Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.9.14

Bienkie onthou die lekker van haar kollegas

BIENKIE WESSELS skryf: Dis die sien van Japie Bosch (Betaalmeester - of so iets?) se naam wat my doerie goeie dae laat onthou en besiel om iets te begaan.

Immer hulpvaardig, het Japie meermale bygedra as hy merk iemand sit en kraam; en wanneer die betrokke ou dan 'n blaaskans vat en 'n draai gaan loop, voeg hy gou iets tot die storie by.

Sy wenke het nogal gehelp. Kan nie onthou dat ek hom ooit met iets bygekom het nie, maar hy't 'n mens gedryf tot 'n paar groot woorde - daardie tyd was donner 'n yslike swetswoord - en dan was die breinverbindings beter en kon jy verder skryf.

26.9.14

Len, sanger soos min, sing met Min

Verlede week het Hanlie Swanepoel-Vornberg onder meer van Len Lindeque se bekering vertel. In daardie tyd het Len ook langspeelplate gemaak. In Perskorhaan van Augustus 1972 het die volgende berig verskyn:

"Ná my ernstige motorongeluk verlede jaar waarin ek amper gesterf het, het ek besluit om my talente in belang van Christus en sy werk te wy ... “

23.9.14

Jammer, Hanlie

'n Webjoernal het nie 'n drukkersduiwel nie, seker maar 'n kuberduiwel.  Dié duiwel het gister met Hanlie Swanepoel-Vornberg se storie gelol.  Dele daarvan het verdwyn.  Dit is later reggestel.  Die volledige storie is HIER

22.9.14

Die Hugenoot en die Viking

 HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Dit was vanoggend lekker om oor Hermie te lees. So bly hy is nog met ons en dat dit goed gaan met hom.

Die joernalisteskool was oorkant 'n ry tydelike kantore waar die redaksie van Motorgids gehuisves was.

Motorgids was, soos die naam aandui, 'n motortydskrif en die redakteur was die aantreklike Jan Olivier.

17.9.14

Onder Len Lindeque se vlerke

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Len Lindeque se kantoor was reg langs myne by die Rooi Rose-redaksie. Ons was in die "agterbuurtes" van die gebou.

Ek en Elma van Vuuren, later Elma Meyer, was die kuikens in die redaksie. Len was ons mentor en het ons onder sy vlerke geneem.

In sy oorvol, slordige maar karaktervolle kantoortjie het hy meestal kop onderstebo by sy oorhoofse projektor sit en werk.

Regstelling

Hermie Hendriks sê sy oudkollegas moet nugter bly?

Waar kom julle daaraan?

Die stukkie goeie raad van Hermie was deel van 'n foto-byskrif wat in die slag gebly het en in die redakteur se agterkop vasgesteek het toe hy die kop vir die storie geskryf het. Bly goeie raad ...

15.9.14

“Bly nugter” waarsku Hermie

HANS LOMBARD skryf: Op Vrydag 5 September het ek Hermie Hendriks en sy dogter Hermien by die tuiste vir bejaardes, Huis Hoëveld, net agter die Wesparkbegraafplaas, Johannesburg, gaan oplaai vir ‘n heerlike middagete by die ou bekende Thunder Gun Steakhouse in Blackheath, Johannesburg.

Hulle doen al sake sedert 1968 en Hermie sê in sy Vaderland-dae het hy en van die manne gereeld daar geëet. Sy dogter, Hermien, bly ook in Huis Hoëveld. Sy kyk goed na haar pa. Sien hom feitlik elke dag. Hermie het mooi herstel nadat hy vroeër vanjaar geval het. Hy loop nie meer met ‘n loopring nie en het self aangestap na die motor.

9.9.14

Koei red my uit verknorsing

HANS LOMBARD skryf: My ma het my altyd gewaarsku: “Moenie met vreemde meisies ‘n geselskap aanknoop nie.” Maar soos ‘n mens ouer word en 21 verbysteek, dink jy mos jy kan al self dink en nie dis onnodig om altyd ma se raad te volg.

Só gebeur dit een Sondagaand op die lughawe in Parys, Frankryk. Ek was op pad terug Londen toe op die goedkoop vlug wat om middernag sou vertrek. Dis 00:30 en ‘n beampte kondig aan die vlug is vertraag en ons word getroos met sjampanje.

3.9.14

Hanlie vertel self

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Ek het toevallig by ´n familielid van K´rant gehoor en natuurlik dadelik gaan loer. Jou wrintigwaar daar het intussen sommer dadelik 'n hele paar mense oor my geskryf en my ná al die jare in die buiteland onthou!

Ek was een van die agt wat destyds die eer gehad het om Perskor se joernalisteskool by te woon. Ons was vier vroue en vier mans, het almal wonderlik met mekaar oor die weg gekom en was groot bewonderaars van Hermie Hendriks.