Só het Dirk Richard oor Dirk Richard geskryf in “Die seuntjie van Swartvlei” in die gedenkboek, My Paarl, wat
in 1987 met die viering van die 300-jarige bestaan van die Paarl verskyn het.
Richard het tot op 15-jarige ouderdom aan die Hoërskool Gimnasium in die Paarl skoolgegaan, maar hy het toe al gehunker na iets groter as die onderdorpse bestaan en die gelatenheid waarmee sy broers dit aanvaar het. Hy het Pretoria toe getrek en by sy suster gaan bly, waar hy aan die Afrikaanse Hoër Seunskool gematrikuleer het.
Daarna was dit agt jaar in die staatsdiens waartydens hy sy BA-graad buitemuurs aan die Universiteit van Pretoria behaal het.
“In Johannesburg het ek as koerantredakteur (eers van die Sondagblad Dagbreek en toe Die Vaderland) genoeg opwinding en kneusplekke opgedoen wat my Bolandse kwinte in perspektief gebring het. Die onsekere ‘homo capensis’ het ‘n apologeet vir hervorming geword; die seunsdrang om ‘hulle te wys’ moes in dade op ’n ander plek voortgesit word,” skryf hy.
Hy skryf dat hy sy roeping beter sou vervul “in die onstuimige, onrustiger Rand as in die idilliese landelikheid van die Paarl.” Hy het gesmag na die noorde, “die ware mikrokosmos van die Afrikanerstryd om polities en ekonomies uit die swaarkry-dae van die verlede te beur.”
Maar die besadigde, beleefde Richard het dit nie alte maklik gehad nie. In sy inleiding tot “Die seuntjie van Swartvlei” skryf hy: “’n Enkele inskrywing in die loonstaat van die Paarl Post op 20 Februarie 1914 gee die wese weer van my Paarlse jeugjare. Dit was vier jaar voor my geboorte. Heel onder aan die staat, nadat die groottotaal van £30-3-9 reeds bereken is, staan soos ‘n nagedagte: ‘Richard 5/-.’
“Dit was my ma se weekloon, en toe ek haar later vra wat sy in die werksafdeling van ’n koerant gedoen het, kon sy slegs sê: ‘Ek het die lettertjies reggepak, of so iets.’”
Sy ouers het êrens geld verloor weens, so het hy gehoor, ’n borgskap wat hulle geteken het en sy pa het as wamaker geëindig, maar toe kom motors…
Richard skryf deur die eerste 15 jaar van sy lewe “loop ‘n emosionele dubbelslagtigheid wat ’n getoë Bolander moeilik sal begryp. Aan die een kant was daar die vernedering van behoeftigheid, die gedurige bedreiging van minderwaardigheid om aan die Swartvlei-kant van hierdie hoogmoedige gemeenskap groot te word, so tussen Rabinowitz se houtfabriek en die wynmakery…”
Aan die ander kant was daar die “vasmaak van die boorling aan die vallei van die wingerde.” Hy skryf dit bly in jou bloed, maar hy “verlang nie meer daarna met die heimwee van terugkeer nie.”
Die Richard-egpaar het by ons aan huis in die Paarl gebly met die bekendstelling van die boek waarin oud-Paarliete Alba Bouwer, WA de Klerk, Izak de Villiers, Elsa Joubert, PH Nortjé, Karel Schoeman, Adam Small en MM Walters elkeen ’n bydrae gelewer het.
Dit was ’n heerlike weersien en laataand-gesprekke oor die Perskordae, die destydse en die hedendaagse politiek, foute van die verlede en die opwindende moontlikhede van ’n nuwe daeraad op die horison.
Hoewel ek maar ’n betreklike kort tydjie voltyds as assistant-redakteur onder hom gewerk het, het ek lang ervaring van deeltydse vroegoggend-werk as, soos hy dit gestel het, ’n “pond-per-uur-man” onder sy redakteurskap gehad. Trouens daar was een Desember toe Willem de Klerk en Dirk met vakansie was. Ek moes toe hoofartikels vir Die Transvaler en Die Vaderland skryf. Die duiwel in my, wat my heel dikwels in my lewe onverhoeds bekruip het, het my aangestook om ’n polemiek tussen die twee koerante te stook.
Gelukkig het ek nie daardie keer weer voor hom geswig nie…
Dirk Richard was ’n man wie se staal ’n mens maklik sou kon onderskat. Maar hy kon baie beleefd en hardnekkig “nee” sê vir enigiemand – van ’n premier of ’n president tot die besturende direkteur, die voorsitter en sommer die ganse direksie van Perskor.
Dit het hom uiteraard die gramskap van (veral regse) politici en die (al regser) direksie en bestuur van Perskor op die hals gehaal. Maar die seuntjie van Swartvlei had ’n roeping om te vervul… al het dit hom in 1981 in ‘n verpligte vroeë aftrede ingedwing.
Daarvoor, benewens sy vaardighede as koerantman en sy leierskap, verdien hy die erkenning van elke joernalis met drukkersink in sy are. Een van die werklike grotes in die Afrikaans joernalistiek.
