Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.7.12

Die dag toe Len my voete onder my uitgeslaan het

JAPIE BOSCH skryf: Op ‘n dag in 1977/78 het Len Lindque my ‘n streep getrek wat my die grootste verleentheid van my lewe besorg het.

In die subkantoor by Die Vaderland in Doornfontein was ene Bok (ek het sy van vergeet) besig om ‘n blad op te maak. Len het na my toe gekom by die nuustafel waar “deadline” pas verby was.


“Vra ‘n bietjie vir ou Bok hoeveel lengtes kan sy broer in die swembad swem,” was sy versoek. “Ons wil hom (let wel) ‘n streep trek,
maar jý moet hom vra, want jy’s die nuusredakteur. Dit sal nie so goed werk as dit iemand anders is nie,” het hy my heuning om die mond gesmeer. En jy moet daar by ingang van die kantoor staan sodat almal kan hoor.”

Ná nog praat en verduidelik van Len het ek teësinnig ingestem, want met Len weet ‘n mens nooit.

Ek het op die regte plek gaan staan met Len so ‘n entjie agter my waar Bok hom nie kon sien nie. Len het die verslaggewers nadergewink.

“Bok, ek hoor jou broer swem goed. Hoeveel lengtes kan hy aanmekaar swem?” het ek gevra.

Bok het my geïgnoreer.

“Vra hom weer,” het Len beduie, terwyl die ander subs regop sit.

“Bok, vertel ons, man, hoeveel lengtes kan jou broer swem?

Weer niks.

Len beduie: nog ‘n keer!

“Bok, kom nou, vertel ons van jou broer se prestasies. Hoeveel lengtes … ?

Bok het sy pen neergegooi, opgestaan en sy vuiste op die tafel geslaan. “Vir jou inligting, my broer se twee bene is albei verlede maand afgesit”.

Dit het stil geword, baie stil. Was daar maar ‘n put waarin ek kom spring. Ek het Len verwens. Skielik was sy gesig dié van ‘n begrafnisondernemer. Hy het sy skouers opgetrek asof hy nou nie weet wat gebeur het nie.

Al wat ek kon doen, was verskoning vra. By Bok se lessenaar het op my hurke gaan sit en begin jammer sê. Ek kon Len nie insleep nie, want dan sou ek ‘n nog groter gek wees.

Nadat Bok my stil-stil laat swaarkry het en my kollegas se verwytende oë op my reën, het hy skielik begin lag en kliphard gesê: “Weet jy wat … ek hét nie eers ‘n broer nie”.

Len het skaterend weggehardloop en ek het baie lelik gevloek, twee keer rooier in die gesig as vroeër.