Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.7.12

Só verloor Willie my

ANDRIES BOTHA skryf: Wyle Willie Brasé, wat so tragies vermoor is, was glo op Merensky-landbouskool ‘n kranige atleet, onder meer ‘n verspringer. My kleinboet, toe maar so 12 jaar oud, het vir hom gesê: “Dit was seker eerder diepsprong.” Willie was toe al lywig.

Eendag het hy saam met my van die landdroshof af teruggestap kantoor toe. Net voor Smitstraat van die stad se kant af in Sauerstraat was daar ‘n
klein hotelletjie. Ek sê toe vir Willie: “Kyk net daar oorkant die straat. Lyk na ‘n moerse ongeluk.”

Onderwyl hy vra: “Waar?” glip ek by die hotel in.

Ek was al op my tweede bier toe Willie my eers daar kry!

Van oom Bull Hefer gepraat. Eendag kom hy daar in met so ‘n korterige gesetterige mannetjie wat hy aan ons voorstel as “Die Wilde Bul van Borneo”. Hy’t toe teen manne soos Willie Liebenberg en Manie Maritz kom stoei.

Later het iemand my vertel die Wilde Bul van Borneo was eintlik ‘n groentehandelaar wat oom Bull in Mosambiek raakgeloop het!