Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.9.17

Des Erasmus (deel 2 van 2): Die kuber-kommunikasie dien slegs as “teasers”


HENRIETTE LAMPRECHT skryf: Des Erasmus erken hy was baie dae weg van die huis in sy loopbaan as joernalis en soms lang dae en lang nagte waarin die kleinspan soms net gesien is wanneer hulle reeds slaap of nog slaap. Van goeie aftye saam is supertye gemaak.

Soms is hy weggeroep wanneer hulle saam op pad na ‘n lekker plek was. Daar was tog verstaan, sê hy “hoewel klein seuntjies en ‘n meisietjie se vingertjies soms deur die ogiesdraad van die voorhekkie gedruk was waar hulle staan en wag het”.

12.9.17

Des Erasmus (deel 1 van 2): Die joernalistiek was ‘n nering, nie 'n betrekking

HENRIETTE LAMPRECHT, hoofverslaggewer by Republikein in Windhoek wie se storie hier onder oor veteraankoerantman Des Erasmus in Republikein in Windhoek verskyn het, skryf: Des Erasmus is letterlik die ‘last man standing’ van sy generasie gatskopjoernaliste en vir my ’n mentor en die versinnebeelding van die Afrika-gesegde: “wanneer ’n man sterf, brand ’n biblioteek af”.

As ‘n boorling van die Kaapse Middellande was Des Erasmus se eerste kennismaking met stories van tannie Miemsie van Deventer van ‘n buurplaas.

30.6.17

Jan van Vreden oorlede

Jan van Vreden
JOHAN VAN ZYL van Pretoria FM het laat weet dat Jan van Vreden, ‘n bekende in joernalistieke kringe, Woensdagoggend (28 Junie 2017) in die ouderdom van 83 jaar aan hartversaking oorlede is.

Jan het jare lank as joernalis vir Perskor gewerk. Hy was onder meer hoofredakteur van  Hoofstad, Transvaler en Die Noord-Transvaler.

Hy is op Laersdrif naby Marble Hall gebore en het op Groblersdal skoolgegaan. Jan het ‘n  groot bydrae tot die Afrikaanse mediabedryf in Suid-Afriika gelewer. Hy was in militêre kringe bekend vir sy uitsonderlike dekking van verskeie weermagoperasies.

16.6.17

K’rant scoop Rapport en homself

PHILIP DEETLEFS skryf: Vier en ‘n half jaar gelede toe K’rant ses maande oud was, het Jean Oosthuizen vir ons ‘n heerlike storie oor PG du Plessis (nou wyle) geskryf. Ná PG se dood nou die dag soek ons hier by K’rant naarstiglik na iemand wat vir ons iets uit ‘n Perskor-hoek oor PG kan skryf.

Op Facebook sien ons toevallig Jean Oosthuizen se treffende storie oor PG wat 100% in die Perskor-ruimte pas. Rapport het dit oor die naweek gepuliseer, maar K’rant wil dit vir die rekord en toekomstige verwysing plaas.

14.6.17

Dankie, jy het ons nooit gedrop nie

JEAN OOSTHUIZEN se huldeblyk aan PG du Plessis wat op 11 Junie 2017 in Rapport Weekliks verskyn het met onder meer die brief wat hy vir sy redaksie geskryf het toe hy weg is as redakteur van Hoofstad.

Jean skryf: Die meeste mense sal PG du Plessis waarskynlik onthou as dramaturg, skrywer, storieverteller en televisiepersoonlikheid van formaat.

Oor sy bydrae tot die letterkunde, die toneelwêreld en as akademikus is daar meer as genoeg bekwame mense wat daaroor kan skryf.

Ek onthou hom as my heel eerste koerantredakteur by die destydse middagblad Hoofstad in waar hy my as jong, nat-agter-die-ore joernalis aangestel het.

13.6.17

Willem Knoetze oorlede

WILLEM KNOETZE, oudjoernalis van Die Vaderland, Die Transvaler en Noord-Transvaler Metro, is onlangs oorlede, het Piet Ebersöhn ‘n rukkie terug laat weet. K’rant het vergeefs meer besonderhede probeer kry. Is daar kollegas wat kan help?

Willem was 77 en 57 jaar lank ‘n joernalis.

‘n Vorige berig oor hom is HIER.

