Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.7.12

Lou Henning was ‘n ware kunstenaar


ANDRIES BOTHA skryf: Lou Henning was nie bloot ‘n spotprenttekenaar nie, hy was inderdaad ook ‘n baie knap skilder – en ‘n vriend soos min. Ons het uiteraard van Aucklandpark af tot in Doories heerlik saamgedink aan spotprente – eers in die Sans, maar veral in Vegkop.

Boonop was ons ‘n bietjie skelm ook. Hy en Sieg van Niekerk se kantoor kon jy van die agterkant van die Perskor-gebou af bereik. Dus, wanneer ons die middagetes ‘n bietjie in Vegkop g-e-r-e-k het, het ons by die agterdeur ingeglip waar die "witoë" ons nie kon sien nie. Dit was uiteraard gewaagd om in sulke omstandighede eers deur sekuriteit en dan met die hysbak op te ry na ons kantore.

Maar die storie wat ek vandag wil vertel, is van ons verbintenis met Mike Schutte, wat gelei het to ‘n strokiesprentreeks, Ou Maaik.


Die idee is uit nood gebore. Ek het pas met ‘n skakel-onderneming begin en was bang ek sou nie ‘n bestaan kon maak uit werk vir die KWV, waar ek toe as skakelbestuurder bedank het, Fairview-landgoed, Groot Constantia, die Wes-Kaapse Landbou-unie en as direkteur van die Paarl 300-fees nie, waarvoor ek nie veel geld gekry het nie, maar darem die ou burgemeesterkantoor en onthaalkamer in die geskiedkundige Paarlse Stadsaal in die Hoofstraat. My kommer was of ek ‘n vrou, kinders en ‘n huis sou kon onderhou daarmee.

Toe dog ek: waarom nie ‘n strokiesprentreeks oor Mike Schutte nie? Hy het destyds Vannermerwe se rol as die land se grapjas/lydende party oorgeneem.

Dit was nogal ‘n affêre. Eerstens het ek Lou, toe by Rapport, genader oor die idee. Hy was heel inskiklik. Daarna moes Ou Mike opgespoor word. Op Potchefstroom destyds. En Couzyn, Hertzog en Horak, toe nog Perskor se regsadviseurs, het die kontrak tussen ons – Drieslou - en Mike opgestel en hy het geteken vir ‘n persentasie van enige opbrengs daaruit.

Ons het besluit om dit as ‘n strokiesprentreeks, wat weekliks sou verskyn, aan gemeenskapskoerante te bemark om sodoende meer "kliënte" te trek. En omdat ek ‘n kompetisie vir ondernemende joernalistiek vir die 56 gemeenskapskoerante van destyds – vandag goed oor die 400 – met die KWV as borg ingestel het en steeds bestuur het, het ek die manne redelik goed geken en het 27 koerante die reeks bestel, hoewel almal nie ewe fluks met die betaling daarvoor was nie!

Sketsidees is per pos vanuit die Paarl aan Lou in Johannesburg gestuur. Dit was in die middel-tagtigs nog voor faksmasjiene, om van rekenaars nie eens te praat nie. Ek het darem soms ampshalwe Johannesburg toe gegaan waar ons dan onder vier oë kon beplan, hoewel baie van die planne nie veel verder as Vegkop gekom het nie…

Na so ‘n jaar of wat, besluit ons toe dis nou tyd vir ‘n boek. Kry ons vir Gert Basson van Voortrekkerpersfaam, wat nou op Swellendam woon en steeds uitgewer is, in die hande en Forum-uitgewers gee toe die eerste Ou Maaik uit wat spoedig ‘n tweede druk beleef het. Die bekendstelling is deur Gert se toedoen by die SAUK gehou en Leon Schuster was onder meer daar.

Maar, en wees gewaarsku, ons het maar 11% tantieme ontvang wat ons met mekaar moes deel. Vegkop het dit vinnig opgeslurp.

'n Jaar of wat later het ons die tweede boek self uitgegee en die drukkoste is verhaal en 'n handige wins is uit die eerste besending aan die CNA behaal.

Ons het ook dikwels die geleentheid gehad om saam met Ou Maaik te kuier. Hy was ‘n gawe mens en "glad nie so dom as wat hy lyk nie," het Lou altyd gespot en bygevoeg: "Hy’s veel dommer."


Ou Maaik het selfs met die Paarl 300-fees een aand kom optree en ‘n paar liedjies gesing. Tot my spyt kon ek nooit die woorde uitmaak nie.

Elke Desember het ons ‘n oproep van Ou Maaik of sy gesellin, wat nooit dieselfde een was nie, gekry: "Waar’s Ou Maaik se geld?"

Dan het ons sy deel aan hom gestuur en sonder uitsondering het hy by ontvangs van sy tjek gebel om dankie te sê.

Maar terug na Lou. Hy was ‘n uitsonderlike mens wat sy vrou, Gloria, absoluut op die hande gedra het. Sy kinders was ook vir hom sy kosbaarste besittings. En moet hom nie as sportman onderskat nie. Hy was ‘n puik tafeltennisspeler wat ‘n mens skoon kon bedwelm met sy "spinners". En as ‘n pool-speler het hy ook uitgeblink en het ons twee dikwels skoonskip gemaak daar in die plebs-kroeg van ou Diamond, hoofsaaklik weens Lou se vaardigheid met die stok.

Ons vriendskap het deur baie jare nooit getaan nie en die herinneringe aan hom kan ek so helder voor die gees roep dat dit eintlik kommerwekkend is! Lou, oorspronklik van Wesselsbron in die Vrystaat, was inderdaad ‘n bron van talent.