Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.7.12

Die Transvaler en Die Vaderland was vreemde bedmaats

ANDRIES BOTHA skryf dat die samesmelting tussen Voortrekkerpers Bpk. en Afrikaans Pers (1062) Bpk. om die Perskorporasie van Suid-Afrika Bpk te vorm, eintlik ‘n kwessie van baie, baie vreemde bedmaats was.

Benewens die historiese politieke verskille van voor die Tweede Wêreldoorlog tussen die „Smelters” of Verenigde Party, soos verteenwoordig

deur Die Vaderland, en die „gesuiwerde Nasionaliste”, soos verteenwoordig deur Die Transvaler, was daar ook ’n ooreenkoms tussen Die Transvaler en Die Burger waar kragtens die politieke korrespondente van die koerante berigte geruil het.

Alf Ries
Ek en Alf Ries van Die Burger het as Politieke Beriggewers ’n kantoor gedeel en was ook goeie vriende. Die Transvaler se parlementêre verslaggewer het ook saam met Die Burger se manne in een kantoor gesit – onder wie Bob van Walsem, later Rapport-redakteur, Albert Crafford, Ebbe Dommisse, latere redakteur van Beeld en ook Die Burger, en die Volksblad se Blaar Grobbelaar in die Nasionale Persspan was – en saam met my was Jac de Vries en later Koos Roelofse, maar berigte is nie op daardie vlak geruil nie.

Ton Vosloo
In daardie dae was Ton Vosloo, later redakteur van Die Beeld, van Beeld en voorsitter van Nasionale Pers Bpk, politieke korrespondent van Die Beeld en het ons ook dikwels saam gekuier en gholf gespeel. Ek het ’n woonstel in St. Martini Gardens in Koningin Victoriastraat gehad, reg oorkant die Tuine en binne stapafstand van die Parlement en Keeromstraat, tuiste van Die Burger, waar Die Transvaler se manne Sondae kopie afgelaai het om deur Die Burger Johannesburg toe geteleks te word.

En dan was daar die Drommedaris, ’n kroeg net om die draai van Die Burger, wat dikwels dié koerant se takkantoor genoem is. Daar het ons skouers geskuur met legendariese figure soos Piet Cillié, redakteur van Die Burger, en Schalk Pienaar, redakteur van Die Beeld. Hulle was manne wat die politiek en politici goed geken het en wat geglo het hul koerante se taak is om verkenners te wees oor hoe die volk voel en altyd ’n tree of wat voor die Nasionale Party te wees as „bespieders op die weg”.

Ebbe Dommisse
Later het Nasionale Pers ook belanggestel in ’n samesmelting met Voortrekkerpers en die storie oor die onderhandelinge lui dat Phil Weber en Marius Jooste mekaar in die lug gekruis het – Weber om met Voortrekkerpers te gaan onderhandel en Jooste om Voortrekkerpers met al sy kabinetslede wat ook in die direksie gedien het, te gaan oorhaal om die ooreenkoms met Afrikaanse Pers te teken. Onnodig om te sê wie gewen het en wie vas aan die slaap was!

Deur die jare het Die Burger se Johannesburgse verteenwoordigers – waaronder Johan de Wet, latere Rapport-redakteur, en Blaar – ook heel tuis in Die Transvaler se kantore gevoel en ons dikwels besoek.

Daar was diepliggende geskiedkundige politieke verskille tussen die twee koerante wat daartoe gelei het dat die „samesmelting” (wat eintlik niks anders as ’n oorname was nie) nie ewe gemaklik in al Die Transvaler-manne se klere gesit het nie. As deel van die proses het Marius Jooste Die Transvaler se redaksie op ’n dag vir ’n ete in die Stadskouburg genooi om hulle sag te maak vir die nuwe persreus.

Bob van Walsem
Voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog was Die Vaderland ’n Afrikaanse middagblad in Johannesburg wat die Verenigde Party onder leiding van genl. J.B.M. Hertzog as eerste minister en genl. Jan Smuts ondersteun het.

Kaapse Nasionaliste het Die Transvaler in 1937 in Johannesburg gestig as spreekbuis van die Gesuiwerde Nasionale Party met dr. Hendrik Verwoerd as eerste redakteur. Die Transvaler was toe Johannesburg se enigste Afrikaanse oggendblad en was heftig gekant teen die Verenigde Party, wat neerhalend „die smelters” genoem is.

Smuts en Hertzog het die land herhaaldelik verseker dat SA nie aan die Wêreldoorlog sou deelneem nie, maar Smuts het sy leier in die party, in genl. Hertzog se eie woorde, in die rug gesteek deur die Parlement op 4 September 1939 te beweeg om aan die kant van Brittanje tot die oorlog teen Duitsland toe te tree.

Albert Crafford
Dit het tot genl. Hertzog se bedanking as eerste minister gelei en die Verenigde Party van bo tot onder geskeur. Saam met Hertzog bedank ook vyf kabinetslede: N.C. Havenga, adv. Oswald Pirow, adv. H.A. Fagan, genl. J.C.G. Kemp en mnr. A.P.J. Fourie.

Die Vaderland het toe saam met Hertzog teen die Verenigde Party gedraai.

Gelukkig het die samesmelting redelik glad verloop en was die twee koerante so verdiep in die sirkulasiestryd met Nasionale Pers as die gemeenskaplike vyand en met redakteurs soos Dirk Richard en Willem de Klerk aan die stuur het die twee dagblaaie skouer aan skouer dieselfde politieke taal gepraat.