16.5.17

Van plaaswerf tot paleis

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: 'n Mens is nooit te oud om te leer nie, het ek opnuut besef nadat ek Japie Bosch se artikel, Perskor was g'n in Aucklandpark (klik HIER), gelees het.

Hy skryf dat die ou Perskor-gebou in Braamfontein-werf geleë was, en nie in Aucklandpark nie. Dit het ek nooit besef nie, ten spyte daarvan dat ek 23 jaar lank in Aucklandpark gewoon het! Ek het sommer dadelik met nuwe oë na die padkaart gekyk.

24.4.17

Ken iemand hom?

GERHARD BURGER skryf uit Brisbane waar hy by sy dogter, Adele, kuier: Ek vermoed die ou het saam met ons gewerk of was saam met my op skool.

Maar hy het geen teken getoon dat hy my ken nie. Toe neem Adele maar 'n foto, ingeval een van julle hom herken.

Dalk is hy nog familie ook.

4.4.17

Die Transvaler se Jakkie Groenewald debuteer in Kopskoot

RENSKE JACOBS skryf: Kopskoot deur die Kaapse sielkundige, Gerda Kriel, het die Jong Skrywersafdeling van RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie vir 2016 gewen. RSG se eerste Radioteaterseisoen vir 2017 open Donderdagaand 6 April om 20:00 met hierdie sielkundige riller.

Kriel is ook bekend vir haar aangrypende radiodrama, Swanesang, met die pragvertolking deur Wilna Snyman en wat deur RSG uitgesaai is nadat dit ook die Jong Skrywersafdeling in 2014 gewen het.

29.3.17

Fooitjie word toe 'n fortuin

PEET SIMONIS skryf: Ek betaal my vrou Esther elke maand n bedraggie sodat sy die 'faailieng' kan doen en papiere weggooi wat nutteloos lyk. Maar sy is baie besig met ander goed en so het dit gebeur dat sy nooit die aandelesertifikaat wat APB vir my uitgereik het, snippermandjie toe gestuur het nie.

Dit was vir een honderd aandele van vyftig sent elk. Totaal R50.

Ek dink alle personeel van die destydse APB het so ‘n afskeidsgeskenkie by oom Marius gekry wanneer hulle weg is by die pers – ek ná iets soos twaalf jaar.

Laat mens nogal dink aan die krismishoendertjie van destyds.

27.3.17

Die Franse Konneksie

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Ek het al gewonder of die K´rant-redaksie nie wil toelaat dat ons dan en wan ´n storie skryf wat nie spesifiek met die ou dae by Perskor te doen het nie. Ek dink veral aan die skatkis (die room sypel deur die splete) joernaliste wat daar rondsit en oud word en miskien tog die behoefte het om weer die pen op te lig sonder om in die verlede rond te delf.

Soos vanmôre toe my Africana-boeke uit die Kaap aankom en ek lees oor die Franse wat die Kaap in die jare 1781 tot 1783 beset het om die Ou Kasteel teen die Engelse te beskerm. Ek sweer ek het hierdie deel van die geskiedenis verslaap!

22.3.17

Jan van Vreden opgespoor

JAN VAN VREDEN skryf: Ek het toevallig op K`rant afgekom en sien daar is navraag van Stoffel Mynaard oor my pa, Jan van Vreden (Hoofstad, Transvaler, Vaderland).

Hy woon tans in die Drie Riviere-Aftreeoord op Vereeniging. Sy telefoonnommer is 076 712 3699. My ma, Onia Van Vreden, se nommer is 072 599 4216.

Ek sal dit waardeer indien K'rant sy besonderhede kan plaas na aanleiding van Stoffel Mynaard se navraag. Hy sal graag van oudkollegas wil hoor. (Foto geneem in 1974.)

16.3.17

Feniks verrys uit die as

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Gert van Rooyen se lekkerlees-herinnering aan Hillbrow het my aangespoor om ook my stuiwer in die armbeurs te gooi oor Hillbrow en omgewing, in 'n tyd wat la-a-nkal saam met die stof oor die Goudstadse mynhope weggewaai het.

Ek kan dit nie glo nie, dis byna vyftig jaar gelede dat ek ook die voorreg gehad het om in hierdie hoë-oktaan-voorstad te kon woon. Maar dit voel soos gister. En vir my, as dorpsdogter, was dit een van die wonderlikste belewenisse van my lewe - mense soos miere in die veilige strate, enige tyd van die dag of nag. Eetplekke en winkels wat deurnag oop was.

