Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.1.21

Huldeblyk aan Coenie Slabber

KARIN PRETORIUS bring hulde aan Coenie Slabber (81) wat die afgelope 23 jaar dieselfde woonstelblok as sy in Bloubergstrand gedeel het.  Hy is verlede week oorlede.

Sy skryf:  Hy was ‘n goeie vriend, altyd beleefd teenoor my, vriendelik maar stil en baie privaat. 

25.1.21

Stella Niemand tree uit

K’rant se redaksie het met ‘n derde verminder. Stella Niemand het aangekondig dat sy as taalversorger van K’rant gaan uittree. 

Ons is Stella diep dankbaar vir die jare se getroue diens wat sy verrig het om K’rant ‘n suiwer Afrikaanse publikasie te hou. 

Stella was en is ‘n taalpuris en het haar voortdurend op die hoogte gehou met die evolusie van ons taal. 

Ons wens jou alles van die heel beste toe vir jou welverdiende aftrede, Stella.  Weer eens BAIE DANKIE! -- Redakteur.

23.1.21

Coenie Slabber sterf

Netwerk24 het gister berig dat Coenie Slabber (81), ’n voormalige kunsredakteur van Rapport, vroeër vandeesweek dood in sy woonstel in Bloubergstrand aangetref is.

22.1.21

Komkommertyd by die koerant

KARIN PRETORIUS skryf: Met komkommertyd pas agter die rug in die joernalistieke wêreld, onthou jy dít as die gonswoord toe jy in 1970 as groentjie by Die Transvaler in Braamfontein aangesluit het. Moenie kla oor harde werk deur die jaar nie, het die ou hande gewaarsku, want Desember en Januarie is komkommertyd en dan skep almal asem. Baie min werk, het hulle opgemerk. En só was dit dan ook.

Nuusredakteur Hennie Kotzé sou in Desember/Januarie met sy groot swart dagboek om 10:00 by die algemene kantoor opdaag vir die redaksionele vergadering en met ‘n verleë laggie vra: enige voorstelle vir ‘n storie vandag? En dan sou ons grootoog na mekaar staar en wonder: wat nou?