Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.7.12

Kapenaars laat hoor op ’n streep

Oud-Perskor-fotograaf Sieg Behm skryf: Eerstens baie dankie vir die gereelde uitnodigings na reünies. Ek het Mei-maand s’n eers gister ontvang (12 Julie). Dit moes seker ’n paar draaie gemaak het. Dis maar moeilik om van die Kaap af op te reis vir wat ek glo n lekker "party" sal of sou wees.

Ek is dankbaar dat julle aan my dink.

Van die ou Kaapse klomp is maar min oor. Ekself is ek al vyf jaar lank afgetree ná 26 jaar by die onderneming. Ek het met Perskor begin en met Caxton geëindig – was die Kaapse fotograaf vir die vier destydse koerante. Later toe niks koerante oor was nie, is ek na die tydskrifte toe.

Van my destydse kollegas leef Amanda Botha (onder Wimpie de Klerk), Sybelle Albrecht (Die Vaderland onder Harald Pakendorf) en Kritz Odendal (advertensies) nog. Ook Bert van Hees, later by The Citizen. Hy is ook al 70.

Sam Lake, Kotie Viljoen en Apie Greef is nie een meer met ons nie.

Ek is erg oor die K’rant en sal ernstig nadink oor bydraes.

Mooi bly – nogmaals BAIE DANKIE vir julle moeite.

Persklub-vriendin steeds by Afrikom

’n Ere-Perskorhaan, Muriel Hau-Yoon, laat weet op “Waar’s hulle” se navraag oor haar doen en late:

Ek het eintlik nooit vir Perskor gewerk nie, maar het baie Perskorhane ontmoet en bevriend toe ek sewe jaar lank sekretaris was van die Pretoriase Persklub.

Ná meer as drie dekades is ek steeds by Afrikom (voorheen Gehele Kommunikasiediens). Nadat Joh Groenewald afgetree het, het ons die besigheid maar in Kaapstad gekonsolideer. Ons doen nog skakelwerk, publisiteitswerk en parlementere monitering. Hartlike groete uit ’n koue, nat Kaapstad!

Marius laat waai tussen die Kaap en Centurion 

Marius Kleynhans, vroeër lid van Die Transvaler se politieke redaksie skryf: Thys sê julle soek my. Ek’s Sabinet se bestuurder in die Wes-Kaap met kantore in Kaapstad (Kerkplein) en Centurion (Bankstraat) en ry heen en weer (hou my jonk). (Marius verwys na Thys Human. Sabinet is ’n indekseringstelsel vir biblioteke wat die afgelope 27 jaar al die gebruik van elektroniese inligting onder akademici, navorsers en andere fasiliteer. – Red.)