Soek iets in K'rant


Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.7.12

’n Behoefte aan dringende metafisika

ANDRÉ SCHEEPERS, ’n gewese lid van Die Transvaler se finansiële redaksie, herleef ’n greep uit sy Nieu-Doornfonteinse dae

OORLEDE Henk Wybenga en ek het goed bevriend geraak by Die Transvaler. En soos goeie vriendskappe betaam het ons elke middag ná werk die vriendskap oorkant die straat by Vegkop gaan bevestig. Na ’n tydjie het ons agtergekom dat ons kapasiteit om te vier veel groter was as
die jammerlike inkomste by Perskor.

’n Plan sou dus beraam moes word. Genoeg biergeld was ’n noodsaaklikheid.

Ook nie lank nie of Henk kom vorendag met die idee dat ons oor jong digters moes skryf. In die tagtigerjare was daar ’n vloedgolf van jong en nuwe digters o.a. Annesu de Vos.

Ons nader toe vir Joan Kruger, destyds redakteur van Ritsgids, met die voorstel dat ons elke week ’n onderhoud vir Ritsgids sou lewer – teen betaling natuurlik. Sy was vuur en vlam, maar Henk het daarop aangedring dat die tjeks in sy naam uitgemaak moes word. Ek het nie omgegee nie, want hy sou die belasting moes opdok, iets wat hy eers later agtergekom het en steen en been by my daaroor gekla het. Maar dit was toe te laat.

Een van die jong digters was Pieter Claassens, ’n kollega in die nagkantoor wat pas ’n bundel "Verse vir ’n Windswael” die lig laat sien het. Ons voer toe ook ’n onderhoud met Pieter en daardie aand het ek een van die wonderlikste lewenslesse in my lewe geleer.

Pieter vertel dat hy ’n manuskrip saamgestel het en dit aan ’n bekende uitgewer gestuur het. Ná ’n ruk ontvang hy ’n brief van die uitgewer en ewe opgewonde maak hy dit oop. Dit blyk toe maar nog ’n "rejection slip” te wees. Volgens die uitgewer was daar "’n behoefte aan dringende metafisikaˮ in sy gedigte.

Hy tob en tob en borsel sy hare en borsel sy skoene. Borsel sy tande en borsel sy jas. Toe daar niks meer te borsel is nie, vat hy die pad na die Roxy-bioskoop toe. In die fliek sit hy en wonder wat dringende metafisika is. Net voor hom sit so ’n breker met ’n swart leerbaadjie. Met pouse leun Pieter vorentoe en vra die man: "Verskoon my meneer, wat doen jy as jy ‚down’ is?” Die man kyk hom so en antwoord: „Nei, ek swaai ’n daggapil en ry die ‚bike’ hel-uit.”

Pieter sê vir hom: „Meneer, weet jy wat dringende metafisika is?” Die ou beloer hom weer, haal sy skouers op en sê: „Nee, ek weet nie, maar ‚actually’ dis nie ‚important’ nie.”

Beide Pieter en Henk is nie meer met ons nie, maar ek lees steeds "Verse vir ’n Windswael”. Vir my is dit "important"!