Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.12.21

Voorspoed vir 2022

Die afgelope virusbesmette jaar was een wat min mense weer wil beleef. Ons kan almal net hoop dat volgende jaar op ‘n manier beter sal wees en dat die virus op sy baadjie sal kry. 

Die redaksie by K’rant het hulle vanjaar nie dood gewerk nie want dit is duidelik dat die lesers se stories opgeskryf is. Nietemin wens ons almal ‘n vreugde- en vredevolle rustyd toe. Kom veilig tuis na die vakansie met volgelaaide batterye.

Alles van die beste ook vir ‘n voorspoedige 2022! -- Redakteur

15.11.21

Perskor se aanslag op Nasionale Pers

ANDRÉ LOUW
André Louw se perskaart.
skryf: My storie van Perskor se aanslag in die laat sestiger jare op Nasionale Pers se knusse besetting van Bloemfontein en bykans die ganse Vrystaat, is ’n nederige verhaal maar wat tog vertel moet word; al is dit dan net om my ’n verskoning te bied om in K’rant ’n buiging te maak en ’n voetspoor te laat. 

Peet Simonis
Hoe dit gekom het dat Peet Simonis vanaf Naspers se Volksblad na Perskor gedros het, sal hy beter weet, maar hy is die man wat die pad vir my oop gemaak het om aangestel te word as Die Vaderland en Dagbreek se eerste voltydse verteenwoordiger in Bloemfontein met die ganse Vrystaat as my jagveld. Peet was my mentor by Volksblad en ek het in meer as een opsig in sy spoor getrap. 

8.11.21

Jac de Vries oorlede

CHRISTA DE VRIES
skryf; As oud-Oggendbladder wou ek lankal ingeteken het op K'rant, maar uitstel het meegebring dat my bydrae nou 'n seer een is. Ek sukkel vanaand om die woord "dood" hier te skryf, want doen ek dit, sal dit bly leef. Tog dwing dit my om vertel dat Jac de Vries, my man, op 17 Oktober 2021 oorlede is hier in Engeland ná‘n groot hartaanval die aand van die 15de. Hy sou vandeesmaand 79 gewees het.

 Jac was adjunk-redakteur van Oggendblad toe ek (Christa Coetzer) in 1982 as joernalis daar begin werk het. Ek het soveel van die joernalistiek by hom geleer. Diegene van die redaksie wat ons onthou, sal verstaan dat dit amper logies was dat ons uiteindelik getroud is, sienende dat liefde sy eie paadjie volg. 

Blackie (Swart) Chandler oorlede

Blackie Chandler
JOE VAN BUUREN het laat weet dat Marinda (Blackie) Swart se suster, Chrisna, hom laat weet het dat Blackie gister (Sondag, 7 November 2021) in die ouderdom van 66 oorlede is. 
Blackie was nooit self 'n joernalis nie, maar sy was heel bekend in joernalistieke kringe nadat sy in die sewentigerjare by die berugte Nommer 10 Dittonlaan met 'n spul koerantmense deurmekaar geraak het. 

13.8.21

Nog oor Francois (AP) Lategan

DRIES LE ROUX skryf: Na aanleiding van Gerhard Burger se verwysing na die kunstenaar Francois Lategan wil ek net die volgende stuiwer in die armbeurs oor hom gooi. 

Ek het in die tagtigerjare by die uitgewery JP van der Walt en Seun gewerk. Francois, oftewel AP soos ons hom geken het, het baie van die uitgewery se klubboeke se omslagillustrasies gedoen.  Ek het gereeld daaroor met hom oor die telefoon gesels, maar het hom nooit in lewende lywe ontmoet nie. 

10.8.21

Mediamense kry dosis K’rant in

JOHANNES FRONEMAN, uitgewer van  Mediamense het by K’rant gaan inloer en toe 'n lappieskombers van stories uit K’rant saamgevat en gepubliseer. 

Hy skryf: Ek het pas 'n stuk oor K'rant op mediamense.com geplaas. Dit is ook bereikbaar op www.facebook.com/mediamense.bylae.

Johannes bestempel Mediamense soos volg:  "‘n Digitale mediamuseum wat fokus op joernaliste, koerante, tydskrifte en (metterwyl) ook op die uitsaaiwese. Hierdeur wil ons aan Afrikaanse mediamense en hul produkte ‘n uitstalruimte gee sodat ons hul enorme bydrae nie sal vergeet nie – veral in hierdie tyd van vervlietende digitale media".

9.8.21

Flip in perspektief

KARIN PRETORIUS skryf: Soos in K’rant berig is, was “Flip” waaroor Heinrich Schulze navraag gedoen het die befaamde potlood- en penkunstenaar Flip Horace Coaten wat in die vroeë vyftiger, sestiger en sewentiger jare menige skrywer se verhale in tydskrifte geïllustreer het. 

