Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

15.11.21

Perskor se aanslag op Nasionale Pers

ANDRÉ LOUW
André Louw se perskaart.
skryf: My storie van Perskor se aanslag in die laat sestiger jare op Nasionale Pers se knusse besetting van Bloemfontein en bykans die ganse Vrystaat, is ’n nederige verhaal maar wat tog vertel moet word; al is dit dan net om my ’n verskoning te bied om in K’rant ’n buiging te maak en ’n voetspoor te laat. 

Peet Simonis
Hoe dit gekom het dat Peet Simonis vanaf Naspers se Volksblad na Perskor gedros het, sal hy beter weet, maar hy is die man wat die pad vir my oop gemaak het om aangestel te word as Die Vaderland en Dagbreek se eerste voltydse verteenwoordiger in Bloemfontein met die ganse Vrystaat as my jagveld. Peet was my mentor by Volksblad en ek het in meer as een opsig in sy spoor getrap. 

8.11.21

Jac de Vries oorlede

CHRISTA DE VRIES
skryf; As oud-Oggendbladder wou ek lankal ingeteken het op K'rant, maar uitstel het meegebring dat my bydrae nou 'n seer een is. Ek sukkel vanaand om die woord "dood" hier te skryf, want doen ek dit, sal dit bly leef. Tog dwing dit my om vertel dat Jac de Vries, my man, op 17 Oktober 2021 oorlede is hier in Engeland ná‘n groot hartaanval die aand van die 15de. Hy sou vandeesmaand 79 gewees het.

 Jac was adjunk-redakteur van Oggendblad toe ek (Christa Coetzer) in 1982 as joernalis daar begin werk het. Ek het soveel van die joernalistiek by hom geleer. Diegene van die redaksie wat ons onthou, sal verstaan dat dit amper logies was dat ons uiteindelik getroud is, sienende dat liefde sy eie paadjie volg. 

Blackie (Swart) Chandler oorlede

Blackie Chandler
JOE VAN BUUREN het laat weet dat Marinda (Blackie) Swart se suster, Chrisna, hom laat weet het dat Blackie gister (Sondag, 7 November 2021) in die ouderdom van 66 oorlede is. 
Blackie was nooit self 'n joernalis nie, maar sy was heel bekend in joernalistieke kringe nadat sy in die sewentigerjare by die berugte Nommer 10 Dittonlaan met 'n spul koerantmense deurmekaar geraak het.