Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.7.12

Die wind was 'n vars briesie uit Namibië

Estelle de Bruyn
ESTELLE DE BRUYN (née Oosthuizen), redakteur van Republikein, skryf: Philip Deetlefs het my laat weet van K’rant en ek geniet dit behoorlik om oor die herinneringe van eergister te lees.

“Ek was kortliks van 1981 tot 1982 werksaam by Die Vaderland in Doornfontein as stadsverslaggewer. Dit voel egter of ek ’n leeftyd se herinneringe in daardie kort tyd ingepak het. Dis waar ek André de Bruyn ontmoet het, dolverlief geraak het en hom later Windhoek toe gevolg het.

Van die snaakse Sapa-vertalings wat ek onthou is die vertaling van ’n “tissue transplant” as ’n “sneesdoekie oorplanting”. Die ander een was ’n legende wat oorvertel is van die botsing van die twee duikbote (kan nie hulle name onthou nie). Volgens Sapa was die rede vir die botsing: “there were no watches on board” wat deur ’n slim junior vertaal is as “daar was geen horlosies aan boord nie”.

Dan onthou ek ook vir Gabriel, die “drywer” wat ons met die groot, statige wit Peugeot rondgery het na stories toe. Gabriel was ’n waardige man, het net Engels gepraat, baie trots op sy Zoeloe-herkoms en kon nooit uitgepraat raak oor hoe wonderlik die Zoeloes is nie. Eendag moet hy vir André Verster na ’n storie toe neem.

Met André se terugkoms op kantoor het hy vertel dat hy daardie dag nou net genoeg gehad het van Gabriel se grootpratery oor die magtige Zoeloe nasie en dat hulle eintlik ver beter as enige ander van die inheemse Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe was. Ná nog ’n relaas van Gabriel kon André dit nie meer hou nie en vra: “Wat happened at Blood River?” waarop Gabriel, sonder om hom van stryk te laat bring, antwoord: “We had an off day”.

Baie dankie vir ’n heerlike “trip down memory lane”.