Met ‘n bietjie naslaan op Facebook lees ek dat Flip wat ook as reservissersant by die SAP in Tableview diens gedoen het, in sy leeftyd geag was as een van die tien top-illustrasiekunstenaars in die wêreld. 

6.8.21

Illustreerdres was flippen bekwaam

GERHARD BURGER skryf: Flip het ook ʼn verhaal in Die Huisgenoot van 18 Februarie 1966 geillustreer – dieselfde uitgawe waarin ek my debuut as fiksieskrywer gemaak het, met ’n roerende en amateuragtige storie, Die Eerste Steen.

Een van die ander verhale is deur ene Henk geïllustreer. Ook sy van word nie genoem nie. My storie is met ʼn ware kunswerk deur die voortreflike F Lategan versier en met ʼn tjek van R50 beloon. Wie Flip en Henk was, weet ek nie, maar albei was myns insiens baie bekwaam.

5.8.21

Hier is Flip

LEONI BENGHIAT van SA Vryskutskrywer het laat weet dat Flip se van Coaton was. Sy seun het ‘n Facebookblad geskep waar 'n mens van sy kunswerke kan besigtig en meer oor hom kan agterkom. Hier is die skakel: https://www.facebook.com/Flip-Coaton-Illustrations-295633270537229.

4.8.21

Wie was Flip?

HEINRICH SCHULZE skryf: Danksy Perskorkennisse en vriende soos Piet Ebersohn, Gerhard Burger en Wessel Oosthuizen, is ek 'n gereelde besoeker aan julle K'rant-webjoernaal. Ek het 'n vraag wat ek hoop een van julle lede dalk kan beantwoord. 

Wie was/is die kunstenaar wat gedurende die vroeë tot middel 1960's (dalk ook vroeër en later) as illustreerder en kunstenaar vir "Huisgenoot" (en waarskynlik ook as boekillustreerder) gewerk het en sy werk as "Flip" onderteken het? 

Sy kleurillustrasies in "Huisgenoot" is in 1962, onder meer, by artikels deur Doc Immelman en Eric Rosenthal geplaas. Die naamindeks in Murray en Elzabe Schoonraad se "Suid-Afrikaanse Spot- en Strookprentkunstenaars' (1983) het met 'n eerste oogopslag ook nie lig op my vraag gewerp nie.

19.7.21

Willie Buys oorlede

WILLIE BUYS, destyds nuusredakteur by Die Transvaler, is Sondagnag oorlede na ‘n kort siekbed. Willie se seun Wilmar, het ons laat weet. 

Willie het die afgelope jare onder meer ‘n groot gewas op sy brein laat verwyder en daarna het hy ook beroertes gehad wat sy lewenskwaliteit verder benadeel het. 

Willie was ook mede-redakteur van K’rant en het vele bydraes gelewer. 

Hy word oorleef deur sy vrou, Estelle, en sy twee kinders. Wilma en Anjia. Geen besonderhede van ‘n begrafnis is bekend nie

2.6.21

Gedagtes loop ver paaie deur K'rant

HESTER VAN DER WALT skryf: Telkens wanneer ek K’rant oopmaak, blom en borrel die herinneringe!  

Ek het destyds as rou BA’tjie by die advertensievertaalkantoor van Perskor aangesluit en my taal daar behoorlik leer bemeester onder wyle Daan Roux en ons hoofvertaler Bekker Nel.

In 1972, nog Hester Kloppers, het ek gou begin om Kittie Vermaak en ander te versondig, want ek wou “koerantman” word! Ek was ook redelik gehoorgestrem en volgens Kittie gans te doof vir die job. 

So ’n jaar of twee later maak ek kennis met Rykie van Reenen by Rapport se kantoor langs Perskor in Aucklandpark. 

27.5.21

K’rant en sy dinge

PHILIP DEETLEFS skryf: Kom ons praat bietjie oor K’rant en sy dinge. Ek woon in Swakopmund, Namibia en Japie Bosch die meester wat die joernaal aan die gang hou, in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap. 

Ons kommunikeer hoofsaaklik per epos of Whatsapp, maar so dan en wan verlang ons na mekaar en dan gesels ons oor die telefoon. Dit is wat nou pas gebeur het en vir byna ‘n uur aaneen. 

23.5.21

My vriend, André

SIPKE DE VRIES skryf: André Scheepers wat so pas in die ouderdom van 74 jaar aan komplikasies van 'n galblaasoperasie oorlede is, was my vriend vir die afgelope drie of vier dekades.

Hy was die soort mens wat jy gebel het as jy 'n bietjie teneergedruk was. Na so 'n gesprekkie het jy altyd baie beter gevoel. Hy was ook 'n besonder gesellige tafelgenoot by die talle sakemiddagetes wat ons ampshalwe bygewoon het. 

