Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

16.7.12

PW Botha het twee keer flagrant vir my gelieg

ANDRIES BOTHA skryf: PW Botha, in die omgang Piet Wapen genoem, was ’n man wat eienaardig met die waarheid omgegaan het – en dit het my twee keer in my loopbaan tussen die oë getref.

• Die eerste keer was in ’n Geloftedag-toespraak by die Paardekraal-monument op Krugersdorp waarin hy gewag gemaak van ’n "geheime wapen" wat Suid-Afrika het en wat hy bereid is om met "bevriende lande" (waarvan daar seer seker in daardie tyd bitter min was) te deel.

Die volgende dag was dit natuurlik Die Transvaler se hoofberig. Die hele land het begin wonder watse geheime wapen ons nou ontwerp het.

Maar die dag daarna ontken Piet Wapen dat hy hoegenaamd ooit na ’n geheime wapen verwys het.

PW Botha
Navorsing wat ek gedoen het, het aan die lig gebring dat hy na ’n grond-tot-lug-projektiel verwys het wat vliegtuie kan opspoor en neerskiet wat onder die radar vlieg. Uiteraard kon ek nie dáároor skryf nie. In elk geval was so ’n projektiel nóg uniek, nóg was ons die enigste land wat daaroor beskik het.

Die tweede keer was toe ons troepe al feitlik in die buitewyke van Luanda in Angola deur Europese TV-kameras betrap is (Blaar Grobbelaar het nog gespot dat ’n nagklub daar reeds na PW Botha vernoem is), maar Suid-Afrika nog ontken het dat ons hoegenaamd in Angola is.

Ek laat die res van die storie oor aan Dirk Richard in sy boek, Tussen Bid en Droom, oor wat in daardie Januarie 1976 gebeur het:

"Andries Botha, een van my assistant-redakteurs, het die Minister van Verdediging by sy vakansiehuis in George geskakel. Hy wou weet of Suid-Afrika sy strategie oor sy teenwoordigheid in Angola sal wysig, na aanleiding van uitlatings op die spitsberaad van die Organisasie vir Afrika-eenheid." (Die 46 OAE-lande was gelykop verdeel oor of hulle dit moes goed- of afkeur en Idi Amin, wat toe president was, het die beslissende stem gehad.)

"Nee," het die Minister geantwoord. Die volgende dag het (Andries) Botha onder sy eie naam berig dat Suid-Afrikaanse troepe in Angola sal bly, volgens die Minister.

"PW skakel uit George op soek na sy naamgenoot. Hy wil hom net gryp. Maar die koerantman is nie op te spoor nie." (’n Seldsame vry middag waarop ek gaan gholf speel het).

"Die volgende dag reik mnr Botha ‘n verklaring uit waarin hy ontken dat ‘n onderhoud plaasgevind het en dat die berig onwaar is." (sic).

Dirk Richard
"Tot groter leuenaar kan jy ’n koerant nie maak nie. Andries Botha antwoord in ’n berig dat ’n onderhoud wel plaasgevind het en dat die berig ’n getroue weergawe daarvan is. Daarop wou mnr Botha nie reageer nie, maar ons hier by Die Vaderland het nog nie genoeg afgekoel nie.

"Ek skryf toe ‘n artikel onder my naam waarin ek Verdediging kritiseer vir die wyse waarop hy inligting aan die pers hanteer. Daarop wou ’n segsman van die Departement ook nie antwoord nie.

"Dit is noodsaaklik dat ‘n redakteur soms hardekwas moet wees. Niks trap so maklik uit soos ‘n vloermat nie.”

Beeld, met wie Perskor toe in ’n stryd om lewe en dood betrokke was, het PW se ontkenning natuurlik met groot genoegdoening uitgebasuin.

Ekself het vir mnr Richard gesê ek sal nie ’n keuse hê as om te bedank as ons nie by die berig staan nie. Tot sy eer het hy eenvoudig gesê: "Is jy seker van die feite?" Toe ek "ja" antwoord, het hy eenvoudig gesê: "Skryf, ons staan by ons storie."

Die Rand Daily Mail het ook groot genot daaruit geput en die volgende dag verwys na die "Battle of the Botha’s". Nodeloos om te sê, hulle kon egter ook nie ’n verdere woord uit PW of sy departement kry nie.

PW het toe wel nie die leuen verder gevoer nie, maar hy het daar in George se wêreld eienskappe van die olifant aangeneem – ’n lang geheue. Jare later was sy wraak teen my (vir hom) bitter soet (as daar so iets kan wees). Maar dis ’n storie vir ’n ander dag…