(Aangesien Gert en ander joernaliste reeds oor heelwat van die landmerke geskryf het, gaan ek nie oor almal uitbrei nie.  Gert se storie is HIER.)

20.2.17

Die dag toe Peet se profeet reg was

JOHAN LOTTERING skryf: Een middag sit ek in Die Transvaler se subkantoor in Mitchelstraat die middelblad en versorg. Net die HAB en middelblad moet nog sak. Die plek is blou gerook. Hoofsub Sandy MacDonald se oë traan. Sy hare staan wild. Hy’s moeg, want die oggendskof is al vroeg uit die vere.

Hy en Bere, ons oorlede vriend Johann de Beer, wil Western Hotel toe. More is Saterdag. Dis warm en ek moet saam. Ek hou hulle terug. Peet Simonis se kerkstories kom nie klaar nie. Sy goed is goed, maar 'n mens moet kophou.

16.2.17

Perskor-reünie 2017: geborg deur Dagbreektrust

Met die afsterwe van ons kollega en vriend, Hans Lombard, en die emigrasie van Piet Ebersöhn na Korfu is die reёlings vir vanjaar se saamtrek van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens) deur 'n nuwe komitee oorgeneem. In die voorsitterstoel is Harald Pakendorf en hy word bygestaan deur Margaret Lombard en Louise Blake.

Die reünie vind op Sondag, 26 Maart 2017 by die restaurant Keg and Eagle, h/v Nic Diederichsboulevard en Hendrik Potgieterweg, Wilgeheuwel, Roodepoort plaas. Dis by die The Hub Crossing, dieselfde restaurant waar ons verlede jaar vergader het. (Wesrand Retail Crossing.)

10.2.17

Billy Graham in ongeluk by Thunder Gun

PEET SIMONIS skryf: Deur die koerante waar ons gewerk het, het ons joernaliste voorregte geniet wat nie die gewone man op straat beskore was nie. Ons het byvoorbeeld in kontak gekom met beroemde mense wat ons lewens verryk het. Soms was dit net vlietende ontmoetings, maar ander kere het daar vriendskappe uit gegroei.

Joe Venter en Gary Player het byvoorbeeld boesemvriende geword.

Ek weet Rika van Graan (wat ek aangestel het as eerste vrouemisdaadverslaggewer) het baie vriende onder polisiemanne gehad – van die laagste range tot heelbo by die generaals. Amanda Botha kan ook hoofstukke skryf oor van haar kontakte.

9.1.17

Tegnologiese Robinson Crusoe uiteindelik gered

PIET EBERSÖHN skryf uit Korfu: Dit het as't ware gevoel of ek `n tegnologiese Robinson Crusoe is toe ek aanvanklik langer as twee weke sonder internet of selfoon op die eiland Korfu in die Ioniese See gestrand was.


Ons moes seker maar dinge sien kom het toe alles nou nie uit die staanspoor verloop het soos ons beplan het nie.

Die gedagte was dat ons Maandag 7 November net ná 13:00 op Athene se lughawe sou land.

16.12.16

Komkommertyd

PHILIP DEETELFS skryf: Ooit gewonder waar die uitdrukking “komkommertyd” vandaan kom? Dis interessant om te sien dat die uitdrukking “cucumber time” reeds in 1699 in ‘n Engelse woordeboek opgeneem is.

Die oorsprong daarvan was (volgens Wikipedia) dat die Britse adellikes in die tyd wat die komkommers in seisoen was, met vakansie gegaan het en die kleremakers dit toe komkommertyd genoem het omdat sake vir hulle traag was.

15.12.16

Hoofsub na dekades opgespoor

KARIN PRETORIUS skryf: Toe ek die kunsblad van Die Burger oopvou, sien ek Johann Botha van die Baai het ‘n boek Koukonap gepubliseer wat in die 1950’s in die Noord-Kaap afspeel.

Sy foto lyk vir my vaagweg bekend en toe ek sy outobiografie lees, toe wéét ek: dis die einste Johann Botha wat in 1970 my hoofsub in die nagkantoor by Die Transvaler was – 46 jaar gelede!

