Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.7.12

John Vorster en die tandefoto

JACQUES BOSCH, gewese fotograaf van Die Transvaler skryf: Dit was ongeveer in die jare sewentig met die algemene verkiesing dat ek as fotograaf en verslaggewer wyle Freek Swart die opdrag gekry  het om ’n voorbladfoto te gaan neem van oom John Vorster (ons het hom so genoem) en tant Tini wat hand-aan-hand glimlaggend stap. Die gedagte was ’n voorbladopskrif van "Stap hand aan hand met die nasionale party die toekoms inˮ.

Opgewonde het ek en Freek die pad gevat en soos dit goeie joernaliste betaam, stiptelik ‘n kwartier voor die tyd by Libertas aangekom, want ons kon nie dat oom John vir ons wag nie.

Die ontvangs deur die huiskneg was gemoedelik en hy het koeldrank aangebied, wat baie welkom was. Nou sit ons en wag dat oom John van die Uniegebou af kom. Uiteindelik kom hy by die voordeur in en sommer met die intrapslag vra hy: "Wat wil julle hê?"

Regs: Die Vorsters van Libertas luister oor die radio na die uitslae van 1974 se algemene verkiesing en dit lyk of Oggendblad se fotograaf minder moeite as Jacques Bosch gehad het. Die foto kom uit "Vorster – die mens".

In my beste Afrikaans en so vriendelik moontlik sê ek: "Oom John, ons is gestuur om ’n glimlaggende foto van u en tant Tini te neem waar u hand aan hand in die tuin stap. Dit gaan op verkiesingsdag op die voorblad gebruik word met die opskrif  'Stap hand-aan-hand met die Nasionale Party die toekoms in'."

Jimmy Carter
Oom John kyk my streng aan en sê: "As jy tande wil afneem, gaan neem vir Carter af" – ‘n verwysing na die destydse Amerikaanse president Jimmy Carter, wat so breed kon glimlag.

Freek het ’n onderdrukte snorkie gegee en ons is toe tuin toe. Ná so drie keer se stap en probeer dat oom John glimlag, het ek my foto gehad. "Dis nou genoeg," het hy gesê. Die foto is geneem en het met ’n geforseerde glimlag en al op verkiesingsdag op die voorblad verskyn.
Ons het op pad terug kantoor toe lekker gelag en gespot oor Carter se tande. Dit sal my altyd bybly.