ONA VILJOEN dink terug aan haar koerantdae: WIE onthou nog toe ons in Braamfontein was? Baie onheil wat laatnag daar uitgebroei het. Dit was dikwels verstommend dat daar die volgende oggend ’n koerant op straat was.
Een slimjan het een aand besluit hulle moet my in telekspapier toedraai sodat ons kan sien hoe sterk dit is. Wel, ... ek kon myself nie losskeur nie!
Daar was die keer toe ek en Tienie Prinsloo een middag laat na die een of ander funksie of ding moes gaan, hy om die foto’s te neem. Daar was geen persmotors beskikbaar nie en ons moes noodgedwonge met sy motor ry. Ons is af met Jan Smutsrylaan, maar hoe vinniger ons ry, hoe paniekeriger raak Tienie oor die verkeersligte wat tog ’seblief net groen moet slaan. Die probleem: sy motor se remme het nie so lekker gewerk nie!
Ek wou hom eers met my handsak oor die kop slaan, maar het besluit dit is beter om eerder saam te "bid" vir groen verkeersligte! Ons het darem ongeskonde anderkant uitgekom.
Dan was daar fotograaf Abel Jones, wat gereeld sy gehoorstukkie afgeskakel het as hy nie lus was om te luister nie. So is ons een middag na ’n grênde ete en modevertoning iewers in Rosebank. Abel het skuins oorkant my aan tafel gesit – met sy gehoorstuk afgeskakel. Die modevertoning het begin, maar Abel, wat met sy rug na die loopplank gesit het, was so verdiep in sy bord kos dat niks en niemand sy aandag kon trek nie. Ek was uiteindelik verplig om hom met ’n vurk te gooi. Nodeloos om te sê, hy was dik die donder in vir my.
Ek onthou ook goed die die dag toe ek en Willie Havenga Hartbeespoortdam toe gestuur is om ’n storie te gaan doen oor die restourant oorkant die slangpark wat slangdisse op die spyskaart gehad het.
Die sjef het ons eers kombuis toe geneem en ’n paar vet pofadders uit die vrieskas gehaal om vir ons toe wys hoe die slang lyk wat aan ons voorgesit sou word. Daarna het ons ’n demonstrasie gekry van hoe die slang afgeslag en voorberei word. Gelukkig is ek nie juis bang of grillerig vir slange nie, maar die arme Willie was bietjie groen om die kiewe. Ná ’n bier het hy genoegsaam herstel om saam te smul aan die "slang a la piesang". Ja, piesang gaan glo baie goed met slangvleis, volgens die sjef.
Moet sê... slang smaak nie juis na iets nie... nog vis nog vlees! Sal nooit vergeet hoe ons by Vegkop met sy blêrkas en meisies van die nag gekuier het nie ... en my arme poedel wat moes saam.
Van honde gepraat. Hulle sê altyd as jy vreemde honde van jou grasperk af wil hou, moet jy leeumis strooi. Ek glo dit werk.
Dit was in komkommertyd toe ek en ’n fotograaf dieretuin toe gestuur is om ’n ligte storie te gaan doen oor wat die personeel vir die diere vir Krismis beplan. Daar aangekom, het ’n jong leeutjie in die gange van die kantoor rondgedrentel. Sy ma het nie melk gehad nie en hy moes hans grootgemaak word. Ons is toe met leeu en al na die kurator se huis, waar ek natuurlik heerlik met die dierasie gespeel het. Terug by die kantoor het my poedel oudergewoonte met ’n stink spoed die gang af gehardloop gekom toe hy my stem hoor. Sowat vyf of ses meter van my af het hy ankers uitgegooi en amper gebollemakiesie in sy poging om van my af weg te kom. Stert tussen die bene het hy eers ’n paar keer om my gesirkel voordat hy dit nader gewaag het.
Só het dit die res van die middag gegaan. Die leeureuk was vir hom een te veel.