Nou is my nuuskierigheid eers geprikkel en ek lees verder: dis Johann se tweede publikasie en twee dekades gelede is sy debuutwerk Die Groot Vyf met die Eugene Marais-prys bekroon wat handel oor die politieke oorgang in Suid-Afrika teen die agtergrond van die natuurlewe in die land.

12.12.16

Maureen uit hof gejaag in bordeel-saak

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Daar het al byna 'n vyf dekades in die niet verdwyn sedert ek hofverslaggewer was en miskien word dinge nou anders gedoen, maar doerietyd moes ons loop dat ons hik agter stories aan. Van hofsaal tot hofsaal.
Danksy Hermie Hendriks se joernalisteskool in 1970, was die landdroshof darem nie meer heeltemal 'n vreemde plek toe ek die dag hofverslaggewer word nie, maar eintlik was ek steeds 'n groentjie.

Skrikkerig vir die regswêreld en oorgretig om my beste voetjie voor te sit in 'n strak omgewing, het ek my in hoë hakke opgedollie. Splinternuwes. Twee spoggerige nommertjies met hakke wat my as't ware kop en skouers bokant almal laat uittoring het.

8.12.16

Besondere eer val Thijs Nel te beurt

SCHALK LE ROUX, redakteur van Die Hoorn in Oudtshoorn, skryf: ’n Besonderse eer het Thijs Nel, oud-kunsredateur van Die Vaderland en deesdae gevierde kunstenaar van Oudtshoorn, te beurt geval!

Hy is genooi na die opening van die nuwe vleuel van die Montreal Museum of Fine Arts in Kanada, waar een van sy werke uitgestal word. Die museum het Thijs se werk, ’n keramiekpot, in 1998 by ’n kunsuitstalling ,“Down to Earth”, in die LongHouse Reserve in Long Island in Amerika gekoop. (Die geleentheid was sowat 'n maand gelede gehou. -- Red.)

1.12.16

Piet ontken vaderskap op rype ouderdom

PIET EBERSÖHN skryf: Dat ek nou op my rype jare vaderskap moet ontken! Peet Simonis is die vader van K'rant. Ek het dit bloot in opdrag van hom, Hans Lombard en Andries Botha help laat herleef.

(K’rant was vroeër deur middel van e-posse versprei. Onder Piet Ebersöhn se leiding het K'rant gestalte as ‘n webjoernaal (blog) gekry. – Red.)

29.11.16

Piet en Mariëtte skop nes in Korfu

GERT VAN ROOYEN skryf: Piet Ebersöhn, oud-Transvaler, die vader van K’rant en vir jare al die organiseerder van die Perskor-reünie, en sy vrou, Mariëtte, het toe die “groot Griekse stap” gedoen en aan die begin van November na die eiland Korfu verhuis.

Hulle huur tydelik `n landelike woonstel in die Achilleo-omgewing, suid van Korfudorp terwyl hul huis opgeknap word.

9.11.16

Joan Kruger se "biografie" oor Tafelberg

JOAN KRUGER, alombekende oudkollega by Die Vaderand asook Die Transvaler, het onlangs haar jongste boek, On Top of Table Mountain, gepubliseer.

Die boek kan teen groot afslag aanlyn by www.loot.co.za bestel word of by Graffiti-boeke in Pretoria gekoop word.

Hierdie lekkerlees-boek vertel die “storie” van Tafelberg soos ervaar deur die buitengewone besoekers wat tot bo-op hierdie ongewone berg geklim het.

7.11.16

Amper klap Notorius Pretorius se doppie

KARIN PRETORIUS skryf: Ek het lekker gelag vir Maureen Swart se groot skrik met die slang in die persmotor wat haar dwarsoor die sitplek voor by die paneelbord laat beland het!

My ondervinding in ‘n persmotor het my weer laat vries waar ons in die operasionele gebied van Rhodesië in een van die hot spots tydens die oorlog teen ‘n spoed gejaag het, ‘n slaggat getref het wat die Uzi-submasjiengeweer tussen ons op die sitplek per ongeluk laat afgaan het. Daar was net ‘n oorverdowende slag, die koeël het met ‘n zwieng-geluid skuins voor my kop verby getrek en die voorruit voor my versplinter!

Ek het asof versteen gesit, my oordromme het gesing en toe ek tot my sinne kom, het ek besef: dit was amper neusie-verby!

