Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.4.24

REÜNIE, 2024: GEBORG DEUR DAGBREEKTRUST

Dis weer tyd vir lekker kuier by ons volgende reünie van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers  (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens). Die reëlingskomitee, onder leiding van voorsitter Harald Pakendorf en bygestaan deur sy gade Aletta, Louise Blake en Madelaine Page, het besluit om vanjaar weer ‘n funksie by dieselfde restourant – die Irish Rock -  te hou. 

Die saamtrek vind op Sondag 19 Mei 2024 plaas. Die ete begin stiptelik om 12:30. Kom van 11:30 af en kuier eers lekker saam. Daar is ‘n kontantkroeg. 

Die Irish Rock se buffet bied as voorgereg Griekse slaai; as hoofgereg oondgebraaide beesvleis, hoenderpastei, botterskorsie, roomspinasie, aartappels, rys en sous; en as nagereg malvapoeding en roomys.

‘n Bottel elk rooiwyn en witwyn sal gratis per tafel uit ons fondse verskaf word. Ekstra wyn en ander drankies, bier en koeldrank kan by die kontantkroeg bestel word. Koffie en gebottelde water is ook vir jou eie rekening. 

Ons word nie altyd in kennis gestel van oudkollegas wat intussen afgetree het en nuwe eposadresse het nie; indien jy van sulke gevalle weet, stuur asseblief die uitnodiging aan hulle of stuur die nuwe eposadres aan Louise. Ons het plek vir 50 mense, so wikkel en bespreek julle plekke so gou moontlik. 

Die Irish Rock se adres is West Rand Retail Crossing, h/v Nic Diederichsboulevard en Hendrik Potgieterweg, Wilgeheuwel, Roodepoort. 

 Padaanwysings:

Uit die Johannesburg-omgewing: neem die Beyers Naudé-afrit en ry noord verby die Lifestyle-kwekery en draai links in Eastwoodlaan. ‘n Klein entjie verder vurk die pad. Hou regs in Scottlaan. Dit verander na Paul Krugerweg en later Nic Diederichsboulevard. Hou vir etlike kilometers reguit aan, verby SASOL-VULSTASIE (links), steeds reguit aan oor die  verkeerslig, ry teen die bult af  en draai links by die eerste verkeerslig in FLORINWEG. Eerste straat regs om sirkel. Weer eerste straat regs by sentrum in. Die restourant is links op die punt. Volop veilige parkering tot agter die restourant. Stap deur na die stoep.

Vanaf Pretoria:  neem die N14 na Krugersdorp. Ry tot by eerste verkeerslig. Draai links. Dit word Hendrik Potgieterweg. Draai links in Nic Diederichs- boulevard etlike kilometers verder aan by Retail Crossing. By die eerste verkeerslig draai regs in FLORINWEG en volg aanwysings soos hierbo. -- Harald en Aletta Pakendorf, Louise Blake en Madelaine Page.

21.4.24

Koerantman Frikke leer TV ‘n ding of twee

PEET VAN STADEN skryf: FRIKKIE VAN DER WALT, eens onder meer nagredakteur van Die Transvaler, is Maandag, 8 April ná ʼn tweede ernstige siekbed op 80 oorlede. Hy het sy lang en kleurryke loopbaan by Perskor opgevolg met ʼn nog langer en ewe merkwaardige skof by die TV-nuusredaksie van die SAUK.  Hy laat sy vrou, Susan, en twee kinders agter.

Hy het laat in die jare 1960 by Die Vaderland begin waar hy hom as misdaadverslaggewer onderskei het en lewenslank geesdriftig vertel het van die karakters en ervarings wat hy in daardie wêreld beleef het.  Daarna het hy na Die Transvaler se redaksie verskuif waar hy later nagredakteur was tydens die groot tweestryd met Beeld.

