Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.7.12

Vegkop, o Vegkop

PIETER KRUGER, oud-sportskrywer van Die Vaderland, d(r)ink met heimwee terug aan een van die persmanne se gunsteling watergate.
TOE ek ’n paar maande gelede verby die Nieu-Doornfontein-hotel ry, wou ek by Vegkop inglip, maar sy deure was lankal gesluit.

Ek kon maar net kop skud, want ek glo nie daar is/was ’n Perskor-, Rapport-, Citizen- of Beeld-joernalis wat nie sy tande in Vegkop geslyp het
nie. Ek wonder steeds waar die plek sy naam vandaan gekry het, want daar was verskeie weergawes.

Toe ek sowat 30 jaar gelede by Die Vaderland ingeval het, was Diamond nog eienaar. Agter die toonbank was die nimlike Les, wat jou op sy boekie laat drink het.

Ons het ons Sondag-tjekkies oor die toonbank gewissel en só is die boekie afbetaal.

Jackie Pretorius
Ou Grobbie van Rapport, wat op ’n kol op die eerste vloer gebly het, het sy salaris-tjek by Diamond gewissel, totdat hy een maand iets soos R17.50 moes inbetaal. Ons het van die ander „regulars” soos die oud-renjaer Jackie Pretorius, Farmer Brown (van hoender-advertensie-faam) en Tjaart Kruger, wat oorkant Perskor gewerk het, só leer ken.

Op Vrydagmiddae het die plek gekook, want Harald en Aletta, oorlede Chris Louw (nog lank voordat Boetman die bliksem in was), André Verster, Weyni Deysel en die joernaliste het saam met die sportredaksie ’n skuimkop geklink. Ons het altyd in die agterste kroeg gesit en dit was straks daar waar Gerhard Burger se Voetap van der Westhuizen-rubriek sy beslag gekry het: Harry die Horse, Johnny Visvoet en die Man in die Hoek.

Wanneer die son begin water trek het, het Polony, Alf, Freddie, Martin en At-hulle ingestap. Rapport se Gielie de Kock, Phil Zaayman, Chris Karsten, Herman Jansen, Hermina Oberholzer en Essie was soms ook daar.

Oorlede Weyni se rugbysketse, wat al vergeel het, het teen die muur gehang langs die vensters met die gekleurde glas. Bokant die lang kroegtoonbank het vlae van ander lande gehang en verkreukelde banknote van oorsee.

Daar is gelag en gesels, ons het „pinball” en „pacman” gespeel, ons het met die een oog die televisie dopgehou wat in die een hoek gehang het.

Op Vrydagaande was daar musiek, eers net ’n ou „Juke Box” waar Chris Kristofferson oor sy Sondagoggend-babelas kon sanik en Van Morrisson liries oor sy Brown Eye Girl geraak het. Later was daar ’n orkes (as ’n mens dit so kan noem) – gewoonlik net ’n ou of ’n meisie wat Crackling Rosy, Bad Moon Rising en the House of the Rising Son só mooi kon sing.

Mike Scutte (Foto: Republikein)
Soms het Mike Schutte opgetree – en ons destyds heeltemal van Afrikaanse musiek genees. Maar niemand het gedurf waag om te sê dat Mike kon nie sing nie, want dan was daar ’n vakature.

Nadat Diamond die tydelike met die ewige verwissel het, het Speedy oorgeneem en het Debbie en Maggie ons bedien.

Op die eerste vloer was daar in die aande gedobbel – dís waar Ronnie sy salaris bestee het; dominoes en poker, pool en later dobbel-masjiene, nog voordat die meisies van Thailand hul intrek geneem het.

Dit was goeie tye, jare lange vriendskappe is só gesmee. Ons het oor Dallas, Rich Man Poor Man, Naas, Danie Gerber en Graeme Pollock gesels. Ons het in mekaar se wel en weë belang gestel, oor scoops en grotes wat weggekom het, oor ons klein salarisse, die petrolprys, PW en FW .

Maar net soos Die Vaderland en Die Transvaler het Vegkop ook sy laaste asem uitgeblaas en al wat nou oorbly, is ’n leë dop.