die Kaapse weekblad Landstem van Piet Beukus gekoop en dit by Dagbreek ingelyf het.
1968
Die A.P.B. (1962) en Voortrekkerpers vat hande om Hoofstadpers Beperk in Pretoria op te rig. Duimpie Opperman is as hoofbestuurder aangestel. Op 1 April 1968 verskyn die Pretoriase middagblad Hoofstad vir die eerste keer. A.P. Treurnicht is die redakteur.

Auroradrukkery in Pretoria is terselfdertyd aangeskaf.
1970
Dagbreek & Landstem en Nasionale Pers se Die Beeld, wat in 1965 gestig is, smelt saam om Rapport te stig. A.P.B. (1962) en Naspers kry elk ‘n 50%-aandeel in Rapport-uitgewers.

Die A.P.B. (1962) Bpk. stig die eerste Afrikaanse joernalisteskool, met Hermie Hendriks as die hoof.
1971
Die A.P.B. (1962) en die Voortrekkerpers smelt op 1 April 1971 saam om die Perskorporasie van Suid-Afrika te stig.

Republikeinse Pers koop die Farmer’s Weekly by Argus Magazine Division. Die blad is in 1911 deur The Friend in Bloemfontein gestig en in 1963 aan die Argus-groep verkoop.
1972 
Perskor stig Oggendblad met Harald Pakendorf as eerste redakteur.
1973
Op 14 Augustus 1973 word Carel Nöffke die hoof van Perskorburo, die groep se nuwe nuusdiens, en Willem de Klerk word hoofredakteur van Die Transvaler.
1974
Perskor koop Republikeinse Pers en word meteens die grootste tydskrifuitgewer in die land. Dit sluit titels in soos Scope, Personality, Bona, Farmer’s Weekly, Garden & Home, Keur, TV Dagboek, Family Radio & TV, Darling, Living & Loving en Your Family, en natuurlik Rooi Rose wat reeds deur Perskor besit is. Die pakket sluit ook die verspreidingsonderneming Republikeinse Nuusagentskap (RNA) in.
1976
Die kunsmismiljoenêr Louis Luyt stig op 7 September1976 – The Citizen met geld wat die Departement van Inligting beskikbaar stel. Die eerste uitgawe verskyn op 7 September 1976.
1979
Perskor koop The Citizen.
1983
Hoofstad en Oggendblad verskyn vir oulaas op 19 Februarie 1983 en word by Transvaler ingelyf wat van 21 Februarie af as ’n Pretoriase middagblad verskyn. Met die skuif na Pretoria neem Jan van Vreden by Hendriks as hoofredakteur oor.
1985
Perskor en ander mediagroepe stig die betaal-TV-kanaal M-Net. Perskor besit 15% van die aandele.
1986
In Augustus 1986 neem Blaar Grobbelaar by Van Vreden as hoofredakteur van Transvaler oor.
1991/2
+ 1991/2 – Transvaler skuif terug na Johannesburg toe Vaderland sluit
1993
17/10/93? – Transvaler sluit

Perskor stig Noord-Transvaler Metro as Pretoriase weekblad. Frans Aucamp is die redakteur. Dit word later bloot Metro.

Multichoice Ltd., later MIH Holdings word van M-Net afgesplits.
1997
Perskor neem Kagiso Trust Investments (voorheen De Jager HAUM) oor en die groep se boekafdeling, Educum, word by Kagiso-uitgewers ingelyf om Kagiso-Educum te vorm. Perskor se Lex Patria-titels (meesal wetsboeke) is hierby ingesluit.

Perskor verkoop sy 50% belang in Rapport aan Dagbreek-Trust.

MIH Holdings skep die Internetdiensverskaffer M-Web.
1998
Die drukbelange van CTP Caxton en Perskor smelt in Julie 1998 saam. Van die ondernemings wat in die slag bly, is die Vendiko-inkfabrieke in Doornfontein en Durban, Perskor-drukkery in Doornfontein, Aurora-drukkery in Pretoria, Republikeinse Pers in Durban en kommersiële en koerantdrukwerk in Kroonstad, Pietersburg, Klerksdorp en Middelburg.

Penrose, ’n filiaal van CTP, neem Perskor se streekkoerante oor.
1999
CTP Caxton verkoop sy aandeel in Rapport en City Press aan Naspers, nou Media24.

  • Nou ja, al die oud-werknemers van enige van bogemelde publikasies en ondernemings kwalifiseer om in die bedrywighede van K’rant te deel.
  • (Ns. Hierdie kan nie as ‘n finale weergawe beskou word nie en dit sal deurentyd bygewerk word. Aanvullings en opmerkings in dié verband kan aan Piet Ebersöhn gestuur word.)