1.11.16

As `n byskrif `n storie word ...

PIET EBERSÖHN skryf: Langer as twee jaar gelede het Somarie Grey, die dogter van Marius Jooste, grootbaas van Dagbreek en later Perskor, `n klompie ou foto’s uit die persgeskiedenis aan K’rant beskikbaar gestel.

Ek het gereken om die foto’s van behoorlike byskrifte te voorsien voordat ek dit aan K’rant voorlê, maar het intussen daarmee moed opgegee.

Ek het `n paar mense genader, maar wyle Bienkie Wessels was al een wat redelik kon help.

31.10.16

Volgende reünie ly nie skipbreuk

K’rant was Vrydagoggend skaars op straat toe Piet Ebersöhn laat weet het dat volgende jaar se Perskor-reünie gewis op die kalender is. Die borgskap vir die bymekaarkomslag is selfs reeds bevestig ook!

Piet, wie dit elke jaar gereël het en nou gaan verhuis, het laat weet dat niemand onvervangbaar is nie.

Die komitee in wie se bekwame hande die reëlings is, bestaan uit
  • Harald Pakendorf (voorsitter), 
  • Louise Blake en 
  • Margaret Lombard.

28.10.16

Snuffel in Perskor se solder

REDAKTEUR PHILIP DEETLEFS skryf: Die afgelope week of drie was daar ‘n merkbare opflikkering in die bydrae-tempo vir K’rant en wat die redaksie hoog op prys stel.

Karin Pretorius vertel dat dit haar gryser wordende grysstof goed stimuleer om terug te dink aan die dae toe sy in Perskor se diens was.

Die maklike manier om aan die oudkollegas se doene en dinge herinner te word, is om op die ouer stories hier regs op die blad te klik om te lees waaroor ander mense die afgelope jare geskryf het. Met elke klik is daar ‘n vars bondel ou stories om te lees en die grysstof los te wikkel.

25.10.16

Prins met straler na Salisbury, per bode in Doornfontein

KARIN PRETORIUS skryf: Joernaalmeester Japie Bosch se artikel oor die belangrikheid van bodediens in die verlede vir die vervoer van filmrolletjies van ‘n lughawe na die koerant, was baie insiggewend. Soos hy opgemerk het was dit ook my voorland vanuit Salisbury, Rhodesië waaroor ek berig het.

Kourierdiens per spoedpos vanaf die lughawe het ek gou besef was glad nie betroubaar of eers met ‘n spoed nie. Dit was in ieder geval dieselfde vliegtuig wat ‘n ‘bode’ sou gebruik om my filmrolletjie goedgunstig te vervoer. Dan was daar nog die doeaneklaring in Salisbury en Johannesburg en dit was ‘n nagmerrie. Die meeste van die tyd het die pakkie films net verlore gegaan.

18.10.16

Twee kanse van 'n leeftyd op een dag

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Dit was 'n kans van 'n leeftyd wat my te beurt geval het -- om een van die bekendste en skatrykste vroue ter wêreld te kon ontmoet. Sy? Niemand anders as Bridget Oppenheimer nie. Nogal in haar pragwoning op die sprokiesmooi Brenthurst-landgoed in Parktown. Die jaar was 1971.

Die geleentheid? 'n Persaankondiging oor 'n fondsinsamelingsprojek van die destydse Suiderkruisfonds. Die aankondiging sou in die Oppenheimer-woning gedoen word.

Die fonds is in 1969 gestig (sommige bronne sê 1968), onder leiding van Elizabeth Albrecht, gedurende die tyd van die Suid-Afrikaanse Grensoorlog (Bosoorlog) in die sestiger- tot laat jare tagtig. Die doel daarvan was om geld in te samel vir geriewe op die grens en sodoende die lewe vir ons soldate makliker te maak.

17.10.16

Gert van der Walt oorlede

GERT VAN DER WALT is onlangs oorlede, het Gerhard Kleijn laat weet.

Hy was destyds betrokke by Hoofstad en Oggendblad se advertensieafdeling, waar sy broer die nuusredakteur was.

Gert en Tok Grobler het later 'n reklameagentskap begin en was verantwoordelik vir menige legendariese persuitstappies. Hulle het ook TV-reekse, soos Maak 'n Las, vervaardig.

