Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.7.12

'Scoop'-foto’s en katastrofes in die donkerkamer

TOKKIE WEHMEYER, gewese foto-redakteur van Die Transvaler, vertel hoe sy pad by die Pers en daarna geloop het. Wat hy verswyg, is dat hy ook vervaardiger van die baie suksesvolle TV-reeks, The Legend of the Hidden City, was. Dit is ook aan TV-kanale in Brittanje, Kanada en heelwat ander lande verkoop en in Duits en Frans oorgeklank.

Ek was een van die fotograwe wat (ek dink dit was slegs dié een keer) by die
Lugmag-gimnasium, waar ons in lugfotografie opgelei is, deur die Afrikaanse Pers (1962) Bpk.gewerf is. Wessel Oosthuizen was ’n ander een.

Die hoof van die Pretoriase kantoor, Louis Nel, was ook ’n fotograaf en het ons opgelei. Daarna is ons uitgeplaas.

In Aucklandpark was die nuusredakteur Hermie Hendriks en die hooffotograaf Fred Buys. Ander kollegas wat ek kan onthou, was Kittie Vermaak, Tom Cairncross, Sieg van Niekerk, Harald Pakendorf en Lettie Gericke.

Ek is toe Dagbreek toe waar ek saam met Hoffie Hofmeister gewerk het. Ons grootste "scoop" was toe ons ’n onderhoud met die destydse eerste minister, Hendrik Verwoerd, gehad het. Ons moes na Stokkiesdraai, sy plek aan die Vaalrivier, gaan. Geklee in sy plaasklere het hy ons in sy boot gelaai en self oor die rivier gevaar na waar hy mielielande gehad het. Daar het ek hom afgeneem waar hy op die grond onder ’n boom gesit en eet het.

Die grootste katastrofe wat my getref het, was toe ’n hele dag se werk, onder meer die kroning van Tukkies se joolkoningin, op een film tot niet was, omdat my kollega in Pretoria per ongeluk fikseermiddel in die ontwikkelaar gegooi het. Gelukkig was ons ’n takkantoor en moes Aucklandpark maar die gate vul.

Regs: Tokkie Wehmeyer met sy eerste kamera (‘n 4 by 5 Speed graphic.).
 By Die Vaderland het ek oor die Wes-Rand gevlieg ná die sinkgate by Carletonville en in die proses twee nuwe sinkgate ontdek het, waarvan niemand nog geweet het nie. Ek is ook saam met Frik Badenhorst, wat net snags gewerk het, Botswana toe gestuur agter Harold Wolpe en kie aan, wat soontoe gevlug het ná die inhegtenisneming  van onder andere Nelson Mandela by Rivonia. Die motorbestuurder was só bang dat hy onder my bed geslaap het. Ons het niemand gekry nie.

Nog ’n storie saam met Frik was toe ons Sabie toe gery het nadat ’n vrou haar man deur sy private dele geskiet het omdat hy rondgeloop het. Ons het drieuur die oggend daar aangeklop. Iemand het die deur oopgemaak en die vrou gaan roep. Terwyl ons gewag het, het ek al die foto’s teen die muur afgeneem. Nodeloos om te sê, ons is summier weggejaag.

Kan julle nog die landlynstelsel onthou? Ek moes ’n slag rugby in Kimberley gaan afneem. Dit het beteken ek moes ’n ateljee reël om films te ontwikkel, ’n telefoonlyn bespreek om die foto te kan stuur, dan die eerste lynstaan afneem – en jaag om die foto te stuur.

Toe daar gepraat word van video, het ek gesê: goddank, nie in my tyd nie. Kyk waar staan ons nou!

Ek en Tom Buys het die eerste fotoverhaal vir Dagbreek geskiet. Ek het daarna by Eben Snyman, ’n fotograaf by Brandwag, en Gert Hattingh aangesluit waar ek fotoboekies geskiet het.

'n Toneel uit Siener in die Suburbs.
Toe het ek ’n kameraman geword en plaaslike advertensies geskiet. Ek en Koos Roets het ’n hele paar Afrikaanse films gemaak onder andere Siener in die Suburbs. Met die koms van televisie het die bedryf sy alie gesien en dit is toe dat ek vir Willie Havenga gaan spreek het en as fotoredakteur by Die Transvaler aangestel is. Wimpie de Klerk was redakteur, Willie Buys en Dave Viljoen, die nuusredakteurs en Gert Kotzé die sportredakteur.

As fotoredakteur het ek min foto’s self geneem, maar is een Republiekdag, toe ek geen fotograwe gehad het nie, inderhaas Nelspruit toe gevlieg, waar ou mense by ’n grenspos geskiet is. Ek kon ’n eksklusiewe foto van die oupa en sy seun in die hospitaal kry en ons het die kleinseun wat by die skietery was in Barberton opgespoor.

Heidi en haar geliefdes.
Intussen het die vervaardiging van TV-programme begin en ek is agter Koos Roets aan, waar ek Sonneblom-films bestuur het. Daar het ons ook begin oorklank, onder meer die treffer-kinderprogram Heidi.

Ek is later na Elmo de Wit toe en het uiteindelik my eie maatskappy, Witkoppen-Films begin. Ons was die eerste maatskappy wat in Afrika-tale oorgeklank het en het dit later in vyf tale gedoen.

Ná 1994 het die bedryf stadig maar seker gekwyn en ek is gedwing om af te tree. Ons bly nou langs die Vaalrivier in ’n naweekplekkie wat ek al lankal het.