Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.12.16

Komkommertyd

PHILIP DEETELFS skryf: Ooit gewonder waar die uitdrukking “komkommertyd” vandaan kom? Dis interessant om te sien dat die uitdrukking “cucumber time” reeds in 1699 in ‘n Engelse woordeboek opgeneem is.

Die oorsprong daarvan was (volgens Wikipedia) dat die Britse adellikes in die tyd wat die komkommers in seisoen was, met vakansie gegaan het en die kleremakers dit toe komkommertyd genoem het omdat sake vir hulle traag was.

15.12.16

Hoofsub na dekades opgespoor

KARIN PRETORIUS skryf: Toe ek die kunsblad van Die Burger oopvou, sien ek Johann Botha van die Baai het ‘n boek Koukonap gepubliseer wat in die 1950’s in die Noord-Kaap afspeel.

Sy foto lyk vir my vaagweg bekend en toe ek sy outobiografie lees, toe wéét ek: dis die einste Johann Botha wat in 1970 my hoofsub in die nagkantoor by Die Transvaler was – 46 jaar gelede!

Nou is my nuuskierigheid eers geprikkel en ek lees verder: dis Johann se tweede publikasie en twee dekades gelede is sy debuutwerk Die Groot Vyf met die Eugene Marais-prys bekroon wat handel oor die politieke oorgang in Suid-Afrika teen die agtergrond van die natuurlewe in die land.

12.12.16

Maureen uit hof gejaag in bordeel-saak

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Daar het al byna 'n vyf dekades in die niet verdwyn sedert ek hofverslaggewer was en miskien word dinge nou anders gedoen, maar doerietyd moes ons loop dat ons hik agter stories aan. Van hofsaal tot hofsaal.
Danksy Hermie Hendriks se joernalisteskool in 1970, was die landdroshof darem nie meer heeltemal 'n vreemde plek toe ek die dag hofverslaggewer word nie, maar eintlik was ek steeds 'n groentjie.

Skrikkerig vir die regswêreld en oorgretig om my beste voetjie voor te sit in 'n strak omgewing, het ek my in hoë hakke opgedollie. Splinternuwes. Twee spoggerige nommertjies met hakke wat my as't ware kop en skouers bokant almal laat uittoring het.

8.12.16

Besondere eer val Thijs Nel te beurt

SCHALK LE ROUX, redakteur van Die Hoorn in Oudtshoorn, skryf: ’n Besonderse eer het Thijs Nel, oud-kunsredateur van Die Vaderland en deesdae gevierde kunstenaar van Oudtshoorn, te beurt geval!

Hy is genooi na die opening van die nuwe vleuel van die Montreal Museum of Fine Arts in Kanada, waar een van sy werke uitgestal word. Die museum het Thijs se werk, ’n keramiekpot, in 1998 by ’n kunsuitstalling ,“Down to Earth”, in die LongHouse Reserve in Long Island in Amerika gekoop. (Die geleentheid was sowat 'n maand gelede gehou. -- Red.)

1.12.16

Piet ontken vaderskap op rype ouderdom

PIET EBERSÖHN skryf: Dat ek nou op my rype jare vaderskap moet ontken! Peet Simonis is die vader van K'rant. Ek het dit bloot in opdrag van hom, Hans Lombard en Andries Botha help laat herleef.

(K’rant was vroeër deur middel van e-posse versprei. Onder Piet Ebersöhn se leiding het K'rant gestalte as ‘n webjoernaal (blog) gekry. – Red.)