13.10.16

Marius Janssonius oorlede

PIET PIENAAR skryf: Ek het ‘n foto van oud-Vaderlander Marius Janssonius in ‘n K’rant-berig opgemerk.

Marius is so drie jaar gelede oorlede. Hy het by sy dogter in Pretoria gebly. Hy het blykbaar, toe hy alleen tuis was, iets uit die swembad wou haal en vooroor in die water geval. Daar word vermoed dat sy hart gaan staan het. Dit was in die winter.

In 1988 het ek van Perskor na Sentrapers in Ficksburg geskuif. Marius was die bestuurder van die drukkery (wat voorheen aan hom behoort het.)

11.10.16

Paleis tuimel inmekaar ná Martini

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Maureen Swart skryf dat wanneer sy blitsvinnig kyk, die fassade van die Sans Souci hotel haar aan ´n kasteel laat dink (Klik HIER). Na hierdie liefdesbetuiging moes ek terugdink aan die tyd toe ons twee daar gewoon het.

Ons het albei uit ander provinsies gekom om die joernalisteskool by te woon en het aan die begin geen huisvesting gehad nie.

As Kapenaar met Tafelberg en die see elke dag voor my neus, het ek die Sans Souci en kontrei nie besonder esteties gevind nie!

Maureen kon nog ´n kamer met badkamer bekostig, maar ek moes my ablusies in die gang met die hoipolloi deel.

6.10.16

Strippers sit Mej Kaalbas op voorblad

PIET PIENAAR van Bloemfontein het laat weet dat hy baie bly is dat hy op ‘n dag Perskor geGoogle het en so op K’rant se spoor gekom het. Hy sê omdat hy in Kroonstad was, is slegs van die name wat hy op K’rant se webjoernaal sien vir hom bekend, behalwe Bennie Neethling en oorlede tannie Tienie Serfontein vir wie hy geken het.

Hy vertel ook wanneer hulle Perskor in Doornfontein uit die Vrystaat moes besoek, hulle so gou moontlik probeer wegkom het uit vrees dat hulle dalk vir mnr Koos Buitendag sou raakloop. Hy het gehoor mnr Buitendag “fire” sommer enigiemand wat lyk asof hy nie werk nie. Hulle het soms die Posteparade gaan haal of ink daar by Oom Frikkie Liebenberg (hy hoop hy onthou oom Frikkie se naam reg) gaan haal. Vegkop was darem ‘n skuilplek.

4.10.16

Nostalgiese verlange na die tegnologie

KARIN PRETORIUS skryf: K’rant se joernaalmeester, Japie Bosch, het onlangs na my Rhodesiese artikel verwys waarin ek skryf oor die moderne elektronika wat ons oudjoenaliste nie beskore was nie.

Dit het my herinner aan die troue van min PK van der Byl – minister van vervoer, krag en poswese in Zimbabwe-Rhodesië – met prinses Charlotte von Liechtenstein, op Vrydag 31 Augustus 1979 in Waldstein in Oostenryk.

Dit was een van die mees intensiewe en uitputtende artikels – geestelik en fisiek –wat ek nóg vir Rooi Rose moes skryf, hoofsaaklik vanweë die gebrek aan ‘n iPad, selfoon en die internet waarna Maureen Swart in haar interessante artikel ook verwys.

29.9.16

Melkkoerant dra vrug

RUDIE VAN RENSBURG, ‘n stigtersredakteur van Bloemnuus skryf in 2013 in Bloemnuus: Dit was ’n sprong in die donker. Ons het nie geweet wat vir ons voorlê nie, nie hoe diep die afgrond is nie en ook nie hoe steil die bult gaan wees om weer bo uit te kom nie. Bloemnuus was die eerste gratis koerant in die Vrystaat -- ’n onbekende en gevaarlike terrein vir drie platsak joernaliste sonder enige sake-ondervinding.

Maar ek, Emile Terblanche en Johan Coertzen het oë toegeknyp, onbevange gespring en gehoop vir die beste – dat daardie sprong die moeite werd was, word vandeesmaand bevestig met Bloemnuus se een-en-dertigste verjaardag.

27.9.16

Alle paaie lei na Vegkop en die Sans Souci

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Lorraine Viljoen se navraag, Herinneringe gesoek oor ou Perskor-gebou in Doornfontein, het my op 'n kubertoer na ou Perskor-landmerke van Japie Bosch laat klik, en daar beland ek toe in 'n ander wêreld, 'n ander era.

