Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

24.2.23

Verskeie oorledenes se name ontbreek

HERMAN SNYMAN laat weet daar is heelwat oudkollegas wat oorlede is maar nie op K’rant se lys verskyn nie. 

ʼn Interessante weglating is die naam van HA van der Merwe, ʼn senior verslaggewer by Die Vaderland. Van der Merwe was die skrywer van die boeke “Meng My Wyn” en “Op die Top van die Mas”, die eerste Afrikaanse boeke wat deur die sensors verbied is. 

18.2.23

Hanlie herleef die wonder van die boom en die Appelvrou

HANLIE VORNBRG skryf: IN die tuin van die huis wat ons drie jaar lank in Kopenhagen gehuur het, het ’n ou appelboom gestaan. Die boom was oor die honderd jaar oud en so hoog soos die dubbelverdieping self. Elke laatsomer, tot diep in die herfs, het die boom in drag gestaan. Swaar en mat soos 'n markvrou met arms vol appels. 

Die takke het in hulle oorvloed af aarde toe gebuig en ons het op ons tone gestaan en gepluk en gepluk. Soms het ons op 'n leer geklim om in die hoogste toppe by te kom maar die boom wou net nooit kaal word nie! 

Wanneer die herfswinde begin waai, het van die appels afgeval en oor die hele grasperk gerol waar sommige verrot en ander deur die slakke toegetakel is. 

13.2.23

Toe ‘sirkulasies’ nog miljoene beloop het

GERHARD BURGER skryf: KOERANTE en tydskrifte spog nie meer met verkoopsyfers nie. Om heel begryplike redes ook. 

Die aand toe die Grootste Afrikaanse Koerant ter Wêreld ʼn fees der feeste gehou het om die verkope van ʼn halfmiljoen eksemplare op een Sondag te vier, is ʼn mooi baken langs die pad van SA joernalistiek. 

 ʼn Engelstalige koerant het op ʼn kol op die verkope van 750 000 aanspraak gemaak en ʼn paar jaar gelede het heelparty SA dagblaaie nog gereeld indrukwekkende “sirkulasiesyfers” op hul voorblaaie aangekondig. 

Almal weet wat sedertdien gebeur het. Deesdae moet ʼn mens weet waar om te gaan soek om die getalle te bekom.