Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.2.19

Joviale Phil, die ‘ou’ wat in "HD" kon skryf

 JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Die oorlye van Phil Zaayman het ‘n paar gawe herinneringe laat opdoem van hierdie goed-gepekelde sportskrywer wat nou nie meer met ons is nie.

Die man wie se ‘byline’ boaan sportberigte so deel was van rugby, boks en ander sportsoorte, soos die spelers sélf.

Min skryfvaardiges kon ‘n Springbok-sege of Curriebekereindstryd so passievol en kleurvol met woorde skilder soos Phil Zaayman. Sy superhelder manier om met woorde te skilder was ‘n soort vroeë voorloper van die ‘HD’-televisie.

16.2.19

Voorbladnuus: geen krag vir 35 minute

Voorblad van Die Transvaler, Oktober 1947.
Bron: HIER.

12.2.19

Sportredakteur Phil Zaayman oorlede

PHIL ZAAYMAN, ʼn voormalige sportredakteur van Rapport, is Maandagoggend vroeg op Hermanus oorlede. Hy was 78 jaar oud.

As rugby- en boksskrywer was Phil een van die bekendste sportjoernaliste in Suid-Afrika. Hy was die afgelope maande siek en is in ʼn sorgeenheid naby hul huis oorlede. Hy laat sy vrou, Louise, en twee kinders, Phil Jr en Liezel, na. Die foto’s hieronder van Phil het ons op Facebook raakgeloop wat Wessel Oosthuizen geplaas het. Hy het menige keer Phil op sportbyeenkomste as fotograaf vergesel.

Fotograaf Dougie Lee oorlede

DOUGIE LEE, die bekende fotograaf wat destyds onder meer by The Citizen en  Rapport gewerk het, is Sondag in Bela-Bela (Warmbad) oorlede. Hy het saam met sy vrou, Rona, daar gewoon. Ons het nog geen nadere besonderhede nie.

11.2.19

Verrassing die bloedbroer van skok

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: 'n K'rantstorie wat my baie lekker laat lag het, was "Philip voorspel die sterre". As hy steeds Die Sterre Voorspel geskryf het en as dié "Sterre" dálk nou die dag vir my 'n gróót verrassing "voorspel" het en ek dálk een van die diereriem‐bygelowiges was, sou ek dadelik katvoet beweeg het. Want sowaar as vet, 'n verrassing is partykeer niks anders as die bloedbroer van skok nie. Maar in dié geval? Wel, laat ek maar sê dat ek nou met 'n meer optimistiese oog na verrassings kyk.

Want nog skaars het ek Piet Ebersöhn se gesprek met Hermie Hendriks (1/3) weer gelees ‐‐ waarin Hermie onder meer oor Piet Meiring gesels ‐‐ of een van die laasgenoemde se boeke het asof met die klap van 'n vinger in my hande beland! Dit het só gebeur:

6.2.19

Reünie, 24 Maart 2019

LOUISE BLAKE skryf: Dis weer tyd vir ons jaarlikse saamtrek van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens). Dit word deur Dagbreektrust geborg.

Die komitee, onder leiding van voorsitter Harald Pakendorf en bygestaan deur sy gade Aletta, Margaret Lombard en Louise Blake, het besluit om die funksie weer by dieselfde restourant as die afgelope paar jaar te hou. Die restourant het van naam verander. Dit was die Keg & Eagle en is nou die Irish Rock.

2.2.19

Christo Lemmer was ‘n Suidwester

SANTIE LEMMER het ons 'n bietjie van Christo se agtergrond vertel. Christo was 65 jaar oud toe hy verlede Saterdag oorlede is. Hy is gebore in Grootfontein, Namibië en het in 1970 aan Hoërskool Otjiwarongo gematrikuleer.

In Windhoek het hy by Die Suidwester, Die Suidwes-Afrikaner en die Windhoek Advertiser gewerk.

Hy het in Mei 1976 by Die Transvaler ingeval tot Februare 1983 toe die koerant toegemaak het. Christo het van Maart 1983 by Die Vaderland tot sy sluiting in Maart 1993 gewerk.

Ná dit was hy vir ‘n paar jaar by MultiChoice en daarna by Beeld van Januarie 1998 tot September 2003. Christo het in Februarie 2010 by The Citizen afgetree.

Hy het net een suster van sy familie wat nog leef. Christo word oorleef deur sy vrou Santie, een seun, een dogter en een kleinseun. ‘n Kleindogter is op pad.