Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.3.15

Reüniegangers klink `n glasie op oom Hermie

PIET EBERSÖHN skryf: `n Sestigtal reüniegangers het vanjaar se kuier, wat weer soos die afgelope aantal jare deur die Perskortrust geborg is, by Forno Italiano in Wilgeheuwel, Johannesburg, bygewoon en die geleentheid benut om `n glasie op Hermie Hendriks te klink wat hoop om binnekort sy 90ste verjaardag te vier.

Harald Pakendorf, gewese redakteur van Oggendblad en Die Vaderland, het die heildronk op oom Hermie ingestel.

27.3.15

Sapa kry die doodskoot

PHILIP DEETLEFS skryf: Een van die eerste dinge wat 'n mens as leerlingverslaggewer moes leer doen, was om te tik. Nie sommer net uit jou kop uit nie. Nee, jy moes van die Sapa-berigte wat onophoudelik uit die teleksmasjien gekom het, vertaal.

Van die eerste "stories" was om Sapa se weervoorspelling vir die volgende dag vir die hele verspreidingsgebied van die koerant te vertaal. Jy moes ook die stories afskeur en vir die nuusredakteur gee sodat hy dit vir verdere aandag kon uitdeel. Stories moes dalk opgevolg word of net vertaal word.

18.3.15

Rika onthou haar dae as DT se krieketnooi

RIKA VAN GRAAN skryf: Julle jonges het my leer ken as misdaadverslaggewer en in die plattelandse redaksie by Die Transvaler. Ek dink in daardie stadium het ek ook nog die eiendomsbylae vir elke naweek versorg.

Maar dit was nie al nie! Twee maande nadat ek by DT begin werk het, was ek die koerant se krieketnooi! Dit was darem nie 'n skoonheidskompetisie nie!

Mnr Carel Nöffke, destyds die hoofredakteur, het geweet van my voorliefde vir sport. Ek het eers elke dag my draagbare radio saamgeneem kantoor toe om die krieket te luister. Dit het die hoofredaksie op die ingewing gebring om 'n inligtingsdiens aan ons lesers te bied. Onthou daar was nog nie televisie nie.

12.3.15

Wys vir oom Jacob net ‘n olifant …

JAPIE BOSCH skryf 42 jaar gelede in Perskorhaan: Wys vir oom Jacob, Die Vaderland se kunstenaar, 'n olifant en hy is in die sewende hemel. Dis sy heerlikste tydverdryf om oor naweke in sy ateljee by die huis te sit om diere van foto's af te teken.

Feitlik elke jaar in Mei pak George Jacoby op en vertrek na die Krugerwildtuin. Daar sal hy vir ure die diere se bewegings dophou en foto's van alle hoeke af neem.

April 1973
Oom Jacob sê hy het veral 'n voorliefde vir olifante, omdat hulle interessante bewegings het. As hy in die wildtuin is, is hy altyd eerste op die uitkyk vir olifante.

10.3.15

Reünie 2015: Goeie en slegte nuus

Daar is goeie en slegte nuus oor die reünie vanjaar.

Eers die slegte nuus: In `n ongekende vlaag van belangstelling is al die geborgde plekke reeds opgeraap – selfs voor ons, soos normaalweg, `n tweede kennisgewing moes uitstuur en `n volle twee weke voor die geselligheid.

2.3.15

Slyp jou tande vir vanjaar se reünie

PIET EBERSÖHN skryf: Vanjaar se saamtrek van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens) is op Sondag 22 Maart 2015.

Dit sal by die restaurant Forno Italiano, Westrand Retail Crossing, h/v Nic Diederichsboulevard en Hendrik Potgieterweg, Wilgeheuwel, Roodepoort, byna reg langs die restaurant wees waar ons verlede jaar vergader het.