Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

12.7.12

Die dag toe Gary Player Die Transvaler se hoof-sportberig "geskryf" het

PIETER KRUGER skryf: Ek glo nie daar is’n joernalis wat in die jare sewentig en tagtig by Perskor gewerk het, wie se paadjie nie met dié van die legendariese Joe Venter gekruis het nie. My eerste kennismaking met Joe was vroeg in 1981 toe Leendert Pieterse my Sun City toe gestuur het, seker maar om verslag te doen oor die Sun City-ope, die voorloper van die eerste Miljoen-dollar-toernooi.

Joe Venter
"Maak ‘n draai by Joe Venter in die mediakamer, hy sal jou onder sy vlerk neem," het Leendert die Vrydag gesê net nadat ek my R11,50 se dagloegaag ontvang en seker gemaak het dat die Datsun Pulsar vol petrol was voordat ek koers gekies het Pilanesberg toe.

Nadat ek my aan Joe voorgestel het, was sy eerste woorde: "Kry vir ons ‘n dop." Hier kort voordat die son begin water trek het, het Joe die telefoon nader getrek en sy "stoep, balkon en lead" begin dikteer soos belowe aan sportredakteur Peet van Staden (as ek reg onthou).

Joe het skaars na sy aantekeninge gekyk, sy kuif so elke nou en dan uit sy oë gevee en nog ’n slukkie gevat.

Ek kon nie die kloutjie by die oor bring nie, want sy eerste twee berigte het sin gemaak ... dit was immers oor die dag se spel met aanhalings van spelers met wie Joe gesels het.

Maar die "lead" het gehandel oor Gary Player wat sê wie hy dink gaan hom opvolg. Toe Joe selfvondaan die telefoon neersit, het hy die wind uit my seile gehaal nog voordat ek die vraag kon vra.

"Kom ons gaan haal die 'lead'."

Ons het na die oefenbof gestap en elke (bekende) gholfspeler het Joe op sy voornaam genoem, blad geskud en oor die dag se spel gesels.


Gary en Vivienne Playe
Ons het tot langs die oefensetperk gestap waar Gary besig was om sy sette op te knap. Gary het sy oefeninge onderbreek toe hy ons (eintlik Joe) sien.

"Hallo, Joe, en hoe gaan dit met Jules (Joe se vrou)."

Ná ‘n rukkie vra Joe: "Gary, wie is jou logiese opvolger."

"Ag Joe," sê Gary. "Hier is baie goeie jong spelers, soos Bobby Cole, Dale Hayes, Cobie le Grange, Denis Watson, Mark McNulty ..."

"Nee, Gary, daar stap hy hotel toe...Wayne Player."

"Ag Joe, as jy so sê, is dit seker maar reg."

En toe het Joe se "lead" die eerste keer vir my sin gemaak ...