18.5.21

André Scheepers oorlede

Sipke de Vries het laat weet dat André Scheepers, voormalige finansredakteur van Die Transvaler,  Maandag, 17 Mei 2021 in die Flora-kliniek in Johannesburg oorlede is as gevolg van komplikasies met 'n galblaas-operasie. 

André het sowat 'n maand gelede 'n hartoperasie ondergaan waarvan hy goed aan die herstel was. Sipke sê André was 'n besonder goeie vriend van hom. Hy sal later meer besonderhede stuur.

22.4.21

Mediamense.com vir almal

JOHANNES FRONEMEN
skryf: Mediamense.com het ‘n paar weke gelede herleef nadat dit vir ‘n paar jaar lank stil was. 

Die ou Mediamense.co.za is gekaap en ons moes van voor af begin. Gelukkig het nuwe programme en die slimfoon dinge makliker gemaak as 15 jaar gelede. 

Daarom is daar nou letterlik honderde voorbeelde van koerantvoorblaaie op die nuwe Mediamense.com. En dit word letterlik daagliks aangevul. 

 Jy is meer as welkom om daar te gaan blaai en die vrug van 50 jaar se bymekaarmaak te geniet. 

4.3.21

Hulp met foto's gevra

HENNIE VAN DEVENTER, Melkbosstrand, skryf: Ek kom by K'rant uit via Gerhard Burger.  

In September verskyn van my, by Naledi, ‘n boek met die titel “Koerantkamerade”.  Dit behels 50 gemoedelike, informele “grafskrifte” vir ontslape tydgenote. 

Synde ‘n lewenslange  Nasperser het my seleksie ‘n Naspers-oriëntasie.  Perskor-mense wat wel ‘n buiging maak, sluit in PG du Plessis, Koos du Plessis, Gerrit Velthuysen en fotograaf Willie van der Walt.

12.2.21

Anita de Kock oorlede

Anita de Kock

FANUS BOTHMA skryf: My jarelange vriendin en oudjoernalis en -kollega, Anita de Kock, is Woensdag 10 Februarie 2021 skielik aan 'n hartaanval in Robertson oorlede. Sy was 66. 

Sy was ‘n algemene verslaggewer, subredakteur en kunsredakteur by Perskor tussen 1981 en 1992. 

Haar belangstellings was ongekend, veral in die uitvoerende kunste, veral teater en klassieke musiek met 'n voorkeur vir opera en ballet. Sy was ook 'n groot aanhanger van die Grand Prixrenjaers en -renne! 

Vele beginnerskrywers het onder haar leiding gepubliseer. Haar spitsvondigheid, aweregse uitkyk op die lewe en soms galgehumor sal gewis gemis word!

26.1.21

Huldeblyk aan Coenie Slabber

KARIN PRETORIUS bring hulde aan Coenie Slabber (81) wat die afgelope 23 jaar dieselfde woonstelblok as sy in Bloubergstrand gedeel het.  Hy is verlede week oorlede.

Sy skryf:  Hy was ‘n goeie vriend, altyd beleefd teenoor my, vriendelik maar stil en baie privaat. 

25.1.21

Stella Niemand tree uit

K’rant se redaksie het met ‘n derde verminder. Stella Niemand het aangekondig dat sy as taalversorger van K’rant gaan uittree. 

Ons is Stella diep dankbaar vir die jare se getroue diens wat sy verrig het om K’rant ‘n suiwer Afrikaanse publikasie te hou. 

Stella was en is ‘n taalpuris en het haar voortdurend op die hoogte gehou met die evolusie van ons taal. 

Ons wens jou alles van die heel beste toe vir jou welverdiende aftrede, Stella.  Weer eens BAIE DANKIE! -- Redakteur.

23.1.21

Coenie Slabber sterf

Netwerk24 het gister berig dat Coenie Slabber (81), ’n voormalige kunsredakteur van Rapport, vroeër vandeesweek dood in sy woonstel in Bloubergstrand aangetref is.

22.1.21

Komkommertyd by die koerant

KARIN PRETORIUS skryf: Met komkommertyd pas agter die rug in die joernalistieke wêreld, onthou jy dít as die gonswoord toe jy in 1970 as groentjie by Die Transvaler in Braamfontein aangesluit het. Moenie kla oor harde werk deur die jaar nie, het die ou hande gewaarsku, want Desember en Januarie is komkommertyd en dan skep almal asem. Baie min werk, het hulle opgemerk. En só was dit dan ook.

Nuusredakteur Hennie Kotzé sou in Desember/Januarie met sy groot swart dagboek om 10:00 by die algemene kantoor opdaag vir die redaksionele vergadering en met ‘n verleë laggie vra: enige voorstelle vir ‘n storie vandag? En dan sou ons grootoog na mekaar staar en wonder: wat nou?