Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

26.7.12

Skryf én speel deug nie in rugby

Artikel oorgeneem uit die eerste publikasiereeks van K’rant onder redaksie van PEET SIMONIS

NEIL STEYN vertel:  ’n Rugbyskrywer wat probeer skryf oor wedstryde waarin hy speel, kom dikwels sleg tweede of selfs derde, veral as jy neuk met die moordende Carltonbekerreeks van die Blou Bulle.

Jy hoor dikwels ook die waarheid, omdat die beamptes nie besef die man van die koerant wat met hulle praat is ook betrokke nie. Ek het ’n hele paar sulke stelle afgetrap, omdat ek toe misdaadverslaggewer was en rugby sonder die sogenaamde ‘byline’ geskryf het.

Neil Steyn
Nog op Tuks was ek medewerker vir Die Transvaler. Uit die huidige Fezelas-span is ek toe benoem vir die Noord-Transvaalse proewe om ’n junior provinsiale span te kies vir ’n wedstryd teen Transvaal.

Basies was dit Tuks en Polisie se tweede spanne met ’n paar ander spelers. Die proewe was taai, maar dit het baie goed uit my oogpunt gegaan.

Ongelukkig kon die Tukkies en die Bobbies maar weer nie lekker oor die weg kom nie. Daar was geniepsige spel. Ek het volgens my eie oordeel my slegs verdedig, maar die keurders het anders gedink.

Die Sondag bel ek wyle oom Vissie van Polisie om die span te kry en sy indrukke te verneem.

Die gehalte was hoog, maar ongelukkig was daar vuil spel. Die keurders was bang om daardie Steyntjie van Tuks te kies. Hy kon dalk moeilikheid teen Transvaal maak en van die veld gestuur word.

Ek was verslae, want ek was daarvan oortuig dat ek in die span moes wees, maar moes toe verneem dat ek ’n risiko en ‘n vuil uil was. Dit was ’n bitter pil om te sluk.

Twee jaar later speel ek vir Oostelikes, toe ’n deeltydse joernalis wat misdaad doen, swot en rugby speel. Ek help wyle Fritz Ferreira met Die Transvaler se sport en doen as medewerker oor die Carltonbeker-wedstryde verslag.

Oostelikes het ’n puik span gehad. Springbokke wyle Louis Schmidt, Cor Dirksen, wyle Loftie Fourie, top- provinsiale spelers wyle Johan Strydom, Gideon Steyn, André van Tonder, Louis Luyt en ’n paar ander hardebaarde.

Oostelikes, wat nooit tevore die Carltonbeker kon wen nie, was goed op pad na die gloriejaar in sy geskiedenis. Die beker was byna in die sakkie.

Regs: Neil Steyn (tweede van regs, voor) as lid van ‘n oud-Tukkiespan in 1963. Louis Schmidt (vierde van links, agter) en Gideon Steyn (derde van links, voor) het saam met hom vir Oostelikes gespeel in die wedstryd waarna hy verwys.

Die Saterdag speel ons teen Yskor, laaste op die punteleer, op Loftus B. In die koerant staan groot in swart letters: Maklik vir Oostelikes. Die berig sê Oostelikes se agttal is te sterk en die agterlyn veels te vaardig.


Ek het nie mooi gedink nie, want Yskor het oor ’n ysterharde voorhoede beskik. Die eerste skrum was ’n ontnugtering. Ons wou nog mooi sak, soos hulle vandag doen, toe storm die staalmanne ons. Niemand was gereed nie. Hulle loop ons plat en grom soos leeus.

Ons is verniel. Ek dink ons het hulle totaal onderskat, maar die berig het hulle ook woedend gemaak.

Ons het as agttal soms teen Noord-Transvaal geoefen, omdat ons so goed kon skrum, maar Yskor het ons verpletter, soms sommer vyf, ses, sewe meter teruggestoot, ’n oorstootdrie of twee teen ons behaal en ons kis gespeel.

Ek was gedaan, maar toe ek na my spanmaats kyk, het ek besef ons was almal pootuit. Die groot agttal is tot stilstand gespeel, die groot name agterlangs voos geduik. Yskor het ons verpletter.

Ná nog ’n drie, wat die telling na 24 – 5 geneem het, het ek sommer op ons kwartlyn buite die veld vir die afskop gewag.

My regstreekse teenstander, Dawid Nagel, was ’n meester in die skrums. Noord-Transvaal se afrigters het hom tot ’n paar jaar gelede gereeld gevra om met die skrumsessies te help.

Links: ‘n Yskorspan uit die jare sestig. Dawid Nagel staan tweede van regs in die middelste ry.

Ek hoor ‘n lawaai. Dis ou Dawid, armswaaiend voor die pawiljoentjie af.

“Waar is die man van die koerant nou? Laat hy opstaan. Dis mos ’n maklike ‘game’ vir Oostelikes.” So gaan hy tekere. Hy storm ook by my verby, soekende na Die Transvaler se man.

Ek had genoeg van Dawid vir een dag en ’n lang tyd daarna. Doodstil staan ek en wag dat die manne moet terugkom halflyn toe vir die afskop.

Jare later het ek Dawid vertel ek het die berig geskryf. Toe sê hy dis die beste wat Yskor in sy tyd gespeel het. Hulle was woedend oor die neerhalende trant van die voorberig.

Vir Oostelikes was die skok so groot dat hulle ook die volgende Saterdag met ’n splinternuwe span verloor het en die Carltonbeker was daarmee heen. Eers twee jaar later sou Oostelikes uiteindelik die droom bewaarheid.

Ek het baie gewonder of daardie berig Oostelikes die beker gekos het.