Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

27.4.22

Vader van K’rant oorlede

PIET EBERSOHN skryf: Die vader van K’rant is oorlede. 

Luidens ʼn berig op die Facebook-blad Nagkantoor is Peet Simonis (85) op 24 Maart 2022 oorlede nadat hy “geval en sleg seergekry het”. 

Peet was die laaste oorlewende van drie tydgenote aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein wat joernaliste by Perskor geword het. Hannes Cilliers en Neil Steyn het hom vooruitgegaan. Hy en Neil was klasmaats. 

Peet Simonis
Dit was in 2004, nou 18 jaar gelede, dat Peet op sy eentjie K’rant as ʼn e-pos- nuusbrief vir oudwerknemers van Perskor die lig laat sien het. Dit was uiters gewild, maar ná ʼn paar uitgawes het dit te veel van Peet se tyd begin verg. 

Hy het onverrigtersake vrywilligers gevra om by hom oor te neem en Peet het mettertyd die publikasie daarvan gestaak. Danksy sy goeie aanvoorwerk was daar groot instemming dat K’rant behoort te herleef en op 2011 se reünie is planne beraam om die nuusbrief in ere te herstel. Dit is op 7 Mei 2012, nou amper tien jaar gelede, verwesenlik toe dit in 'n webjoernaal omgeskep is.

26.4.22

Reünie 15 Mei 2022: geborg deur Dagbreektrust

Weens die COVID-19-pandemie kon ons die afgelope twee jaar nie bymekaar kom vir ons jaarlikse saamtrek van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers nie (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens). Die reëlingskomitee, onder leiding van voorsitter Harald Pakendorf en bygestaan deur sy gade Aletta, Louise Blake en Madelaine Page, het besluit om vanjaar weer ‘n funksie by dieselfde restourant -- die Irish Rock-- as voor die pandemie te hou. 

Die reϋnie vind op Sondag 15 Mei 2022 plaas. Die ete begin stiptelik om 12:30. Kom van 11:30 af en kuier eers lekker saam. Daar is ‘n kontantkroeg.