Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

20.7.12

Frik se spyt oor 'n vuishou

ANDRIES BOTHA skryf: Eendag het ek, toe ek Durbanse Verteenwoordiger was en oor die July-modes moes skryf, die volgende verby die subs gesluip gekry: “’n Steekproef wat ek onder Durbanse mannekyne gedoen het, het getoon dat mini-rokke vanjaar hoog in die mode en ver bokant die knieë gaan wees.”

Vroeër – toe die Franse op pad hierheen in die destydse Rhodesië gespeel het – was daar ‘n Fransman wat vrekbang vir vlieg was. Hulle het hom toe per motor van die destydse Salisbury na Bulawayo vervoer. DT se lopskrif was: “Groot voël Haan se grootste vrees”.

Dan het Johan Volschenk ‘n storie oor Frik du Preez geskryf toe hy uitgetree het, wat min of meer as volg gelui het: As daar een ding is waaroor ou Frik vandag nog spyt is, is dit dat hy daardie vuil Franse slot, Alain Plantefol in die laaste lynstaan van die laaste toets op Nuweland katswink geslaan het.

“Ek moes hom in die eerste lynstaan van die eerste toets al gekap het,” het ou Frik gesê.

Vrye Weekblad het ook ‘n puik opskrif gehad oor ‘n storie van een of ander generaal: “Daar’s ‘n generaal in die drinkwater”

Op ‘n slag het die Springbok-krieketspan ‘n verskriklike groot getal lopies in ‘n toets teen Engeland aangeteken en feitlik geen paaltjies kon plattrek nie. The Star se opskrif op ‘n Saterdagoggend was: “England takes a wicket!”