Bo en behalwe die ou Perskor-gebou, sluit die landmerke ook onder meer in: Voortrekkerpers in Braamfontein, Vegkop en die Sans Souci-hotel. (Klik HIER)

Ek kon my oë nie glo toe ek op een van die landmerk-foto's daai einste boom sien waaroor ek in Buks se spook loop steeds (klik HIER) geskryf het nie! Dié boom is in Napierweg naby die Sans Souci, waarvan daar ook 'n foto op die kuberroete is.

23.9.16

Bruce het die orrel gedraai

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Die eerste twee of drie maande gedurende ons opleiding in Hermie Hendriks se joenalisteskool het ek en Maureen Swart in die Sance Souci hotel gewoon.

Saans wanneer die son water trek, het die groot koerantbulle op die hotel toegesak om te ontspan en die dag se stories te bespreek.

Ons het hier die gesoute koerantlui bewonder en gerespekteer hoewel sommige van die snoeshane ons met snydende ironie bejeën het.

22.9.16

Johann was een van ons

HANLIE (Swanepoel) VORNBERG skryf: Ons stap op dié stadium van ons lewe reeds in die sinkende lig en wanneer ´n oud kollega sterf word dit donker vir ´n wyle.

Johann Britz was deel van ons groepie van agt wat in die sewentiger jare in Hermie Hendriks se joernalisteskool was.

Ons was ´n klein groepie met groot planne en ambisie. Ons was jonk en het vir alles kans gesien.

Ons was deels baie verskillend, maar het EEN ding gemeen gehad. Ons wou almal skryf!

21.9.16

Nuwe naam vir Perskor-gebou maak nie sin nie

PIET EBERSÖHN skryf: Dis nou seker nie wat die Universiteit van Johannesburg wil verneem nie, maar die belaglike “hernoeming” van die ou Perskorgebou laat my sommer in my pap stik.

As hulle soveel in die geskiedenis van die gebou belanggestel het, sou hulle geweet het dat Willem de Klerk, Dirk Richard en Harald Pakendorf UIT DIE GEBOU UIT voorvegters vir die huidige bedeling was. Dis geen geheim nie en is wyd gepubliseer.

Johann se dood skok

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Ek was baie geskok toe ek vanoggend van Johann Britz se dood lees, en baie hartseer. Een van ons pelle in die joernaliste-skool.

My innige simpatie aan sy familie en vriende.

20.9.16

Johan Britz oorlede

JOHANN BRITZ, oud-Hoofstadter en een van die studente van die APB se joernalisteskool in 1970, is op 6 Augustus 2016 ná ‘n beroerte oorlede, het Anina Roux laat weet.

Johann het by ‘n aantal publikasies gewerk. Hy was onder meer ook stemkunstenaar en radio-omroeper. Berig HIER.

Kwarts-uitgewers het getwiet dat Johann verlede jaar ‘n boek Wie is Gottlieb? uitgegee het en onlangs ook 'n novelle, Blink Twice for Murder.

Frans Aucamp oorlede

GERHARD KLEIJN het laat weet dat Frans Aucamp Saterdag oorlede is. Hy was ‘n deurtrapte Perskor-veteraan en was die laaste redakteur van Metro in Pretoria, wat uit die asse van Die Transvaler opgediep is.

Francois het ‘n koerant op Tzaneen, Die Bulletin, begin en die afgelope aantal jare suksesvol as eienaar/redakteur bedryf.

16.9.16

Herinneringe gesoek oor Perskor-gebou in Doornfontein

LORRAINE VILJOEN skryf: Ek het die berig in K'rant “’n Kubertoer na ou Perskor-landmerke” gelees. (Klik Hier.)

Ek is tans besig om navorsing te doen oor die Perskorgebou in Doornfontein wat 'n paar jaar gelede deur die Universiteit van Johannesburg gekoop is. Die gebou is opgeknap en word nou deur die universiteit gebruik. As deel van 'n “hernoemingsproses” is die gebou vanjaar venoem na Percy Qoboza, voormalige redakteur van The World, en Aggrey Klaaste, voormalige redakteur van Sowetan. Dit staan nou bekend as die Q/K Building.

