Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.7.12

Waarom het Perskor die stryd teen Nasionale Pers verloor?

ANDRIES BOTHA skryf: Beeld is ’n Pretoriase koerant met hoofkantoor in Johannesburg.

Sonder sirkulasiesyfers voor my is ek bereid om my kop op ’n blok te sit dat die meerderheid van Beeld se lesers in Pretoria sit. G’n wonder Loftus is Saterdae vol Beeld-plakkate met dié spreuk daarop: “Ons bloed is blou”.

Daarin lê myns insiens die sleutel tot Beeld se oorwinning oor Die Transvaler in die sirkulasiestryd.

Pretoria
Die Transvaler was ook – en waarskynlik nog meer so as die huidige Beeld – ’n Johannesburgse dagblad met die oorgrote meerderheid van sy lesers in Pretoria.

Dus, Die Transvaler was ingewortel in die hart en siel van Pretoria. Niks sou hom daardie posisie kon ontneem nie.

Pleks dat Perskor op sy sterkpunt konsentreer om daarvandaan uit te brei, verwar hy die mark met nog ’n Pretoriase koerant (met apologie aan my Oggendblad-kollegas), wat nooit by benadering Die Transvaler se Pretoria-syfers kon haal nie. Die futiele oogmerk was om die Pretoriase mark vir Beeld te sluit.

Kyk na Beeld vandag: soek ’n huis of woonstel of kyk na enige ander kleinadvertensie. Dis net Pretoria, Pretoria, Pretoria. As ’n Johannesburger, Oos- of Wes-Rander iets soek, moet hy maar The Star of The Citizen se kleinadvertensies raadpleeg.

’n Tweede rede is dat die Nasionale Pers van destyds eers koerante uitgegee het en dan drukwerk gedoen het. By Perskor was dit andersom.

En ’n mens kan Perskor dit eintlik nie verkwalik nie, want deur politieke invloed het die maatskappy groot staatsdrukkontrakte verwerf waaronder die Poskantoor se telefoongidse seker een van die belangrikste was.

En dan praat ons vandag neerhalend van “tenderpreneurs”! Nee, kyk die hedendaagses het inderdaad goeie leermeesters gehad.

Connie Mulder
PW Botha
Maar toe verloor Connie Mulder die premierstryd in die tweede helfte van 1978 teen PW Botha op die rug van die sogenaamde “Inligtingskandaal”, wat Mulder se ondergang in die politiek meegebring het. (Die sogenaamde “skandaal” het nooit gelei daartoe dat ’n enkele rolspeler aangekla is van enige wetsoortreding nie. Iemand in baie hoë geselskap het die inligting oor die “skandaal” aan die Sunday Express gelek en ek het nie baie twyfel oor wie dit was nie.)

Met PW aan die stuur, het staatskontrakte skielik nie meer met die Suidooster van die Kaap af na Perskor aangewaai gekom nie. Dis nie moeilik om te raai wie toe die staat se witbroodjie was as dit op drukwerk aangekom het nie.

En dan was daar die bevrore kalkoene en hoenders (met “best before July” daarop) wat as Kersbonusse vir Perskor-personeel moes dien, terwyl die Nasionale Pers-manne met dubbeltjeks gespog het. Dit was en bly ’n bitter pil.
  • Liewe kollegas, dis nou maar my beskeie siening van sake oor hierdie kwessie. Ek maak nie aanspraak op volledigheid of dat ek syfers voor my had nie. Dit sal gaaf wees om ander menings hieroor te hoor, veral van oud-kollegas wat met feite gewapen hieroor kan gesels.