Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.7.12

Dis bra vaal, die Es-y-bie-sie se rugbytaal

SUZELLE FOURIE skryf: Ek wil graag ook ’n stuiwertjie bydra tot daardie immer-groeiende beurs van irritasies wat deur sogenaamde rugby-kommentators op die arme luisteraars ”losgelaat” word.

Waar, wanneer en waarom het die nare gebruik tog posgevat dat elke liewe siel agter die mikrofoon hulle deesdae soos volg uitlaat:

“…en dis die bal wat oor die kantlyn wip/spring…”
“…en dis die skeidsregter wat die fluitjie blaas…”
“…en dis die grensregter wat sy vlag omhoog hou…”
“…en dis die voorry wat sak vir die skrum…”

Ensovoorts, ad nauseam!

Liewe genugtig, daar is tog net één man op die veld met ’n fluitjie en dis die skeidsregter. As hy dit nie blaas nie, wie anders dan? En hoewel spelers uiteraard dikwels oor die kantlyn beland, kan dit tog net die bal wees wat daaroor wip! En wie anders as die grensregter gaan ’n vlag omhoog hou?

Hierdie manier van kommentaar lewer het nou al so ’n ingeburgerde “mode” op RSG geword, ek wonder of die manne wat dit doen, ooit besef hoe irriterend dit is? Miskien moet iemand hulle op ’n dag maak sit en na hul eie eindelose ge-en-dis-die’s laat luister. Maar dan weer, sal hulle ooit weet wat fout is…? Helaas, ek twyfel. Groetnis uit die Kaap, lank nie meer Hollands nie.

(Snaaks genoeg, dit het my ook vandeesweek opgeval toe ek teen wil en dank in die motor was onderwyl ’n wedstryd gespeel is en ek na die gemors moes luister. En dan is daar die irriterende: “Dis die span van die Vrystaat wat die bal ingooi…” Ons ander sê sommer net “Vrystaat gooi die bal in…” Die teenstanders sal nooit op die Vrystaat se doellyn wees nie, nee, “hulle is op die doellyn van die Vrystaat”. So asof die manne langpad vat om hulle tyd te gee om weer te gee wat voor hulle gebeur. – Red.)