Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.8.22

Sportspits sommer ook swanesang

PIET EBERSÓHN skryf:  Nou die dag val my oog op Herman le Roux se boek “Spitse op die Sportveld” in my boekrak.

Toe dink ek by myself: Kan ek nie maar ʼn slag in alle beskeidenheid met my hoogtepunt op die krieketveld spog nie? Dalk val K’rant daarvoor.

In die middel- en laat jare sewentig het Die Transvaler nogal ʼn formidabele sosiale krieketspan in die veld gestoot.

29.8.22

‘Helper’ publiseer nou self

HENNIE HEYMANS skryf op die man af: Ek is sommer net ʼn oud-polisieman wat deur Frans Aucamp genooi is om ʼn bietjie by Metro te help. Ek het ʼn bietjie daar geleer en gee nou my eie “koerant” – die NONGQAI -- uit!

(Hennie het met die rang brigadier as polisieman afgetree voor hy hom by Perskor se Pretoriase weekblad, Metro, onder die redakteurskap van Frans Aucamp aangesluit het.  NONGQAI word op die internet uitgegee met die doel om die nasionale veiligheidsgeskiedenis aan te teken en so vir die nageslagte te bewaar. Dit bied uiters interessante leesstof en lesers van K’rant kan gerus daarin gaan loer. – Red.)

25.8.22

Teken opnuut in, asseblief

Die diens wat K’rant gebruik om lesers te laat weet van nuwe berigte is onlangs gestaak. Gevolglik het ‘n paar lekkerleesstories verskyn waarvan intekenare nie kennis gekry het nie. 

Desniestaande is K’rant se berigte steeds gereeld besoek -- nie minder nie as 1 760 keer die afgelope 16 dae.  Dit is gemiddeld 110 keer per dag.  Ons het gewis meer lesers as net oudkollegas.

Om te verseker dat lesers kennis kry van oudkollegas se doen en late, word hulle versoek om opnuut op K’rant in te teken deur middel van ‘n nuwe diens, follow.it.

Vul bloot jou e-posadres in in die ligbruin blok regs en klik daaronder. Volg dan die aanwysings.

23.8.22

Hoofstadters se hulp gevra

JOHANNES FRONEMAN, kurator van Mediamense.com, skryf: Inligting oor Hoofstad is uiters karig. Die enkele voorblad wat op die internet voorkom, kom via Mediamense.com en dus direk uit my trommel.

Oor dr. Andries Treurnicht se redakteurskap het ek nog nooit 'n woord raakgeloop nie.

Is daar nie K'ranters wat my in my navorsing kan help nie?  Enige brokkies is meer as wat ons het.  Asseblief!  Stuur aan my by joh.froneman@gmail.com

22.8.22

Elma van graad 1 af vir verhoog bestem

ELMA POTGIETER skryf: Van graad I af in die eerste van vyf laerskole het ek en my ouers en suster geweet ek gaan eendag toneelspeel. Ek het botweg geweier om vir die familie voor te dra, maar toe ek die hoofrol kry van die Kaapse Nooi in Hoe Ry Die Boere in graad I in Presidentskool op Klerksdorp, was die koeël deur die kerk.

In my vyfde laerskool, Jubileumskool in Mayfair-Wes, Johannesburg,speel ek my tweede hoofrol, die Kaboutermannetjie, Repelsteeltjie, in die gelyknamige sprokie wat deur die hoof, meneer Sondorp, as ʼn operette verwerk is.

In matriek op Hoër Meisieskool Helpmekaar speel ek weer die manlike hoofrol van Captain Corcoran in die Gilbert & Sullivan operette HSM Pinafore.

19.8.22

Carla beskou pensioengebrek as seëning

CARLA VAN DER SPUY skryf: EK leef darem nog! 

Piet Ebersöhn het my gevra om iets oor my doen en late vir die K'rant te skryf. Dis nogal vreemd, want as ʼn joernalis – nou al 27 jaar as vryskut– is ʼn mens gewoond daaraan om ander mense te ondervra. 

Die feit dat ek nie ʼn pensioen het nie, is eintlik “’n blessing in disguise”. Jammer vir die Brits! 

Want nou moet ek werk en die werk bly stimulerend.

 Ek is verantwoordelik vir rooi rose, watgenadiglik herleef het, se boekeblad en musiekblad. 

Ek geniet die boekeblad baie meer, want daar is min boeke wat deur groot uitgewers uitgegee word, wat nie die moeite werd is nie. 

17.8.22

Skattejag op Graaff-Reinet

GERHARD BURGER skryf: Partykeer slaan die déjà vu ʼn mens mos doef! teen die voorkop. Selfs byna 60 jaar nadat jy ʼn belewenis gehad het wat jy lankal vergeet het. En nou onthou jy dit asof dit verlede week was.

So ʼn ruk gelede gebeur dit weer hier in die Baai toe die Volksie aandag nodig het. Maar eers ʼn stukkie agtergrond. 

Ek het mos ʼn ruk by Die Oosterlig gewerk voordat die APB in sy begroting ruimte geskep het om my Vaderland toe te lok. Teen R90 per maand, met die vooruitsig van tot R20 ekstra as ek soms vir Dagbreek ook werk. 

15.8.22

Hardekwas Hollander skep sy eie loopbaan

SIPKE DE VRIES skryf: “EK is nog hier”. Eintlik sê ek gewoonlik nie veel meer oor myself nie omdat ek my lewe lank oor ander mense of gebeurtenisse skryf, of dit aanvanlik met die kamera vasgelê het. 

Die versoek van my vriend en kollega Piet Ebersöhn om iets vir K'rant oor myself en my werk by Perskor – eers Voortrekkerpers – te skryf, kon ek egter nie langs my neerlê nie. 

9.8.22

Elders – nie net mooiweer en warm nie.

JOAN KRUGER skryf:  So 'n ruk gelede staan ek en Douw voor ons amperse vissermanshuis op Paternoster (ons durf dit so noem omdat dit (a) klein is, (b) 'n groot vuurherd het waarin ons braai én kook) en ons besluit die huis kort 'n naam. Sodat die koerierdienste minstens iets het waarheen hulle kan mik. By gebrek aan 'n straatnaambordjie en -nommer.

"Wat van 'Elders'?" wonder ek later. Soos in die digterlike "die rus is elders". As ons die rus 'n adres gee, kom dit dalk uiteindelik by ons tot ruste.

Ná herhaalde pogings tot aftrede was ek reg vir rus. Die eerste aftrede was so kort voor sestig toe ek New Media Publishing verlaat het. En toe dadelik saam met kollegas 'n nuwe uitgewersmaatskappy, Tip Africa Publishing, gestig het. Ons het heerlike tydskrifte uitgegee, onder meer Wild vir Sanparke. Later ook boeke. Gedenkboeke in die besonder. Omdat ek die oudste was, is aanvaar dat ek die skrywer sou wees, so asof ek minstens die afgelope 150 jaar persoonlik meegemaak het.