Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.8.23

Bier en mossels is 'n gevaarlike resep

HANLIE VORNBERG skryf:  IN 1858 was daar reeds agt verskillende koerant publikasies in die Kaap. Koerante is graag in klubs en in openbare plekke gelees en een koerant het dikwels deur baie hande gegaan. Ook die dames het reeds hulle eie blad gehad, die sogenaamde,
„Lady ́s Companion.“

Aangesien advertensies altyd die lewensbloed van die pers was, was daar ook in die ou Kaap geen tekort daaraan nie. Die adverteerders het van al hulle skeppende talente gebruik gemaak om die lesers se aandag te trek.

Sommige het met dekoratiewe illustrasies gewerk en andere het selfs sover gegaan om hulle advertensies as nuwe "stories" te kamoefleer.

22.8.23

‘Skieriteit’ – van die ‘High Noons’ tot by Zebulon

PIET EBERSÖHN skryf: WIE onthou nog die duur stelsel vir toegangsbeheer wat Perskor in die laat jare sewentig by Aucklandpark laat aanbring het? 

Ons het almal kaarte met ons foto’s op gekry wat ons by die deur moes toon. 

Ek dink die stelsel het iets soos twee weke gehou, toe breek die masjien om nooit herstel te word nie. 

17.8.23

Wie is Ben Blindekoei?

Len Lindeque
JOHAN GREYBE skryf: Ek's gebore in ‘53. Was op skool in Sentraal, Bloemfontein van '67 tot '71. Self bietjie 'n komiek-tekentalent gehad en bewonderaar van Len Lindeque se weeklikse Rapport-bydraes. 

Toe Sentraal sy eie skoolkoerant begin het, is daar vir bydraes gevra. Ek teken toe iets in Len se grappige styl en plaas dit naamloos op die redakteur se lessenaar. 

Gedurende weeklikse saalperiode, kondig die skoolhoof aan: Die Tralie-redakteur versoek asseblief dat die leerling wat sketse op sy lessenaar gelos het onder die skuilnaam, Ben Blindekoei, hom asseblief sal kontak. 

Groot gelag in saal ...

8.8.23

Piet Ebersöhn se Mariëtte oorlede

MARIËTTE EBERSÖHN, vrou van K'rant se nuusredakteur, Piet Ebersöhn, is Maandag, 7 Augustus 2023, oorlede.  Sy het in Junie 68 geword.  

Vrydag voordag is Mariëtte met 'n asemnood in die hospitaal opgeneem, maar het dermate herstel dat sy laatmiddag ontslaan is. Maandag was daar 'n terugslag.  Voordat sy in die hospitaal opgeneem kon word, is sy oorlede.

Piet en Mariëtte het teen die einde van 2016 na Corfu, 'n eiland aan die Griekse kus, verhuis. Lees meer daarvan HIER.

Piet het onlangs twee berigte geskryf oor sy en Mariëtte se Eiland van ons Drome.  Klik  HIER en HIER.

K'rant en sy lesers treur saam met Piet en wens hom sterkte toe.

Bo:  Piet en Mariëtte Ebersohn het by die Perskorreünie in 2016 afskeid geneem vóór hul vetrek  na die eiland Corfu om daar af te tree.

 

2.8.23

Perskor bring July-geluk!

KARIN PRETORIUS skryf: MET geen kennis van perdewedrenne of weddenskappe nie, het ek jou so wrintiewaar twee keer in die jare sewentig vanweë my werksituasie by Perskor op wenperde by die July verwed – en gewen. Nou nie so dat ek my trommeltjie eers kon opvul nie, maar dit het tog vir baie opwinding gesorg. 

Eerstens was dit in 1970 by die vroueblad van Die Transvaler en daarna in 1979 as Perskor se verteenwoordiger tydens die bosoorlog in die ou Rhodesië. Met my aanstelling in 1970 by Die Transvaler se vroueblad, was dit heerlik om oor ʼn eg-vrouesaak te berig – die vooruitskouing van die vrouemodes by die naderende July-perdewedren begin Julie op die Greyville- renbaan in Durban.