Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.7.12

In Dana se dampkring

GERT LE ROUX, later sportredakteur van Dagbreek en Landstem, vertel dat toe hy in 1959 by Die Transvaler se sportredaksie ingeval het, was Dana Niehaus nog die sportredakteur. Hy het egter reeds bedank om ’n pos in Landbouweekblad se advertensieafdeling te aanvaar.

Die enigste ander lid van DT se sportredaksie was wyle Hennie Viljoen, wat ook nie juis lank voor my daar aangestel is nie.

Ons drie het ’n baie klein kantoortjie gedeel.

Een middag sit Dana en rook en wil toe van ons weet of ons die bedompige kantoor geniet, waarop ons te kenne gee dat dit nie aangenaam is nie.

„Dan loop ek maar. Ek wil julle manne nie verontrief nie,” het hy geantwoord, uitgestap en in sy motor geklim en huis toe gery.

Ons twee nuwelinge moes toe mooitjies die sportbladsye op ons eentjie afgooi – en dit het nogal ’n gespook afgegee.

Willie Muller het die nuwe sportredakteur geword. Ons twee jonges het saam met hom die leisels geneem, met John du Toit wat die subredakteur was. Willie het op Heidelberg gewoon en daagliks na Braamfontein gereis.