Corrie Roux |
onder redaksie van Peet Simonis.
PIET EBERSöHN skryf: DIE koning van die nuusfotograwe! Só bestempel Neil Steyn vir Corrie Roux, jare gelede fotograaf in Die Transvaler se Pretoriase kantoor.
Gert Hattingh en Eric Ströh het uitgetroon as sportfotograwe, maar niemand kon by Corrie kers (of flits) vashou as dit by nuusfotografie kom nie, sê Neil.
Koffie in die hand (ek darem met ‘n koue Kasteel) roep Neil van dié herinneringe op toe ons ’n slag saam kuier. Hy was destyds misdaadverslaggewer in Pretoria en DT se kantoor was in die Constantiagebou in die middestad. Oom Gus Cluver was die kantoorhoof.
Bo: Die karakters in meegaande storie was almal in Januarie 1971 lid van Die Transvaler se Pretoriase redaksie. Voor sit van links Neil Steyn (die verteller), oom Gus Cluver, Sakkie van der Merwe, Corrie Roux (die held) en Hennie van der Walt. Agter staan André du Plessis, Lynette Steenkamp, Annette Human, Elna Viljoen, Cecile Steyn, Jeanette Wolhuter en Tinie Prinsloo.
Só vertel Neil:
Corrie het die ongelooflikste kontakte met die polisie en die weermag gehad, en in die dae voor skakelbeamptes en nuuskonferensies het dit nog al dikwels tot daardie gesogte “scoop” gelei.
Een aand storm hy die kantoor in en roep my dringend. “Daar het ’n vliegtuig by Pienaarsrivier geval. Maak gou!”
“Weet jy waar?” vra ek en hy sê: "Ja, presies".
Ons is in die Pers se Volkswagen Kewer daar weg en jaag noord, later op grondpaaie. Na aan die plek moes ons vir ’n swarte vra waar die vliegtuig geval het, maar ons kry dit gou. ’n Harvard.
Ons was eerste op die toneel. Daar was niemand in die wrak nie. Ons het in die donker gesoek en Corrie kry toe later die vlieënier se afgerukte arm.
Corrie het sy foto’s geneem en sy kameras gebêre. Toe die lugmag veertig minute na ons daar opdaag, en die polisie nog later, was ons bloot nuuskierige omstanders. Terug op kantoor het ek een van my rugbykennisse, ’n lugmagoffisier, gebel om die res van die storie in te vul.
Die pers is by die ongelukstoneel verbied en DT was die volgende dag die enigste koerant met foto’s van die ongeluk – tot die weermag en die polisie se grootste verbasing.
By ’n ander geleentheid het daar ’n bom by die een of ander minister se kantoor in die Veegeboue ontplof. Die Veegeboue is ’n bekende landmark in Pretoria, so ’n groep plat rooibaksteengeboue, op die hoek van Beatrixstraat en Soutpansbergweg, waar Landbouinligting die afgelope klompie dekades gevestig is.
Danksy Corrie se goeie kontakte was ons weer eens ’n goeie kwartier voor die polisie op die toneel, en Corrie se foto’s klaar geneem toe hulle opdaag.
Ons word toe summier weggejaag, maar Corrie is haantjie. “Ek gaan die foto’s in die koerant sit,” vertel hy die luitenant in beheer.
“Sit hulle in as jy hulle kan kry,” was die selfversekerde antwoord.
Die volgende dag het DT die ander koerante hard geslaan.
Skaars op kantoor, word ons na die Kommissaris van Polisie se kantoor ontbied. Oom Gus wag toe al daar en DT moet verduidelik hoekom die “verbode” foto’s geplaas is. “Maar ons het toestemming gehad,” is Corrie se verweer.
Wie het dit gegee? wil die kommissaries weet. Corrie noem die luitenant se naam, wat terstond ontbied word.
Met sy intrapslag sê Corrie dis die regte man. “Dis hý wat gesê het ek kan die foto’s insit.
Dié protester nog dat al wat hy gesê het, is dat Corrie die foto’s kan insit as hy dit kan kry en hy was onbewus dat dit reeds geneem is.
“Julle kan maar gaan,” het die kommissaris ons summier gegroet. Wat met die luitenant gebeur het…
En Neil kry ’n trek van groot genoegdoening op sy gesig en ’n ver kyk in sy oë.