13.9.16

Slang-passasiers om vrou op haar plek te sit

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Ek wat my lewe lank al 'n doodse vrees vir slange het, het toe sommer twee keer grieselrige ervarings met hulle gehad terwyl ek 'n algemene verslaggeefster by Die Vaderland was.

Oor die een wedervaring het ek reeds geskryf: Slange-hel in die wildtuin (22-5-15) Klik Hier.

Die ander een het gebeur toe ek en 'n fotograaf (ek verswyg liefs sy naam) een middag vir 'n storie in die Johannesburgse middestad was.

Hy was die dag kwaad vir sy vrou. Erg omgekrap!

5.9.16

Terreur dwing Perskor tot koerierdiens

JAPIE BOSCH skryf: Maureen (Heyl) Swart se storie oor Hoe het ons dit oorleef? het my teruggevoer na ‘n storie van Karin Pretorius in K’rant ‘n tyd gelede. Daarin vertel sy van die “beslommernis om films vanuit Rhodesië te versend”. Sy het verduidelik dat dit “die prosedure was om iemand by die Salisbury-lughawe op ‘n vlug na Johannesburg te gaan teiken wat bereid was om jou rolletjies film saam te neem en te oorhandig aan iemand van die koerant wat homself by die Lughawe Jan Smuts sou identifiseer”. LEES HIER.

Dié metode was nie net ‘n beslommernis nie, dit was ‘n onding wat dikwels groot verleentheid by Die Vaderland (en miskien ander Perskor-koerante) se verteenwoordigers in buitekantore veroorsaak het.

18.8.16

Hoe het ons dit oorleef?

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Tussen ou K'rant-stories het ek een deur Joe van Buuren raakgelees: "Wat sou ek nie toe vir 'n selfoon wou gee." (Klik HIER.)

Inderdaad! En nie net vir 'n selfoon nie, maar ook die internet. Want daar was tye tydens my verslaggewerdae dat al twee nie slegs my lewe kon vergemaklik nie, maar as't ware my redding kon beteken.

Probleem was: Ná beskermende grootwordjare op Parys à la Vaalrivier, mak studentedae op Potch en daarna die geordende, rustige omgewing van 'n universiteitsbiblioteek in Pretoria, was die koerantwêreld dikwels vir my 'n genadelose plek. Voeg daarby 'n ingebore deur-die-windgeit, en menige keer het dit taamlik woes met my gegaan.

28.6.16

Wille Martin oorlede

HERMAN LE ROUX skryf: Wille Martin is Sondag op 81-jarige ouderdom in Heidelberg oorlede. Sy was een van Suid-Afrika se mees produktiewe skrywers en het meer as 200 liefdesromans en jeugverhale geskryf.

Wille is in Bethulie in die Vrystaat gebore. Wille se moeder was die bekende vroeë Afrikaanse skrywer, Minnie Postma.

Sy het ná haar skoolloopbaan ’n BA-graad aan die Universiteit van die Vrystaat behaal.

23.6.16

Dave Viljoen se kollegas onthou

FRANS SCHEEPERS skryf: My loopbaan in die joernalistiek het eintlik maar by Dave begin. Hy was hardegat, maar ook mens. Ek sal nooit vergeet die nagte dat ek, Piet Ebersöhn en Philip Deetlefs by sy woonstel in Alberton deurgebring het met 'n pak kaarte, 'n mandjie vol biltong, liters whisky en handevol munte rondom die pokertafel nie. Kosbare tye wat ek altyd sal koester.

Hy was maar moeilik, en ons het hom dikwels verwens. Maar ons onthou ook sy seerkry-tye, toe hy gevoel het sy persoonlike lewe stort in duie. Wie onthou nog toe wyle Grobbie sy bruid Adele letterlik onder die bruidstafel ingedans het. Dave was van die ou skool. En min van vandag se joernaliste sal weet wat dit beteken. Dankie Dave, dat ons jou kon ken. Ek drink vir oulaas 'n dubbel whiskey op jou lewe.

22.6.16

Dave Viljoen oorlede

GERHARD KLEIJN het laat weet dat Dave Viljoen (links) oorlede is.

Ons het geen ander inligting nie en sal dit waardeer as iemand vir ons meer besonderhede kan gee.

Dave was 'n subredakteur by Die Transvaler en later by die SAUK.