Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

4.7.12

Ona laat waai nog in die Baai …

Ona Viljoen, eerste TV-korrespondent van Die Transvaler, laat weet dit gaan nog goed met haar daar in Port Elizabeth.

"Ek’s vir donkiejare reeds skakelbeampte vir die wolbedryf, eers by die Wolraad en nou by die kleiner maatskappy, Cape Wools. Ek is ook redakteur vir die Wolkwerkers- vereniging se maandelikse koerantjie, Die Wolboer. Ek heg sommer ’n vars foto van my aan sodat julle kan sien hoe ek nou lyk.


"Moet einde vanjaar met pensioen gaan, maar ek is gelukkig gevra om nog aan te bly. Gee nie om nie ... wat gaan ek tog met myself by die huis maak. Ek kan nie brei of hekel nie en kan ook nie kaart speel nie. My man sê ook hy dink dis beter dat ek iets het om my besig te hou.

Die berig oor die " Makietie".
"Die geldjie is natuurlik ook welkom ... alles word nou so vervlaks duur! Wie weet, dalk kan ons nog ’n trippie of twee na een of ander goedkoop bestemming inpas. Was verlede jaar in Myanmar (Burma). Baie, baie interessant, maar die beste is dat jy in klein hoteltjies vir so min as VSA$15 vir ’n dubbelkamer met ontbyt kan bly! Kos is ook spotgoedkoop. Die landskap is ongelooflik en daar is die pragtigste tempels.

Die mense is baie arm en die vervoermiddels ... wel, soms het jy hare op die tande nodig gehad om dit aan te durf. Soos die 'pick-up truck' wat ons vanaf ’n klein dorpie op die platteland terug na Mandalay geneem het. Ons was in ’n stadium 18 mense in en op die bakkie met ’n moerse klomp bagasie ook. Party het agter op die buffer gestaan en aan kettings gehang wat spesiaal vir dié doel aan die kappie van die bakkie vasgesweis is. Binne is ons soos sardientjies ingepak.

"Ewenwel, jou e-pos het my laat rondkrap in ’n boks met foto’s wat bo in een van my kaste staan en waarna ek jare laas gekyk het. Daar kry ek toe ’n uitgawe van die Perskorhaan en ’n foto wat geneem is die aand toe ons vir Willem de Klerk ’n paartie gegooi het nadat hy besluit het om nie na die PUK te gaan nie, maar as redakteur van Die Transvaler aan te bly. (Die bewoording van foto van Perskorhaan regs is nie hier leesbaar nie.)

Die arme nagkantoor se mense, waaronder Dave (my eks), moes werk terwyl ons gepaartie het. Hy was natuurlik glad nie beïndruk met my toestand teen die tyd dat ons huis is nie. Maar wat ’n makietie! Baie seer koppe die volgende oggend.

Links bo: Perskorhaan berig oor die groot makietie. Op die foto (nie tydens die makietie geneem nie) is van links af Otto Krause, redakteur van die SA Financial Gazette, Hermie Hendriks, hoof van Perskorburo, Willem de Klerk, Dirk Richard, redakteur van Die Vaderland, en Harald Pakendorf, redakteur van Oggendblad.  


Bo:  Die feeskoor o.l.v. Johan (Ouboet) Snyman. Van links is herkenbaar Grobbie Grobler, Ona Viljoen, Willem de Klerk, Sieg van Niekerk en Phillippa Breytenbach.