18.4.24

Elise herstel na ernstige terugslag

PEET VAN STADEN skryf: ELISE VAN STADEN herstel tuis in Randburg ná ‘n ernstige terugslag. Die voormalige vroueredaktrise van Die Vaderland en later akademikus het in Desember uit die bloute ernstige longontsteking gekry waarna sy drie weke in ʼn koma en altesaam vyf weke in die waakeenheid was. 

Dr Elise van Staden

Sy was teen die derde week van Januarie 2024 terug by die huis. Al was sy baie verswak, het sy geen blywende skade opgedoen nie. Haar herstel vorder so goed dat sy sonder hulp stap en baie van haar vorige pligte uitvoer. 

Elise het in Desember 1969 by die vroueredaksie van Die Vaderland begin, gesub en algemene verslaggewing gedoen. Sy het ook by Hoofstad gewerk en vroueredaktrise by Die Vaderland geword voordat sy Sarie toe is. Sy het tussenin kinders grootgemaak, skoolgehou en uiteindelik by die Randse Afrikaanse Universiteit gedoseer.

11.4.24

Koos Doep se kronkelpad* koerante toe

PEET VAN STADEN SKRYF:  DIE joernalistiek skep maar met ’n growwe sif uit die ervarings wat hy aanbied: altyd laat hy gedenkwaardige geleenthede deur weens werk, oordeel, selfs luiheid. By my hope kostelikes is ek armer omdat ek nooit in die Concorde gevlieg of Frank Sinatra by Sun City gesien of die toetsuur beleef het met Graeme Pollock en Barry Richards se vennootskap teen Australië nie.

Of een van Koos du Plessis se sangaande nie. Die ergste is ek het nooit rerig daarvan geweet nie totdat Leendert Pieterse jare later vertel en ek nou die dag terloops toe ek Wim van der Berg se K’rantvertelling daaroor raakgelees het.

En tog ken ons mekaar -- meer bepaald ken ek hóm -- lank voordat enige van ons twee joernaliste geword het. Wat my laat dink dat ek miskien my bietjie moet vertel van hoe hy in die koerantwese beland het.

22.2.24

Waar is Tom se rubriek?

Tom Buys
Arica van der Westhuizen skryf: Ek is besig met navorsing oor my oorlede pa, Tom Buys.

Hy en Len Lindeque het destyds ‘n "rubriek" saam hanteer, genaamd “Só is Hulle".  Ek is nie seker of dit in Die Vaderland of Perskorhaan gepubliseer was nie.  Ek is opsoek na daardie material --  my pa se artikels en Len se sketse.

 Weet iemand dalk waar ek dit kan kry, veral die artikels wat my pa geskryf het.

(Tom was hoofsub en nuusredakteur van Die Vaderland in die vroeë  sewentigs. Is daar iemand wat weet of daar 'n argief is waar ou eksemplare van Die Vaderland, Die Transvaler en ander Perskorpublikasies geberg word?  K'rant het al heelwat navrae hieroor gehad.--Red.)

10.2.24

Lucia (Van den Bergh) Prinsloo oorlede

LUCIA (VAN DEN BERGH) PRINSLOO, voormalige verslaggewer by Hoofstad is Dinsdag, 6 Februarie 2024,  in die St George's-hospitaal, Port Elizabeth oorlede.

Sy was 67. Sy ek haar tandartsman, Dappie, het in Jeffreysbaai gewoon.

Lucia het meer as jaar terug 'n nieroorplanting gehad.  Haar broer, Van Rooy van den Bergh, was die skenker. 

'n Vorige berig oor Lucia is HIER

11.1.24

‘Afrikaanse Alistair MacLean’ oorlede

PAUL C. VENTER skryf: DIE skrywer Calvyn van Niekerk is op 8 Januarie 2024 aan nierversaking oorlede. Ons innige simpatie met sy weduwee en familie. 

In sy laaste jare het Calvyn stil in Durban gewoon, die stad waar hy in die sewentigs as tydskrifjoernalis sowel as skrywer van stringe avontuurboeke en ʼn horde fotoboekies vir Republikeinse Pers gewerk het. Toe was hy die man na wie jonges soos ek geluister het.