Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.7.12

Die verskil tussen ‘n VP-lid en ‘n klavier

JAPIE BOSCH skryf: In 1979 tydens die parlementsitting het mnr Vause Raw, VP-LV vir Durban-Punt, in ‘n vervelige toespraak een of ander aanval op die NP-regering gedoen. Dis toe dat mnr Chris Rencken, NP-LV vir Benoni, opstaan om ‘n punt te maak. Die waardige speaker, mnr Jannie Loots, het in alle erns die volgende gesprek en gepaardgaande op- en afspringery laat plaasvind:

Rencken: Mnr die Speaker, op ‘n Punt van Inligting.
(Raw gaan sit.)
Speaker: Gaan voort, agbare lid van Benoni.
(Rencken staan op.)
Rencken: Weet die agbare lid van Durban-Punt wat is die verskil tussen hom en ‘n klavier?
(Rencken gaan sit.)
Speaker: Agbare lid van Durban-Punt, is u bereid om die vraag te beantwoord?
(Raw staan op.)
Raw: Nee, mnr die Speaker.
(Raw gaan sit.)
Speaker: Agbare lid van Benoni, wil u die antwoord verstrek?
(Rencken staan op.)
Rencken: Dankie, agbare Speaker. Die antwoord is dat ‘n klavier maak musiek, maar die agbare lid van Durban-Punt maak my siek.
(Rencken gaan sit.)
Die NP-LV’s skatter. Sommige VP-LV’s ook. Nie Raw nie.
Speaker: Die agbare lid van Durban-Punt kan voortgaan met sy toespraak.
(Raw staan vieserig-verleë op, vind weer sy wysie en debatter verder.)

Andries Botha skryf: Dis natuurlik na Chris Rencken na wie Vause Raw verwys het toe hy in ‘n vroeëre debat gevra het of dit nie strydig met die reglement van orde van die Volksraad is dat ‘n agbare lid sit as hy praat nie. (Chris was baie kort en uiters selfbewus daaroor.)