Soos Richard dit self in “Tussen Bid en Droom” gestel het, was hy “intiem betrokke by die grootword van die Afrikaans pers, van sy skoothondjie-dae toe hy geblaf en gaan lê het wanneer sy politieke baas ’n wysvinger uitgesteek het, tot ’n volwaardige koerant met ’n eie stem. As koerantman was ek soms in die middel van die stroom, dikwels in ’n maalgat, soms op die kant uitgegooi.” Hy het “die stryd aangeknoop teen die historiese verslaafdheid van die Afrikaanse koerante aan die Nasionale Party – om nog Nasionaal te bly, maar om een van die vereistes vir goeie joernalistiek, om teen te praat, ’n kans te gee.”
Die stryd wat hy saam met Schalk Pienaar en Willem de Klerk teen kleinlike apartheid gevoer het, is “nie altyd met dekorasies bekroon nie, maar met etikette soos liberalis, party-ondermyner, rusverstoorder en arrogante voorskrywer”.
Maar dit was nie die Nasionale Party nie, maar Perskor self wat met Marius Jooste se vertrouenskring – “’n koterie regse vriende” – daarvoor gesorg het dat Dirk se Vaderland-jare (1972 tot 1979) tot ’n einde gekom het.
Maar in die politieke stormweer was dit ook nie maklik nie. Só het premier John Vorster op ’n slag aan hom gesê dat “jy, Dirk Richard, besig is om my en die Party af te takel”.
So erg het dit gegaan dat Vorster “die aanklag gemaak het dat van al die Afrikaanse koerante Die Vaderland hom die meeste moeite gee.”
In 1979 was Vorster vasgevang deur die sogenaamde “Inligtingskandaal” en sy gesondheid was sterk aan die kwyn. Richard het toe op 4 April sy rubriek afgesluit met die volgende sin: “In hierdie stadium is dit mnr Vorster se voorreg om te besluit of hy sy posisie as Staatspresident in heroorweging moet neem of nie.”
Vorster het Marius woedend uit Kaapstad gebel en gesê hy wou “niks meer te doen hê met hom, Perskor en Dirk Richard nie”. Richard is gedwing om op 10 April ’n soort regstelling te plaas. Dis deur sy onmiddellike hoof, dr Willem de Klerk, opgestel as dat dit verkeerd is om die artikel te vertolk dat hy voorsê wat die Staatspresident moet doen. “Die laaste sin van my rubriek kan dus maar wegval as dit so verkeerd vertolk word. Dit was nie in die gees van die artikel nie.”
Op Sondagmiddag 3 Junie het PW Botha en die kabinet Vorster gaan spreek en daarop aangedring dat hy die volgende dag voor 14:00 moet bedank. Hy wou nog teenstribbel, maar die oordeel was gevel deur ’n onverbiddelike, ambisieuse PW.
Dan was daar die slag dat ek geskryf het dat ons troepe in Angola sal bly na aanleiding van uitlatings op die spitsberaad van die Organisasie vir Afrika-eenheid. PW het nie net ontken dat hy dit gesê het nie, maar ook dat hy hoegenaamd met my gepraat het. Die volgende dag kon ek, met ondersteuning van Richard, skryf dat ons by ons berig staan. PW het nie daarop gereageer nie. Daaroor is elders vollediger berig. Klik HIER.
Richard kon ook sy man teen die bestuur van die maatskappy staan. ’n Goeie voorbeeld was toe Marius Jooste daarop aandring dat hy Len Lindeque, die beste Suid-Afrikaanse spotprenttekenaar van sy tyd, moes ontslaan oor ’n grappie wat Len ten koste van Jooste vertel het. Richard het hom daarteen verset en geweier om dit te doen. Daaroor is ook elders vollediger berig. Klik HIER.
Dirk het hom openlik verset teen die konserwatisme van dr Andries Treurnicht en Jooste, wat intiem met Treurnicht bevriend was, het tot groot spanning tussen hulle gelei. “En wanneer Jooste sy humeur verloor, was hy ’n onredelike, skellende gestalte wat jou to in die grond kon boor, wat eers wag vir die trane van berou van die vasgekeerde voor hy ophou.
Maar nie almal wou op hul knieë voor hom gaan nie, nie almal wou hulle nakend van hul selfrespek laat stroop nie. Die weerbarstiges is dikwels as die dislojales geklassifiseer.”
Dirk sê hy is “in paaiemente” uit sy redakteurspos geskuif.
Vir die eerste keer lees ek in Die Vaderland van 13 Julie 1979 dat ek ‘my voorneme te kenne gegee het om oor twee jaar af te tree'.
Op 1 November kondig Perskor-koerante aan dat ek nie meer redakteur is nie.
Daarna was dit ’n tragiese tyd van vernedering.
So het ek in Perskor se diens aangekruie tot September 1981, met navorsing en toenemende belangstelling vir die skryf van die Afrikaanse persverhaal van die noorde.
Ek (Andries Botha) was die uitgewer van My Paarl. Driehonderd genommerde prestige eksemplare is gedruk. Dit is in ’n linne-omslag gebind en deur die skrywers onderteken. Elke skrywer het ’n eksemplaar daarvan gekry, terwyl sagteband eksemplare aan elke matriekleerling in die Paarl gegee is.
Die bekendstelling is op die plaas Schoongezicht se restaurant gehou, omdat dit deel was van die Paarlse Afrikaanse Taalroete – die hartland vanwaar die stryd om die erkenning van Afrikaans gevoer is. Dis ook op Schoongezicht aangebied waar die Paarl se jaarlikse Waterblommetjiefees gehou is met Anton Goosen wat jaarliks sonder betaling sy “Waterblommetjies in die Boland” en ander liedjies daar kom sing het.