Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.7.12

Township-mama red ons in onlus-hellevuur

WILLIE BUYS vertel twee stories van sy ervarings in Soweto met die 1976-onluste. Hy skryf onder meer:

Die Soweto-kookpot was ’n hellevuur van kolkende emosies waar alle redelikheid tussen die gebrul van pantservoertuie van verskillende fabrikate, staccato’s vuurwapenskote en niesgaswolke soos mis voor die son verdwyn het.

Klippe – party sommer van agter huise bo-oor die dakke gelanseer – het deur die digte rookwolke gevlieg. Die enigste klipteiken in die kakofoniese geharlaboerla van klappende koeëls, donderslae van afgevuurde niesgashouers wat woer-woer op malende massas afgepeil het, angsgille en die dreunsang van vryheidsliedere, was ’n wit vel.
Meestal die gehate polisie as afdwingers van mensonterende apartheidswette, ook die wit media wat beskou is as ondersteuners van die apartheidsregime. Maar ook nie altyd nie, het ek en ’n fotograaf tot ons groot verligting agtergekom.

Op ’n dag het ons moedswillig afgedwaal van die gebaande weë wat die polisie met hul onlusvoertuie onverbiddelik vir ons aangedui het (om die media te kon beheer?) So het ons midde-in ’n skermutseling tussen inwoners en die geregsdienaars beland. Die polisie het tydelik die oorhand gehad met hul grofgeskut en senu-verlammende niesgasmasjiene. Ook oor ek en die fotograaf wat nie ons persmotor verder kon bestuur nie, weens tydelike blindheid en snakkend na asem dor-droë kele weens die verstikkende gaswalms wat swaar in die lug gehang het.

Ons het beangs uit die motor gepeul waar ’n township-mama ons van histerie gered het deur ons haar huis in te stoot. Binne het sy ons bloedbelope oë en brandende kele met water gelaaf en later, toe die helstoestande bedaar het, het sy ons vriendelik die pad beduie. Hierdie keer het ons amper verstik aan menslikheid ten tyde van ons eie noodtoestand!

Nog ’n noue ontkoming was toe ek en ’n fotograaf ons vasgery het in ’n massa betogers wat hulself tot vernietigende verstandloosheid opgewerk het met ritmiese oorlogsdanse op die maat van struggle-liedjies. Aanvanklik was hulle vriendelik en het allerhande vredestekens gewys toe hulle sien ons is van die media. Maar toe swaai die laggende bui om in ’n brullende monster en die klippe begin van etlike treë weg op ons motor neerreën.

Dit is toe die ietwat gehawende Perskor-Peugeot staak en vierspoor vassteek. Ek sien nou nog in my nagmerries die wit van ’n waansinnig-opgewerkte klipgooier se oë terwyl hy met ’n vuisgrootte klip direk gemik op my gesig die windskerm versplinter. Ek het instinktief afwaarts gekoes en in die verwilderde, angstige oë van die fotograaf in sy skuilplek onder die paneelbord van die motor vasgekyk!

Die meeste skade was aan ons ego’s oor dié onbegryplike optrede van dié massale onlusgedierte en aan die motor. Die lensdop van my kamera – wat om my nek gehang het – het ook in die slag gebly, dit het ek later tydens ’n skade-bepalingsopname vasgestel.

Gelukkig kom daar toe ’n polisiepatrollie aan en verwilder die figuurlik skuimbekkende horde. Saam met die polisie het Die Vaderland-fotograaf, die internasionaal-bekende Wessel Oosthuizen, in ’n persmotor aangekom. Hy het hoogs verontwaardig uit sy motor gespring en losgetrek op die vlugtende skare met hul eie klipmissiele.

Dit was net die anti-klimakteriese humormedisyne om die paniek-verflenterde atmosfeer te ontlont. Almal het gelag: pers, polisie - en ek sweer ek het van die retirerende klipgooiers ook gesien grinnik.

Woede, haat, niesgas en bloed in Soweto se strate

Sommer nou die dag was die soveelste herdenking van Jeugdag, alias Sowetodag. Dit was die dag toe die swart jeug in opstand gekom het teen wat hulle aangevoer het as die opdwing van die taal Afrikaans as verpligte vak in swart skole. Dit het later geblyk net die vonk by die kruitvat te wees.

Hector Peterson word weggedra.
Dit was die plofpunt van ’n jarelange broeiende revolusie wat net onder die oppervlak geprut en tot in die verste uithoeke van die wêreld geresoneer het. Die ikoniese foto van die tienderjarige Hector Peterson, wie slap lyk in die arms van ’n betraande makker gehang het, terwyl hy weggedra is van die betogertoneel waar die polisie hom doodgeskiet het, is vir ewig in miljoene mense se geheues ingegrif nadat dit wêreldwyd versprei is.

Dit was die inleiding tot ’n volskaalse revolusie waartydens Suid-Afrika se veiligheidsdienste in ’n voortslepende noodtoestand vergeefs probeer het om ’n doof-deksel op dié pruttende onheilspot van jarelange onderdrukking te plaas. Dit was ook aanleiding tot een van die grootste media-operasies in die land se geskiedenis.

Ek was toe nuusredakteur by Die Transvaler. Ons het ’n span verslaggewers saamgestel wat elke dag in die stikdonkerte moes opstaan om 6-uur die oggende by die saamtrekpunt vir die media by die Protea-polisiestasie in Soweto aan te meld.

Kollega Joe van Buuren het vroeër hier vertel van die bloedstollende gebeure wat daar afgespeel en dit saamgevat het met die woorde: „Dit is hel daar buite”.

Ons joernaliste moes opereer onder haglike omstandighede in ’n situasie waar nie net die histeriese gemeenskap nie, maar ook die polisie baie antagonisties was teenoor die media. Dit was ’n drukkoker waarin bestanddele was soos chaotiese optogte deur malende, klipgooiende massas haatgevulde mense wat hulle tot die uiterste verset het teen die (blanke) veiligheidsmagte. In dié geharwar het die media ook deurgeloop. Daar was bloed in die strate.

Die veiligheidsmagte het nie geskroom om die temperatuur tot ver anderkant kookpunt te jaag nie met alle middele to hul beskikking. Dit sluit in vuurwapens met skerppunt-ammunisie, knuppels, waterkanonne – en les bes ’n nuwe soort traanrook, wat later as niesgas bekend geraak het. Die verstikkende uitwerking van dié gas is verder aangevul deur ’n verskriklike brandjeuk op die vel en ’n tydelike blindheid.

Die gas is ruimskoots ook op die media losgelaat.

Vra my, want ek weet – ek was daar. My nuushond-instink het my nie toegelaat om dié stuk wêreldgeskiedenis vanuit ’n veilige nuusredakteurstoel te dirigeer nie. Ek is tydelik van my pligte as nuusredakteur onthef om die span in Soweto te gaan bystaan.

Wat ek aangetref het, was ’n sekere fotograaf wat al voor ses uur die oggend beskonke was in ’n poging om sy vrees te besweer. (Hy is later onttrek, omdat hy sielkundige probleme begin openbaar het.) ’n Senior joernalis het later ook pront-uit verseg om die Soweto-strydarena langer te betree. Die oorgrote meerderheid van die verslagspan – ekself ook, later – het (valse?) energie en moed geput uit die verdowende effek van gereelde dosisse alkohol wat die traumatiese gebeure draagliker gemaak het.