Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.8.21

Nog oor Francois (AP) Lategan

DRIES LE ROUX skryf: Na aanleiding van Gerhard Burger se verwysing na die kunstenaar Francois Lategan wil ek net die volgende stuiwer in die armbeurs oor hom gooi. 

Ek het in die tagtigerjare by die uitgewery JP van der Walt en Seun gewerk. Francois, oftewel AP soos ons hom geken het, het baie van die uitgewery se klubboeke se omslagillustrasies gedoen.  Ek het gereeld daaroor met hom oor die telefoon gesels, maar het hom nooit in lewende lywe ontmoet nie. 

10.8.21

Mediamense kry dosis K’rant in

JOHANNES FRONEMAN, uitgewer van  Mediamense het by K’rant gaan inloer en toe 'n lappieskombers van stories uit K’rant saamgevat en gepubliseer. 

Hy skryf: Ek het pas 'n stuk oor K'rant op mediamense.com geplaas. Dit is ook bereikbaar op www.facebook.com/mediamense.bylae.

Johannes bestempel Mediamense soos volg:  "‘n Digitale mediamuseum wat fokus op joernaliste, koerante, tydskrifte en (metterwyl) ook op die uitsaaiwese. Hierdeur wil ons aan Afrikaanse mediamense en hul produkte ‘n uitstalruimte gee sodat ons hul enorme bydrae nie sal vergeet nie – veral in hierdie tyd van vervlietende digitale media".

9.8.21

Flip in perspektief

KARIN PRETORIUS skryf: Soos in K’rant berig is, was “Flip” waaroor Heinrich Schulze navraag gedoen het die befaamde potlood- en penkunstenaar Flip Horace Coaten wat in die vroeë vyftiger, sestiger en sewentiger jare menige skrywer se verhale in tydskrifte geïllustreer het. 

Met ‘n bietjie naslaan op Facebook lees ek dat Flip wat ook as reservissersant by die SAP in Tableview diens gedoen het, in sy leeftyd geag was as een van die tien top-illustrasiekunstenaars in die wêreld. 

6.8.21

Illustreerdres was flippen bekwaam

GERHARD BURGER skryf: Flip het ook ʼn verhaal in Die Huisgenoot van 18 Februarie 1966 geillustreer – dieselfde uitgawe waarin ek my debuut as fiksieskrywer gemaak het, met ’n roerende en amateuragtige storie, Die Eerste Steen.

Een van die ander verhale is deur ene Henk geïllustreer. Ook sy van word nie genoem nie. My storie is met ʼn ware kunswerk deur die voortreflike F Lategan versier en met ʼn tjek van R50 beloon. Wie Flip en Henk was, weet ek nie, maar albei was myns insiens baie bekwaam.

5.8.21

Hier is Flip

LEONI BENGHIAT van SA Vryskutskrywer het laat weet dat Flip se van Coaton was. Sy seun het ‘n Facebookblad geskep waar 'n mens van sy kunswerke kan besigtig en meer oor hom kan agterkom. Hier is die skakel: https://www.facebook.com/Flip-Coaton-Illustrations-295633270537229.

4.8.21

Wie was Flip?

HEINRICH SCHULZE skryf: Danksy Perskorkennisse en vriende soos Piet Ebersohn, Gerhard Burger en Wessel Oosthuizen, is ek 'n gereelde besoeker aan julle K'rant-webjoernaal. Ek het 'n vraag wat ek hoop een van julle lede dalk kan beantwoord. 

Wie was/is die kunstenaar wat gedurende die vroeë tot middel 1960's (dalk ook vroeër en later) as illustreerder en kunstenaar vir "Huisgenoot" (en waarskynlik ook as boekillustreerder) gewerk het en sy werk as "Flip" onderteken het? 

Sy kleurillustrasies in "Huisgenoot" is in 1962, onder meer, by artikels deur Doc Immelman en Eric Rosenthal geplaas. Die naamindeks in Murray en Elzabe Schoonraad se "Suid-Afrikaanse Spot- en Strookprentkunstenaars' (1983) het met 'n eerste oogopslag ook nie lig op my vraag gewerp nie.