Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.3.16

Die Vaderland se mooiste mevrou nou weer gekroon

Die mooie Candice Abrahams is in Oktober 2015 as Mev Suid-Afrika en nou die dag as Mev Wêreld gekroon.

Maar dis vergete dat die eerste Mev Suid-Afrika-wedstryd 46 jaar gelede deur Die Vaderland aangebied is. Dit was ‘n groot sukses.

18.3.16

Perskor-reunie beste in jare

PEET SIMONIS skryf: Die afgelope naweek se Perskor-reunie was een van die beste in jare.Meer as sestig oudkollegas van Perskor het by die Keg and Eagle in Johannesburg die geleentheid bygewoon.

Daar is heerlik saam gekuier en geëet. Hans Lombard, wat eersdaags 90 word en nog op en wakker is, het almal vermaak met sy lekker stories uit sy joernalistieke dae.

Hy het wonderlike materiaal vir ´n boek. Toe iemand voorgestel het dat hy die staaltjies oor sy joernalistieke ervaringe moet boekstaaf, het dit groot byval gevind. (Volgende jaar se reünie is dalk net die plek om die boek bekend te stel, Hans? - Red.)

16.3.16

Skitterende reünie

Solly van Staden
PIET ROOS skryf: Die Perskorreünie Sondag was skitterend.

Groot was my verbasing toe ek my ou pêl, Solly van Staden weer raakloop. In 1973 het ons by Komatipoort gaan verslag doen oor die Portugese wat uit Mosambiek vlug.

Dit was die lekkerste trippie uit. Ek en Solly het op Komatiepoort gebly en tunaslaai geëet en op die brug by die Krokodilrivier gaan kyk na die vis en krokodille.

Dit was 'n trippie van twee dae, maar ons het 'n week gebly. Daar was feitlik geen foto's of kopie nie, maar ons het dit geniet!!

14.3.16

Vier rugbyspioene skrum ná 40 jaar saam

Vier veterane het nou die dag vir ʼn foto langs mekaar gaan sit, van links na regs, in dieselfde volgorde as op ʼn foto wat veertig jaar tevore in Nieu-Seeland geneem is. Dit was nogal ʼn heuglike geleentheid toe John du Toit, Wessel Oosthuizen, Herman le Roux en Gerhard Burger op John se plasie by Eikenhof, suid van Johannesburg, byeengekom het.

Die vier, wat verskeie internasionale toere saam meegemaak het, het ewe besadig ʼn wyntjie gedrink en toe saam met John se vrou, Colleen, en hul dogter Elmarie ʼn middagete geniet waaroor ʼn tydskrif-artikel geskryf kan word.

11.3.16

Klein Charles loop kaalbas weg om te gaan jag

Illustrasie
Heleen Clemens van Pretoria het vir ons 'n interessante versoek gestuur.

Haar man, Charles, het haar vertel hoe hy in 1968 die voorblad van Hoofstad gehaal het toe hy as 4-jarige seuntjie van die huis in Villeria af weggeloop het met net sy rooi speedo aan en 'n jagmes om sy lyf. Hy is toe by Pretoria-stasie gekry waar hy vertel het dat hy op pad Suidwes (Namibië) toe was om te gaan bokke skiet!

Heleen wonder of daar 'n leser van K'rant is wat dalk die storie geskryf het? Sy wil baie graag ook die koerant opspoor waarin die berig verskyn het.

Kom ons kyk of ons vir Heleen kan help. Laat weet gerus vir K'rant as iemand iets hiervan kan onthou. - Red.)

10.3.16

Koos Botha onthou die flenters van die ewigheid

KOOS BOTHA het vir Die Vaderland gewerk tot Maart 1962, daarna elf jaar vir die SAUK-nuusdiens en toe weer 20 jaar vir Die Transvaler tot April 1993. Sy twee jongste kinders, Daan (25) en Ruth (20) is in Februarie 1993 in 'n padongeluk by Winburg dood. Hy het op 9 Februarie sy kinders gaan uitken op Winburg en in Bloemfontein. In die jare daarna het hy oor hul dood geskryf en sy boek daaroor, Flenters van die Ewigheid, het in Julie 2015 verskyn.

Koos skryf: Ek het in die afgelope 23 jaar sedert die sluiting van Die Transvaler my hoofsaaklik met my boek en houtwerk, ook houtbeeldhouwerk, besig gehou.  Ek het nog nie 'n bydrae vir K´rant gestuur nie. Hier is iets oor my boek.

9.3.16

Huldeblyk aan Marius Kleynhans

JOHAN PRETORIUS skryf: Om ‘n huldeblyk te lewer ná die dood van iemand anders wat jy baie goed geken het, moet jy uiteraard gaan sit en dink wat om te sê, en dit dan verwoord.

Soms sukkel jy om genoeg karaktertrekke, eienskappe en prestasies van ‘n sekere mens te onthou, en om dit weer te gee sonder om hier effe te oordryf en daar bietjie aan te dik. Of om sekere dinge te onderbeklemtoon. Al is dit dan net om sy naasbestaandes te laat goed voel oor sy nagedagtenis.