Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.7.12

Perskorhane de hoenders in oor Kersbonus

PHILIP DEETLEFS dink terug aan die dae van Perskor se hoenderbonusse met Kerstyd:

Ons Kersfeesbonus was by geleenthede ’n bevrore hoender wat ons in die kafeteria moes gaan afhaal. En om te sorg dat niemand dalkies twee van die flippen goed vat nie, moes jy geteken het dat jy jou hoender ontvang het. Dubbel-bonusse was nie aan die orde van die dag nie.

"Hier's jou bonus!"
Ek sal nie name noem nie, maar een jaareinde was dit weer sulke tyd en daar was een of twee redaksielede wat nie baie in hulle skik met hierdie grootse gebaar was nie. Die boonste verdieping by Perskor in Nieu-Doornfontein was die domein van die hoogste mensheid in die organisasie en ons het altyd gepraat van die houtgang, want die mure het so ’n hout-veneer-bedekking gehad.

Een aand toe die koerant al in die kooi gesit was, het die ouens met die hulp van een of twee voorheen vervieste sekuriteitsbeamptes toegang tot die houtgang gekry en kon die plan gemaak tot uitvoer gebring word.

Een van die houtpanele is afgeskroef en die nog bevrore hoender is agter die paneel weer toegeskroef.

So ’n paar dae later het die houtgang nie meer eintlik vars en koninklik geruik nie. Niemand kon die oorsprong van die vrot opspoor nie en na ’n hele klompie speurders uit die geelbladsye moedeloos tou opgegooi het, het iemand op ’n dag die vrot hoender agter die houtpaneel ontdek.

Ek dink daar was ’n losprys op die mense se kop wat seker nou nog genoeg is om met ’n gesin op ’n wêreldreis op ’n luukseboot te kan gaan. Ek het geen twyfel nie dat as hy destyds gevang sou wees, hy bra grusaam tereggestel sou word.