Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

25.7.12

Eerste sportredakteur was Oxford Blue én owerste van Stormjaers

PIET EBERSÖHN skryf: VAN die talle merkwaardige joernaliste wat die pen vir Perskor en sy voorgangers opgeneem het, was Die Vaderland se eerste sportredakteur sekelik een van die merkwaardigste.

Nie net het hy die Universiteit van Oxford in 1930 in die Intervarsity teen Cambridge op die rugbyveld aangevoer nie, hy was ook die owerste van die Ossewa-Brandwag se para-militêre elitekorps, die Stormjaers, wat
sabotasiedade tydens die Tweede Wêreldoorlog in Suid-Afrika beplan en uitgevoer het.

Steve Hofmeyr
Foto: Their Paths
Crossed Mine
Met sy Oxfordse agtergrond sou niemand dit kon dink nie. Hy het die perfekte dubbele lewe gelei deur vryelik in hoëre Engels-sprekende kringe te beweeg, terwyl hy terselfdertyd die bedrywighede van die Stormjaers gekoördineer het.

Steve was ’n neef van J. H. (Onse Jan) Hofmeyr, die leier van die toentertydse Kaaplandse politieke party, die Afrikanerbond, en die oupa van die sanger en Afrikaner-aktivis,Steve Hofmeyr. Sy vrou, Maddie, was ’n kleindogter van Louis Botha, Suid-Afrika se eerste premier.

A.M. van Schoor, latere redakteur van Die Vaderland en in 1932 ’n kollega van Hofmeyr verwys in ’n Volk staan op uit sy as na hom as “geniale Steve Hofmeyr, wie se sportartikels ’n sewedaagse opskudding in die Pretoria van destyds verwek het”. Die OB-leier, Hans van Rensburg, verwys in sy boek Their paths crossed mine ook na Hofmeyr se loopbaan as assistant-redakteur van The South African Nation, met sport sy verantwoordelikheid.

Links: Steve Hofmeyr (regs agter) as sportredakteur van Die Vaderland, voortsetting van Ons Vaderland, se eerste redaksie. Saam in die agterste ry staan A.M. van Schoor, Otto Schwellnus, N.L.P. van der Walt en Jan Grobler. Voor sit mej. Stols (redaksie-sekretaresse), Willem van Heerden, Gustav Preller (redakteur), Fasie de Wet (hoofbestuurder) en Ella van Heerden. Foto: 'n Volk Staan op sy As.

Dié weekblad, onder redaksie van die latere verkose staatspresident, Eben Dönges, is van 1924 tot 1928 deur die Nasionale Party uitgegee. Dönges was terselfdertyd assistent-redakteur van Die Burger.

Hier het Hofmeyr (lank voor die dae van Blaar Coetzee, Bubbels Schroeder en Fyn Goud) in komkommertyd omstrede briewe onder skuilname aan die koerant geskryf om gesprek uit te lok.

Onder die skuilnaam “Mother of Ten” het hy by geleentheid erg teen rugby te velde getrek in die koerant se briewerubriek en dan met snydende kommentaar van die sportredakteur se kant af daarop geantwoord.

Dit het tot ’n heftige twisgesprek gelei, wat glo volgens Hofmeyer net-net deur “Mother of Ten” en haar ondersteuners gewen is.

In 1940 was daar groot onmin oor die aanwending van geld wat met rugbywedstryde geïn is vir ’n fonds vir soldategeriewe. Die Westelike en die Oostelike Provinsie se rugbybonde het hierdeur geskeur. Hofmeyr was, saam met Piet Meiring van Die Transvaler, onder die verteenwoordigers van die anti-oorlogsgesindes wat deurnag by die Pretoriase Buiteklub met die teëparty beraadslaag het om ‘n soortgelyke breuk in Transvaal en Noord-Transvaal uit die weg te ruim. Die uiteinde was dat dié twee bonde ook twee wedstryde teen mekaar gespeel het waarvan die geld vir die Reddingsdaadfonds geskenk is. Lg. had die ekonomiese opheffing van die Afrikaner ten doel.

As rugbyspeler het Hofmeyr in 1928 die gekombineerde Ikey-Matie-span gelei wat teen die All Blacks gespeel en met net 14 – 9 verloor het. Hulle het nogal volgens Nieu-Seelandse reëls gespeel.

Regs: Steve Hofmeyr (vierde van links) as kaptein van die Ikey-Matie-rugbyspan teen 1928 se All Black-toerspan. FOTO: MET DIE MATIES OP DIE RUGBYVELD

Hy was ook kaptein van die Ikeys wat die Maties daardie jaar in die Intervarsity met 17 – 7 gelooi het. Daar was twee Springbokke, ’n latere Springbok en ’n latere Junior Springbok in die Ikey-span, terwyl die Maties een beter gevaar het met ’n tweede latere Junior Bok.

Voor die volgende Intervarsity is hy Oxford toe, waar hy in 1930 dié universiteit in die Intervarsity teen Cambridge aangevoer het.

Volgens Louis Babrow en Dick Stent in The Varsity Spirit gebeur dit selde dat ’n rugbyspeler so ’n groot leemte by sy vertrek laat as wat die geval met Hofmeyr was. T.G. Osler, broer van die beroemde Springbok Bennie, het die opkoms van Ikey-rugby in dié jare grootliks aan Hofmeyr se toedoen toegeskryf. “Steve has left a proud record, a rugby captain for two years – and he was always a great sportsman, on and off the field. Under his leadership and inspired by his personality the team went from strength to strength and it was then that the foundation of the present success was laid.”

Die later beroemde Walliese en Leeu-heelagter en self ’n vermaarde rugbyskrywer, Vivian Jenkins, het by geleentheid vertel hoe uit die veld geslaan hy in 1930 was toe Hofmeyer, die universiteit se rugbykaptein – “something like a demi-god, not quite of this world” – hom as eerstejaar opgeklop het om hom mee te deel dat hy vir Oxford se eerste span vir die Intervarsity teen Cambridge gekies is.

Hy verwys na Hofmeyr as “blond-haired and irrepressible, and as good a hooker as they come”.

Dit lyk of Hofmeyr enige plek in die voorry tuis was, want volgens The Varsity Spirit was hy in die 1927-Intervarsity die Ikeys se loskopstut en die volgende jaar die vaskopstut.

As owerste van die stormjaers was Hofmeyr ’n enigmatiese figuur. Min stormjaers het hom persoonlik ontmoet en sy identiteit was blykbaar aan die owerheid onbekend tot met sy dood op ’n jong ouderdom. Hy is in 1944 stil in sy slaap oorlede. Van Rensburg bestempel hom as ’n minsname, hoogstaande karakter, sterk en atleties gebou, vriendelik en met ’n vlymskerp brein en fyn humorsin. Hy was ’n gebore leier en vreesloos sonder om roekeloos te wees.

Hy glo die ysere hand waarmee Hofmeyr die Stormjaers beheer het, het voorkom dat van die weerbarstiger elemente hande-uit geruk en die oorlogstydse versetveldtog in volskaalse rewolusie ontaard het.

Hofmeyr het suksesvol as prokureur gepraktiseer voordat hy die leiding van die Stormjaers op hom geneem het.