Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.6.20

Oom Hermie

PIET EBERSÖHN skryf: Hy was die eerbiedwaardigste van alle joernaliste wat my pad gekruis het. Nee, nou stel ek my aan – wie se pad dit my voorreg was om te kon kruis.

Voorwaar ʼn Israeliet sonder bedrog – en dit in ʼn beroep waarvan Horace Flather in sy The Way of an Editor gesê het die meeste knappes is “slightly off the normal mental beam”.

26.6.20

Hermie Hendriks op 95 oorlede

Hermie Hendriks se dogter, Hermien, het laat weet dat haar pa op 25 Junie 2020 in die Florakliniek in Johannesburg oorlede is.
Hy het op 9 Junie 95 geword en is vroeër vandeesmaand in die kliniek opgeneem nadat hy geval het.

Oom Hermie was ‘n ware Perskor-legende. Ons sal met graagte ‘n paar huldeblyke van oudkollegas oor hom ontvang.

8.6.20

K’rant bring ou vriende byeen

JAC DE VRIES
skryf: Baie dankie vir die onlangse plasing van die brief van my ou vriend, David Fall, wat na my gesoek het. Dit was 'n groot verrassing om vir die eerste keer ná 1983 weer met hom en sy vrou kontak te kon maak. Hy was 'n diplomaat verbonde aan die Britse Ambassade in die RSA.

Ek het in 1983 by die SA Polisie aangesluit. Toe ek toestemming gevra het om my kontak met hom voort te sit, was die antwoord dat kontak met diplomate deur die Departement van Buitelandse Sake behartig word en dat sulke kontak dus nie nodig is nie.

David en sy vrou het Suid-Afrika in Januarie 1985 verlaat en hy was later Britse Ambassadeur in Thailand met die skrikwekkende tsunami op 26 Desember 2006.

Nogmaals baie dankie vir K'rant se hulp. Dit word hoog op prys gestel.

5.6.20

Jeanne het diep spore by Perskor getrap

Jeanne Goosen
K’RANT bring hulde aan die skryfster Jeanne Goosen wat Dinsdag, 2 Junie 20020, in Melkbosstrand oorlede is. Sy sou volgende maand 82 gewees het. Volgens ‘n vriendin was sy die afgelope twee jaar bedlêend.

Jeanne het by nie minder nie as vyf Perskorpublikasies gewerk. Sy was onder meer kunsredakteur by Hoofstad en joernalis by Oggendlad, Die Transvaler, Rooi Rose en Tempo.

Jeanne was bekend vir haar unieke karakter en talent. Die volgende toekennings is onder meer aan haar gemaak: CNA-prys (1990), MNet-prys (1991), Rapport-prys (1990 en 1992), Afrikaans Onbeperk (1998) en die Eeufeesmedalje van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2009).

‘n Volledige artikel oor Jeanne is HIER.

Verskeie koerante het gisteroggend voorbladberigte of -foto’s van haar geplaas.