Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.7.12

Die verslaggewer wat nie anders Connie


THYS HUMAN skryf: vertel Con was ’n knap misdaadverslaggewer by Die Vaderland iewers in die jare sestig. Hy was egter ook, soos die meeste, lief om ’n doppie of wat te maak.

Hy is toe aangesê om ’n storie te gaan dek van iemand wat ’n doktorsgraad van Wits ontvang het oor ’n studie van prostitusie in Johannesburg.
Prostitusie is tog mos ’n misdaad, of hoe? Die Stadsraad van Johannesburg het daarop aan die man ’n erepenning of ’n raadsmedalje toegeken, spesiale skemerkelk en al.

’n Hele paar skemerkelkies later stap Con tot so tussen die burgemeester en die vereerde, pluk die vereerde aan sy das en trek dit tot styf teen sy strot: "Jou donnerse akademikus, wat weet jy van ’n bliksemse hoer af?" of iets te dien effekte.

Die burgemeester kla die volgende dag steen en been daaroor en Hermie Hendriks had toe geen keuse as om Con ernstig te straf nie. Wonder wat van Con geword het?

Kort sitting se dinge

Kort sittings in die Parlement het gewoonlik in die verkiesingsjaar plaasgevind. Dan sit die Parlement so ses weke van Januarie tot middel-Februarie en daarna span hy uit vir die verkiesing wat gewoonlik in April gehou is. Die sitting word dan weer in Julie hervat.

Een van die ministers se privaatsekeretarisse (onthou sy naam, maar verswyg dit maar, dalk leef hy nog) en sy kollega het in die laaste week van die kort sitting in die wandelgang van die Volksraad vir hul ministers sit en wag en ou Koos sit en grondboontjies kou dat dit kraak.

Vra iemand Koos toe: "Vir wat sit jy so en grondbone kou? Ek het jou dit nog nooit tevore sien doen nie?"

"Is maar puur in die belang van my huwelik. Sien, ek moet mos nou met ’n ses-week-oue aptyt by die huis aankom.″